Omen (2)
vandag se reste droesem in vore
en nag kruip uit gate in velerlei gewade
‘n hond tjank melancholies laer af in die straat
kinders huppel deur skemer vol kattekwaad
(tuis trek ek blindings dig voor my ruite
en skud skulpgruis uit my jas -…)
vroeër by die see het duine boggelrug gegooi
toe klein klein branders my nader nooi;
pêrel-broos skulpe het verkrummel in my hand
toe my voete versink in sneeuwitjie sand
die wind het geruik na rooigety
ek kon meeue hoor hyg neffens my
die aarde het frank geklad teen my vel
asof water en land iets duister wou vertel
oral het spore in twee geskeur
op ‘n veerbelaaide strand deur sout verweer
veraf het ‘n kind droewig gehuil
waar hy teen droë pramme van sy moeder skuil
alles was vaag, betrokke en grys
toe eb sy skene vir strandlopers wys
kelp het geklewe teen stormwater rots
toe ek jou finaal in die skadukant los
nou luier die donker selfs in my huis
waar ‘n voorbode na foto’s vinger wys
ek sluit my oë en prewel jou naam
bid dat jy my weggaan sal verstaan
(ek trek die blindings weer dig voor my ruite
en skud die laaste skulpguis uit my jas…)
© Almarie Truter
5 Kommentare
-
Arnold
Die lewe is soms so onverstaanbaar.
-
Anze
wow hierdie is absoluut puik!! die ritme laat die woorde sing. Ek buig voor hierdie mooi gedig!
-
Evelyn van der Merwe
Ek ditto die res, hierdie is besonders beskrywend gepen.
-
ElzaS
Jou woorde en gedig is net een woord.... voortreflik!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Baie, baie goed. Jy trek my heeltemal in jou storie in. Jou beskrywings is tops. Welgedaan