Ou Drome
Dis net na ses in die môre uur,
en die bries blaas koel deur my ruit.
Ek is lank reeds wakker maar lê nog hier,
en staar oor die blou hemele uit.
Ou skimme uit gister se drome
karring aan die snare van my hart,
en nes die wind buite deur die bome,
blaas dit weer nuwe lewe in ou smart.
In gedagtes draai ek die dae terug
na ‘n tyd van jonk en sorgvry wees.
En wonder dan hoe draai mens jou rug,
op drome wat net nooit ooit kon wees.
Weldra verskyn die son oor die dakke
en sy strale begroet die lyne op my gesig.
Die lig breek deur die bome se takke
en dra my na dae van onskuld terug.
Het ek myself dalk in my drome versuip
eerder as om net my voete daarin te doop.
Dan ek toe dalk geweet, wat ek nou begryp
en het my pad dalk oor ander heide geloop.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.