PASPOORT na DINGES
Paspoort na Dinges
Sien, die ding is so: My seun het drie paspoorte: Dit wil sê, hy behóórt drie paspoorte te hê. Nou, natúúrlik behoort hy níé drie paspoorte te hê nie, niemand behoort meer as twee paspoorte te hê nie, is mos teen die wet. Teen die wet van aldrie lande. Maar hoe sal ek dit sê? Hy het – of sou gehad het – drie as die ene nie verloregegaan het nie. Nie duidelik nie? Nie tevredestellend nie? Ek probeer nog ‘n maal verklaar, so goed ek kan.
☼
Kyk, ek is ‘n Sweed, en my seun is, na Sweedse wet, óók Sweedse burger. Sy ma, dis my vrou, is ‘n boerenooi uit Brakpan se wêreld, en volgens Suid-Afrikaanse wet is ook hý Suid-Afrikaanse burger. Daar’s geen probleem nie. Baie mense het dog twee paspoorte, in die meeste state is dit moontlik om één paspoort van één ander land te besit. Kyk na al die Ingelse wat met twee paspoorte in hul gepakte tasse sit en wag dat die poeiervat ontplof. Dan is hulle – as true-and-faithful-english-speaking-south-africans-by-birth-you-know – gou weg en kom anderkant aan as true-and-faithful-british-descendents-returning-home-to-the-fold-you-know by familie en vriende wat vir hulle gaan borgstaan. (‘n Nefie van my vrou, ma se kant, het sý deel van die boedel destyds geneem en ‘n Skotse titel gekoop. Nou leef en woon hy as Laird-of- Something-or-other tussen die skape aan die oewer van Loch Hoesêmens. Hy besit niks nie, net die titel en ‘n bromfiets om werktoe te ry. Maar dis ‘n ander verhaal.) Wat tel, is dat dit sowel hier asook daar wettig is om twee paspoorte te hê.
My seun is in die Verenigde State gebore, in Nieu York om presies te wees, en daar is sy geboort ook as burger geregistreer. En daar het ons om ‘n paspoort aansoek gedoen. En skielik het hy drie. Onversiens, verstaan jy?
Juis hierdie paspoort het ons verloor, sien, ‘n jaar gelede al. Hoe en waar weet ons nie, en elkeen beskimp die ander dat hy (of sy) slordige gewoontes het en nie mooi opgepas het nie. En in die meeste gevalle is dit waar. Wat natuurlik die paspoort en al die ander dokumente nie terugbring nie. Want saam met sy paspoort het ‘n hele pak ander papiere ook verdwyn, sy geboortsertifikaat inkluis. En om ‘n paspoort te kry, moet jy mos ‘n geboortesertifikaat voorwys, nè?
Kyk, om ‘n geboortsertifikaat te kry, is niks nie. Mens gaan mos na die kantoor op die dorp, staan in die slang en, na gewisse wagtyd, gee jy jou besonderhede af en betaal jou fooi; dan na nog ‘n gegewe wagtyd by die huis gaan jy terug en haal jou geboortesertifikaat – of enige ander dokument. Nouja, jy kan miskien kla oor die beamtesloerdery, oor die astrante houding van die amptenaar, selfs oor korrupsie, maar na afloop van ses tot tien weke kan jy die ding in die hand neem en huistoe dra. Alle amptenare oor die hele wêreld is aan hul diensvoorskrifte gebonde, en „die staatsmeule maal fyn”, langsaam maar fyn.
Wee’jy, ook in die state van verenigde Noord-Amerika is daar beamptes of amptenare of aangesteldes wat hul trou gesweer het en verplig is, om fyn te maal. En na al die anthrax- en ander histerie wat hulle moes beleef, om nie van naainelewwen te praat nie, mal hulle minstens picofyn, selfs nanofyn as dit moet.
☼
Aldus: Alle dokumente het ons lankal teruggekry van die verantwoordelike kantore, insluitend ons eie geboortsertifikate, lisensie vir dierie en chipkaart vir darie, maar nog sit die Amerikaanse geboortesertifikaat êrens vas.
Dis so, ons haal toe alle voorgeskrewe formulare by die konsulaat, ordentlik uit- of in-gevul in ‘n koevert gesteek en met geregistreerde pos oor die bloudam laat vlieg.
Na so ‘n week of so kom ‘n epos aangefladder: Alles in orde. Die fooi van 15 Dollar en ‘n self-frankeerde koevert vir die geregistreerde versdending van bogemelde dokument(e) asseblief aan hierdie kantoor te stuur.
Teruggeskryf: Aan welke rekening(-snommer) sal ons die bedrag oordra?
— Nee, u mag nie geld oordra nie, hierdie kantoor neem slegs kontant of ‘n kredietkaart-oordrag uit die buiteland aan.
Nou goed dan, banktoe: Nee, maar om ‘n kredietkaart te verkry, benodig u alle velde of spasies in te gevul het, en hier staan „Uitstaande skulde en metode van delging” nie ingevul nie.
— Tja, maar ek hét geen skulde nie, ek betaal alles mos kontant.
— Àlles? Maar u het dog ‘n motor?
— Van spaargeld, en met hulp van my Ma in Swede.
— Maar … ‘n Huis of ‘n koelkas of ‘n naaimasjien of ‘n tiewie, … ?
— Alles kontant. Of ons besit dit nie.
— Ja, dan moet u iets, enigiets, op skuld koop, sodat ons kan sien hoe u u skulddelging handhaaf, … (Vyftien Dollar, om en by honderd Rand!)
Nogeens terug konsulaattoe: Meer inligting as dit het hulle nie.
Na Pretoria ambassadetoe. Ja maar, meneer, dis mos die voorskrifte, …
Alles per epos, welgemerk.
Aan die kantoor in Amerika: En as ek dit kontant in ‘n brief stuur?
— Nee, meneer, dis teen die voorskrifte. Dan sit dit vas in ‘n brandkas, en u kry dit nie weer terug nie. Nie in hierdie lewe nie. u Nageslag miskien. (Vyfien Dollar!)
Terug te voet tot die verskillende banke, of ‘n ander bank nie miskien ‘n ander kredietkaartestelsel het nie: — Hmm, ja, meneer, ek sien hier u was al by die ander banke, hoekom nou eers na ons kom?
Wáár sien hy dit? Hnnh? (Vyftien Dollar!)
Intussen voortdurende korrespondensie met die land van onbeperkte moontlikhede: Nee, ons neem slegs Amerikaanse valuta aan (geen monopolygeld nie). Nee, ons neem slegs kontant of kredietkaart. Nee, u kan dit nie by die konsulaat inbetaal nie. Nee, ook nie die ambassade nie. Nee, slegs en alleenlik soos ons voorskrifte dit voorskryf! (Vyftien Dollar!)
As dit haadkoppie sou gewees het, was dit só ‘n dik boek al [Wysvinger en duim so agtien tot twee-en-twintig millimeters uitmekaar – ek sidder nog altyd van woed en frustrasie] na ‘n jaar se korrespondensie. (Vyftien Dollar!)
☼
Na ‘n jaar se korrespondensie kry ons ‘n epos van onbekend, spam-waarskynlikheid: nie besonders groot nie. Sal ek, sal ek nie? Ek kyk maar, hoef nie oop te maak nie. Kyk eers van wie dit is. Van die baas van die kantoor in Nieu York. Privaat: — Ek sien hoe u skynbaar in burokratiese rompslomp vasgevang sit. Ek maak volgende voorslag: u Het seker vriende, êrens in die Verenigde State. Skryf aan hulle en verduidelik die probleem. Stuur hulle alles wat vir die aansoek nodig is in die pos, inkluis die fooi, die bedrag vir die geregistreerde pos, ‘n selfadresseerde koevert, en vra hulle om die geld te oordra [wat in die State moontlik is, let wel!] en die paspoort in die self-adresseerde koevert, wat hy moet frankeer, aan u adres in die buiteland te stuur. Met vriendelike groete. …
En dis presies wat ons gaan doen. Het al met my vriend in San Diego geskaaip, en hy willig in. Vanmiddag nog bring ek hierdie pakkie na die poskantoor…
Ekskuus, ‘n oomblik. Die foon lui.
Hallo, ja? – Ja, dis ek. – Polisie? Ja maar wa…? – Hoe sê? Op die rusbank in die inkoopsentrum? – ‘n Jaar al? By julle op die rak en wag om afgehaal te w. . ? – Bankkaarte, ATKV-lidm. . , Geboorts-. . , drie stuk? Reisdokumente? – Ja, ja, ek kom, ek kom. Ek’s in tien, nee twaalf minute daar.
Nouja, so is dit, mos.
Nè?
©…………………………………….$¢…………………………………tje
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Nou kan jy nou meer