Na die storm. (SILWER)
Na die storm.
Die wind raak stil, die lug is swaar
as die skemer stil in vrees lê en staar.
Die voëls verdwyn, die veld raak leeg
met elke klank wat stil, swaar weeg,
net die nag wat wag as wolke saam skaar.
Die blougewelf breek oop in fakkels van vuur,
en reëndruppels dans – koel en sekuur.
Die bome se arms knak en skeur,
die aarde sidder met blitse wat boontoe beur
terwyl donderslae dreun in die donker uur.
Omhul in die varsheid van reën se parfuum,
glim die hemel soos in ’n goue kostuum.
’n Reënboog straal in hemels vrede, blink
en die son juig warm waar vreugde weerklink.
Die storm se gewoel vasgevang in tyd se vakuum.
©MarleneErasmus
04/12/2024
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2024 – OOP projek