Jongste aktiwiteit:

‘n Droom aan skerwe

Brons, 498 woorde

ʼn Droom aan skerwe

Ek druk my handsak onder die stoel in, netjies uit die pad, en skuif myself mooi haaks op die stoel. Elke skaakstukkie kom nou aan die beurt, elkeen moet presies in die middel van sy blokkie staan, presies reg. Dan laat sak ek my arms langs my sye, maak my oë toe en rol my skouers. Presies soos wat ek en my afrigter geoefen het, gaan ek deur my “pre-match” ritueel.

Vir drie jaar lank werk ek vir hierdie dag. Drie lang jare saam met my skaakafrigter, my lewensafrigter en vir die laaste jaar ook my sielkundige. Ure en ure agter die skaakbord het my gebring tot by hierdie punt – die finaal van die Suid-Afrikaanse Ope Skaakkampioenskappe.

Toe ek opkyk sien ek my opponent aangestap kom, bakarm, die kapokhaantjie van die skaakwêreld – David Connolly, huidige S.A kampioen, onoorwonne vir die afgelope drie jaar. Nog nooit het hy ʼn wedstryd teen ʼn vrou verloor nie.

Ek en my afrigter het sy spel tot in die fynste detail bestudeer, elke spel wat hy in groot toernooie gespeel het ontleed, sy Achilles Hiel gesoek. Saam met my sielkundige het ons sy lyftaal bestudeer, elke klein nuanse in sy liggaamshouding, sy mannerismes. Ek ken vir David Connolly beter as wat hy homself ken!

Na ʼn baie kortaf handskud kan die spel begin. Ek skuif die voorspelbare e4. Dis doodstil in die saal, die enigste geluid die sagte getik-tik van die skaakklok. Ek speel veilig, wag vir Connolly om sy troefkaart te speel, soos ek weet hy gaan. In ons ontleding van sy spel het ons vinnig besef, Connolly kan nie sonder sy ruiters speel nie. Ek wag. Elimineer een ruiter … ek sien hoe ʼn amper frons op sy voorkop verskyn. Met slegs 7 minute oor op my klok sien ek my gaping, elimineer sy tweede ruiter en besef, twee skuiwe – skaakmat. Ek, onbekende skaakspeler van ʼn klein plattelandse dorpie, is die nuwe S.A kampioen. Die wat my ʼn “one-match wonder” genoem het gaan lekker op hulle neuse kyk. Connolly se hande beweeg na sy pet se rand, ʼn duidelike teken dat hy begin bekommerd raak. Sy hande kramp om die pet se rand – hy het die skaakmat gesien en daar is niks wat hy kan doen nie. Hy is vas.

En toe lui my selfoon.

Ek voel hoe ek yskoud word. Die reëlboek vir skaakspelers blaai voor my geestesoog oop. Reël 12.3 b: ‘Elektroniese toerusting is streng verbode …. Oortreding van bogenoemde reël sal lei tot die onmiddellike beëindiging van spel en die opponent sal wen.’ ʼn Naarheid oorval my. Hoe kon ek hierdie basiese ding, dit waarteen ek my amateur spelers op ʼn daaglikse basis waarsku, vergeet? Ek was so gefokus op die uitdaging wat voorlê, so verstrengel in my eie belangrikheid, dat ek nooit my selfoon afgeskakel het nie.

Connolly steek sy hand uit oor die tafel. Met ʼn sarkastiese “Sorry mate”, stoot hy sy stoel agteruit om deur sy aanhangers omring te word.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed