Na Winter – Lewe
Aan die einde van die dag kom ek staan
om bewonderend te kyk na die maan
wat druip bo die son wat rand-oor verdwyn
in eiesoortigheid van gode-skyn.
En in kleur van dié aangeslane goud,
voel ek ‘n sielsverlange skielik koud
soos die wegslaan-asem van die winter
toe die son oor verre rante splinter.
(Ek weet dat met die draaiing van seisoen
juis hiérdie herfs méér blare sal verkleur
tot roeser tint gesprinkel in die groen
omdat die koue nagte langer sleur…)
Ek besien my aar-bespatte hande
ontsier deur kou’ en somer-brande;
sien ook nog op menig ander plekke
vele geil-begiete oumens-vlekke.
Die herfs het my ontydig ingehaal…
Die tekens van die ouderdom verhaal
dat ek as sedertjie ook maar sal val
om blaarloos deel te wees van die getal.
Maar as my Groter Winter eendag daag,
sy wegslaan asem deur my tentjie jaag,
dan sal ek juis my kan verbly in Hom
wat ís wat wás en wéér sal kom!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Estelle
Pragtige gedig en so goed verstaan deur iemand wat al self ouderdomsvlekke begin toon!