Ongehoorsame grootouers
(Woordtelling 1052)
NORMAALWEG sal mens mos nie in ’n ander se huis instap en sy kaste na jou voorkeur herrangskik nie, of hoe? So, waarom dink party mense dat dit okei is om openlik in ’n ander se lewe in te meng totdat dit daardie ander persoon tot die rand van waansin dryf? Wanneer raak jy so ʼn gemaklike beheervraat dat jy dink álmal moet na jou pype dans en dat grense nie vir jou geld nie?
Die feit dat jou kind van jou liggaam gekom het, beteken nie dat hy/sy tot in lengte van dae aan jou ondergeskik is nie. En, dat jou kind nog steeds ʼn “kind” is, al het sy reeds veertig verjaardagkersies doodgeblaas. As julle nie wedersydse respek het nie, hoort julle eintlik nie in mekaar se lewens nie want daar kom ʼn tyd wat jou kind nie meer dink en optree soos ʼn kind nie. Dit mag ʼn verrassing wees, maar jy het nie noodwendig meer wysheid net omdat jy meer jare op jou kerfstok het nie.
Of ons dit nou wil weet of nie, elke geslag maak sy kinders anders groot as die vorige. Elke geslag het unieke uitdagings en moet noodgedwonge daarby aanpas. Dit is normaal en dit is reg. Ek kan nie verwag dat my kinders dieselfde foute met hulle kinders maak, net omdat ek dink mý manier was so wonderlik nie. Wie wil in elk geval hul kinders opvoed met idees wat ʼn honderd jaar gelede gegeld het? Tye het verander, óns het verander, en dit is belangrik om aan te pas by veranderende tye en denkwyses. Jy kan nie vandag se kinders in ʼn tegnologiese wêreld grootmaak op die manier wat vyftig of sewentig jaar gelede gewerk het nie.
Dit maak nie saak of jy die wonderlikste verhouding met jou ouers of skoonouers het nie, ferm grense is altyd nodig sodat julle nie mekaar se emosionele deurdrumpel tot flarde trap nie. Dit is nodig om respek te hê vir ander se huisreëls en dat ander se keuses nie onder ʼn vergrootglas beskou en gekritiseer sal word nie. Dit beteken nie dat daar ʼn toksiese element in jul verhouding bestaan nie, maar eerder dat almal weet waar hulle met mekaar staan en wat toelaatbaar is of nie.
ʼn Goeie verhouding tussen die twee volwasse geslagte is ʼn baie belangrike hoeksteen vir die verhouding met jou kleinkinders. Dit is nié toelaatbaar dat die grootouers agter hul kinders se rug moeilikheid maak en dan voorgee dat botter nie in hul mond kan smelt nie. As mamma gesê het Jannie mag nie ʼn sak toffies ʼn uur voor aandete verorber nie, is dit nie ouma se plek om dit te bevraagteken nie. Erger nog, ʼn uur voor aandete die sak toffies aan Jannie te gee en hom aan te sê om nie vir mamma te vertel nie!
As Jannie se ooms en tannies net hamburgers en vetterige slap aartappelskyfies gekry het om te eet en vandag min of meer gesond lyk, beteken dit nie dat jy nou maar kan sug en jou oë dakwaarts rol wanneer mamma vir Jannie leer om ʼn verskeidenheid groente eet nie. Sy is nie besig om die kind te straf nie, sy is besig om ʼn grootmens met gesonde eetgewoontes op te voed! Dit is jou plig om haar daarin te ondersteun, nie om ʼn klip op elke moontlike hoek en draai in te rol nie.
Die enigste tyd wanneer jy mag inmeng is wanneer daar mishandeling plaasvind. Anders, laat jou kind toe om ʼn grootmens te wees en haar kinders na die beste van haar vermoë groot te maak.
So, waarom kry mens sulke hardkoppige, kinderagtige, moeilike mense wat nie by hul kinders se wense kan hou nie? Waarom laat jy alles toe wat mamma sê nie toelaatbaar is nie? As die ses jarige Jannie toegelaat word om ʼn rolprent te kyk met ʼn ouderdomsbeperking van 13, wat het jy nou eintlik daardeur bereik? Dat jy in jou grootheidswaan dink jy is baie belangrik en dat reëls nie vir jou geld nie? Enigeen se brein gaan vlamvat in so ʼn situasie, veral wanneer grense byna daagliks oorgesteek word.
Wanneer jy weet dat jou wense nie gerespekteer word nie, het jy nie rus vir jou siel terwyl die kleuters ʼn paar uur by Oupa en Ouma deurbring nie. Jy weet nie of die kinders vanaand hul kos sal eet nie, en of hulle dalk vannag deur nagmerries geteister gaan word nie.
Wanneer almal op dieselfde golflengte is, is daar ʼn gevoel van harmonie wat samesyn ʼn absolute plesier maak. Outomaties skep dit ook ʼn veilige atmosfeer en omgewing vir die kinders, wat natuurlik deeglik van enige onderstroming bewus is. Kinders wat veilig voel, het oor die algemeen ʼn beter lewe. Hulle waag meer kanse en kom minder in opstand teenoor gesag, en hulle speel nie die een persoon teen die ander een af nie.
Watter grootouer wil nie hê dat hul kleinkinders moet floreer nie en oulike grootmense word nie? Mense wat heeltyd teen ander se (gesonde) grense terugdruk, leer ook daardie kleintjies dat dit okei is om nie respek vir ander te hê nie. Is dit werklik wat ons vir die volgende geslag wil leer? Is so ʼn persoon onbewustelik besig om ʼn narsis groot te maak en watter regdenkende, gebalanseerde persoon wil dit vir ʼn ander hê?
Grootouers is daar om die kinders te geniet op ʼn manier wat dalk vroeër jare nie moontlik was nie. Dalk moes hulle werk om liggaam en siel aanmekaar te hou, en die tyd saam met jou kinders was min. Om ʼn grootouer te wees beteken nie dat jy jou kleinkinders in die afgrond in mag bederf deur mamma se wense op elke hoek en draai te dwarsboom nie. Daar is geen liefde en wysheid in so ʼn dwarstrekkerige, vermakerige, oumens nie. Inteendeel, dit breek verhoudings af in plaas daarvan om die bande sterker te maak.
Dit is alreeds moeilik vir enigeen om gesonde grense met hul ouers af te dwing, daarom is dit onwys om dit moeiliker te maak, al is dit onwetend. As iemand reguit vir jou sê, kan jy nie maak asof jy dit nie gehoor het nie. Word groot man! Los die kinderagtige gedrag vir die klein kinders en gedra jou soos ʼn verantwoordelike grootmens. Is dit nou te veel gevra??
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2023 – OOP projek