Roekelose berou (Brons)
“Wat maak Oom?” fluister Rianca.
“Hierts, vir wat bekruip jy my?”
Hermaans Cloete se lyf ruk en hy tree vies terug van die betonmuur vanwaar hy die bure afgeloer het. Die halfgerookte Peter Stuyvesant klou om lewe en dood aan sy oopgesperde lippe, tuimel dan skielik teen sy lyf af en kom met ’n wip op die grond te lande.
Hermaans trippel rond en slaan vervaard met sy hande oor sy maag en regterbeen op soek na moontlike brandende as. Trap dan vinnig die sigaret dood sonder om sy voet van die verbryselde stompie af te haal.
Rianca begin lag. “Rook Oom tog nie weer skelm nie?”
Vies gluur hy Rianca aan. “En wat daarvan! Dis mý geld en mý longe.” Naderende stemme veroorsaak dat Hermaans Rianca se arm beetkry en haar agter hom aansleep.
“Oom! Stadig!”
Hermaans kyk vinnig terug oor sy skouer. “Daar’s nie nou tyd vir hanna-hanna nie, kom net!” Hy sleeptrek haar verder. Stoot haar by die agterdeur die huis in voor hy ’n laaste keer na die muur tussen hom en sy bure kyk. Sy oë ontmoet twee brandende kykers wat oor die muur na hom staar. Aan haar skelrooi hare sal hy haar op enige planeet herken. Tisha. Die plakker in Nols se huis. Kamstige stiefdogter. Voornemende huisdief, dis wat.
“Oom Hermaans! Genade! Wat is die idee?” Uitasem gaan sit Rianca by die kombuistafel en vryf haar boarm, waarop rooi vingermerke afgeteken is.
“En joune?” Hermaans strompel na die ketel en skakel dit aan.
“Hoe nou?” Sy staar hom vraend aan.
“Aan watter eer het ek vandag se besoek te danke?” vra Hermaans sarkasties.
Rianca staan op en stap na die tafeltjie naby die kombuisdeur. Sonder seremonie lig sy die inkopiesakke, wat daarop staan gemaak is, en plaas dit met ’n dowwe slag op die groot kombuistafel voor Hermaans. “Oom, dis Donderdag. Donderdae bring ek altyd Oom se kruideniers wat Ma stuur, of het Oom dit vergeet?”
Brommend stap Hermaans na die kombuiskas en haal twee bekers daaruit. “Koffie?”
“Asseblief.” Rianca gaan sit, terwyl sy haar hande effens in die lug gooi.
“Hoe gaan dit met daardie mal suster van my?” Hermaans skep vir elke beker ’n teelepel koffie en suiker in. Die ketel kook en skop af en hy vul elke beker, waarna hy een aan Rianca oorhandig.
“Gaan goed, net die gewone klagtes. Sy is bekommerd oor Oom.”
Hermaans plaas sy beker hard op die tafel met ’n verontwaardige snork. “Vir wat? Ek makeer niks. Kan na myself kyk. Het nog altyd.”
“En hier langsaan?” Sy blaas saggies oor die stomende koppie koffie sonder om haar blik van Hermaans te verskuif.
Hermaans kyk haar stil aan. “Langsaan?” vra hy sag, behoedsaam.
“Ja, Oom. Hier langsaan, of het Oom vergeet dat ek Oom flussies gevang het waar Oom die bure afloer?” Sy skud haar kop. “Oom Maans, vir wat grawe die polisie so op oom Nols se erf? En wat gaan met Tisha aan? Sy is nie haarself nie.”
“Nugter weet wat.” Hy voel soekend in sy boonste hempsak. Haal ’n enkele sigaret uit en plaas dit tussen sy lippe voordat hy verder tastend na sy vuurhoutjies soek.
Rianca maak heftig keel skoon en, met ’n sug, plaas Hermaans die sigaret terug in sy hemp se bosak. “Julle ontsê ’n ou man sy enigste ou plesiertjie in die laaste donker dae van sy bestaan. Julle sal nog die oorsaak wees dat ek vinniger die houtjas aantrek.”
Rianca snork verontwaardig. “Ek twyfel of Oom se dokter sal saamstem. In elk geval om terug te kom, wat is die storie met die gegrawery op oom Nols se erf?”
Hermaans staar na haar. “Weet jy nie? Nols het verdwyn. Ek vermoed hy is daar agter begrawe.”
Rianca gaap hom aan. Skrik toe die voordeurklokkie skril skree.
Hermaans staan stadig op en skuifelstap uit die kombuis en in die gang af terwyl harde kloppe teen die voordeur opklink. Hy kyk deur die loergaatjie en haas hom dan paniekbevange terug na die kombuis. “Ek is nie hier nie,” fluister hy en verdwyn in die gang af.
Versigtig stoot hy sy kamerdeur op ’n skreef agter hom toe. Stilte. Dan hoor hy Rianca se voetstappe haastig in die gang, gevolg deur die voordeur wat oopkraak en ’n onbekende manstem. Hermaans plaas sy oor teen die skreef, maar hy kan steeds nie uitmaak wat hulle sê nie.
’n Deur gaan toe en dit word gevolg deur haastige, naderende voetstappe. Vervaard probeer hy padgee, maar sy kamerdeur vlieg oop en hy steier agteroor en slaan amper neer.
“Oom?” Rianca kry hom beet en help hom om sy balans te herwin. “Askuus, Oom, is Oom oukei?
“Mens is nie eens meer veilig in jou eige huis nie,” brom Hermaans.
“As Oom nie agter die deur gestaan en loer het nie, sou ek Oom nie per ongeluk omgestamp het nie. Net skuldige mense kruip agter ’n toe deur weg. Wat is aan die gang?” Sy tree nader en sis: “Oom sal moet oop kaarte speel. Die polisie wil met Oom praat oor oom Nols se verdwyning …”
Verontwaardig gluur hy na haar. “Vir wat? Ek het niks daarmee te doene nie, ek weet niks daarvan af nie. Hulle moet aan daai rooikopgifappel se deur gaan klop, sy weet waar Nols hom tans bevind.” Hermaans skuur verby haar en stap in die gang af in die rigting van die kombuis.
Rianca draf agter hom aan. “O nee, so maklik gaan Oom nie van my ontslae raak nie. Klink my ek moet ’n bietjie met Tisha gaan gesels.”
“Bly jy weg daar! En sê vir my mal suster ek sê dankie vir die kruideniersware. En nou, as jy my sal verskoon, ek het werk wat wag. Jy ken die pad uit.”
* * *
Toe die huis stil is, trek Hermaans die telefoon nader. “Nie meer lank nie, Tisha, dan is jy daar uit,” mompel hy en lig die gehoorbuis. Met die ander hand pons hy ’n nommer in. Dit het skaars gelui of ’n manstem antwoord.
“Môre! Oggenstond-koerant hier, Gericke wat praat. Waarmee kan ek help?”
“Môre, Gericke, ek wil ’n advertensie plaas namens my buurvrou.” Hermaans maak sy keel skoon en verskuif die gehoorstuk na sy ander oor.
“Wat wil u adverteer?” vra Gericke saaklik.
“’n Huis te koop.” Hermaans voel-voel aan sy boonste hempsak, haal die sigaret uit en plaas dit tussen sy lippe. Steek dit dan met ’n sug terug in sy boonste hempsak. Rianca het hierdie klein ou plesiertjie van hom nou heeltemal versuur met haar absurde houding.
’n Kug ruk hom terug na die telefoongesprek. “Skuus, ek het jou nie mooi gehoor nie, seuna.”
“Ek het gevra vir hoeveel die huis geadverteer moet word, en ek kort ’n bietjie meer inligting voor ek dit kan plaas.”
Hermaans gee die nodige inligting, maar hy verswyg sy naam. “Onthou die advertensie moet sê dat belangstellendes vir Tisha de Jager moet kontak.”
“Tisha? Praat ek dalk met oom Maans?” vra Gericke versigtig.
“Hoe … wat …!” Hermaans verstik amper in sy woorde. “Nee, seuna. Jy praat met … um … Karel Pienaar. Ek sal die geld vir die advertensie netnou vir jou stuur met een van die jong latte hier rond. Die advertensie moet dringend in julle koerant verskyn. Dis ’n saak van erns.” Hermaan plaas die gehoorstuk met drif terug op die mikkie. Verbrande Gericke, glads te op en wakker na sy sin.
Toe sy asemhaling bedaar het, tel hy die gehoorbuis weer op en skakel die volgende nommer. Dit lui skaars voordat ’n vrolike vrouestem dit beantwoord.
“Maggie se kafee. Michelle wat praat. Waarmee kan ek help?”
“Môre, juffie, ek wil ’n bestelling plaas vir dertien pizzas vir vanaand.”
“Dertien pizzas! Sekerlik.” Sy kan skaars haar opgewondenheid verbloem. “Watter soorte en vir hoe laat moet dit gereed wees?”
“Nee, julle kan besluit watter pizzas om te maak, maar kan julle dit asseblief stiptelik om seweuur aflewer by Kiewietstraat 18. Die bestelling is vir Tisha de Jager, sy sal met aflewering betaal.”
Hermaans onderdruk ’n proeslag, bedank haar en lui af. Dít sal Tisha leer. Hopelik pak sy haar goed en gee pad eerder as om al die kostes en drama te hanteer. Hy grawe weer in sy boonste hempsak en haal weer die sigaret uit, wat al soos ’n opgefrommelde konsertina lyk. Sy vingers bewe effens terwyl hy die sigaret aansteek. Te hel met Rianca en sy sus. Dis sý longe dié. Hy druk die stompie dood voordat hy die gehoorbuis nogmaals optel.
“Môre! Oggendstond-koerant, Gericke wat praat. Waarmee kan ek u help?”
“Hallo, seuna, man, ek het skoon vergeet van nog ’n advertensie wat geplaas moet word.”
“Met wie praat ek?” vra Gericke.
“Man, dis oom … Willem … Kriek.” Hermaans klink nie eens vir homself oortuigend nie. “Tisha wil ook haar nuwe aërobiese klasse adverteer. Dit begin volgende Maandag by haar huis. Jy kan dieselfde selnommer en adres gebruik as vir die huisadvertensie.”
“Aa, oom bedoel ek praat met ene Karel Pienaar.” Gericke begin saggies lag.
Hermaans vervies hom summier. “Kyk hier, gaan jy my … skuus tog … Tisha se advertensie plaas of nie?”
“Oom Hermaans, kalmeer. Ek ken mos Oom se stem,” probeer hy paai.
“Mannetjie, jy soek nou skoor wat kon gebly het. Ek sal die geld vir die advertensies namiddag stuur. Sorg net dat albei advertensies more in die koerant is.” Vererg plaas hy die gehoorbuis terug.
“Deksels!” Hy moes geweet het dat Gericke sy stem sou herken. Hoeveel jare het Gericke nie vir hulle los werkies in die tuin en huis gedoen nie? Nou ja, dis gedane sake, Hermaans. Hopelik praat Gericke nie uit nie en doen sy jop.
* * *
Dis ‘n week later. Hermaans skuifelstap met die tuinpaadjie langs om sy pos uit die posbus te gaan haal toe ’n aardskuddende gil die oggendstilte versplinter.
“Hermaans Cloete!”
Hy ruk vervaard om. ’n Rooierige beweging by die muur vang sy oog.
“Hermaans Cloete! Kom haal jou groteske bul uit my erf voor ek die DBV bel en die dierasie laat skut! Hy het my blomme vertrap en vreet my gras stomp teen die grond af!”
“My … wat? Tisha is jy dalk op aaptwak of iets?” Hermaans onderdruk nouliks ’n grynslag.
“Luister hier, ek weet dis jy wat die bul laasnag in my erf kom sit het. Glo my, jy gaan ’n klag van diefstal in die gesig staar wanneer ek die eienaar vind.” Tisha se stem raak nog dunner en skriller as gewoonlik.
“Ag, Tisha, gaan rook nog van daai aaptwak van jou en ontspan.” Hermaans stap nader en kyk oor die heining. Aan die oorkant van die werf staan ’n bul rustig en wei. Onskuldig vra hy: “En waar is die kastige bul waarvan jy praat, ek sien niks nie.”
Sy gee ’n gefrustreerde gil, gooi haar hande die lug in, vlieg om dat haar rooi hare daar staan en drafstap terug na die voordeur. “Daai bul beter weg wees teen die tyd dat ek terug is of dis verby met jou, Hermaans Cloete.”
By die voordeur stop sy en kyk terug. “Moenie dink ek weet nie wat hier aangaan nie. My foon lui al heelweek oor my huis wat kamstig in die mark is én vir aërobiese oefenklasse wat nie eens bestaan nie. Om nie te praat van die spul pizzas waarvoor ek moes opdok nie.”
“Soos ek gesê het, ek weet nie waarvan jy praat nie. Gaan rook eerder jou aaptwak en kalmeer, Tisha, en onthou, dis nie jou huis nie. Dis Nols s’n. Jy het sommer net ingetrek en jou tuisgemaak soos ’n plakker, geen agting vir Nols se regte nie.”
Tisha se gesig raak ’n dieper skakering van rooi. “Ouman, jou dae is getel. Jy beter snags met een oop oog slaap.”
“Ja, ja,” antwoord hy gelate en stap terug na sy posbus. Nou moet hy net met Frik reël om sy bul te kom haal alvorens sy dit in haar kop kry om die DBV te bel en die bul te laat skut.
* * *
Hermaans skrik natgesweet wakker en raak onbedaarlik aan die hoes. Hy knipper sy oë wat nou onbeheers traan en probeer die donkerte intuur. Hoes weer onbedaarlik. “Rook?” mompel hy en trek sy asem diep in. ’n Sigaretjie sal die gehoes vinnig genees. Versigtig tas hy na sy bedliggie. Voel die skakelaar onder sy vingerpunte en druk die knoppie.
Niks.
Eskom? Verbrands. Maar wat ruik so verstikkend?
Rook!
Eensklaps sit hy regop in sy bed. Glip sy voete in sy pantoffels terwyl sy longe na vars lug begin skree. Hy trek die laai van die bedkassie oop, haal sy flits uit en skakel dit aan. Die rook dans in die baan van die lig. Vervaard staan hy op en struikelstap na sy kamerdeur.
Geskok ruk hy sy regterhand terug van die handvatsel af. Bliksem. Dis vuurwarm. Wat gaan aan? Brand sy huis? Hoe het dit gebeur?
Hy skuifeldraf na die kamervenster terwyl die rook al digter om hom walm. Hy spook om die venster oop te kry, hys homself op die smal vensterbank en swaai sy been oor. Onderdruk ’n kreet toe sy voet aan die raamwerk haak en hy sy ewewig verloor. Met ’n slag tref hy die blombak onder die venster voordat hy kreunend in die duisternis verdwyn.
* * *
“Oom Maans, kan Oom my hoor?” Hermaans kreun en sy oë beur op ’n skreef oop. Moeg maak hy sy oë weer toe. “Oom, dis Rianca. Oom is in die hospitaal.”
“Dors,” kom dit skor oor sy lippe. Sy keel brand asof die duiwel besig is om vuur te stook vir ’n groot makietie.
Rianca lig sy kop effe, bring die glas na sy lippe en help hom om ’n paar slukkies te neem. “Stadig, Oom, nie te veel nie.”
Met ’n kreun sak sy kop terug op die kussing. “Wat het gebeur? Hoe lank is ek al hier?”
“Oom is al twee weke lank in die hospitaal. Gelukkig het een van die bure gesien dat Oom se huis brand en die brandweer gebel. Dis dieselfde buurman wat op Oom afgekom het waar Oom onder die kamervenster lê.”
“Mý huis?” Hy kry skaars die woorde oor sy lippe.
“Jammer, maar die meeste van die huis het afgebrand.” Rianca trek ’n stoel nader en gaan sit langs sy bed. “Die polise sê die brand het begin met ’n sigaret en die een of ander gestorte brandstof.”
“Nee!” Met ’n kreun probeer Hermaans orentkom.
“Wag nou, Oom. Ontspan,” paai Rianca, en help hom terug teen sy kussings. “In elk geval,” gaan sy onverstoord voort, “een van die ander bure het na vore gekom met videobewyse van hul sekuriteitskameras af. Daarop kan duidelik gesien word hoe Tisha om tweeuur die oggend met ’n kan langs Oom se huis sluip en deur die oop woonkamervenster klouter. Skaars ’n minuut later kom sy weer te voorskyn en nie lank daarna nie, kan ’n mens duidelik die vlamme uitmaak. Die polisie het haar vanoggend gearresteer vir brandstigting.”
Hermaans prewel iets onhoorbaars.
Rianca leun nader en vryf sy hand. “Rus nou eers, Oom. Sodra Oom ontslaan word, kom bly Oom ’n ruk by ons.”
* * *
Vier weke het intussen verloop. Die herbouery van sy huis vorder fluks. Hermaans skuifelstap kombuis toe en loer deur die venster. Geen teken langsaan van Tisha nie. Hy draai om en gaan na die telefoon in die gang. Tel die gehoorbuis op en skakel ’n nommer. Die foon lui lank voor hy hoor hoe die lyn oopgaan, gevolg deur ligte asemhaling.
“Hallo, Nols! Jy kan nou huiswaarts keer. Daai draak van ’n stiefdogter van jou sit in die selle. Het haar lelik misgis met Hermaans Cloete.”
Stilte.
“Nols?”
’n Skel lag klink op. “Middag, my liewe oom Hermaans.” Tisha kan skaars die bitsigheid in haar stem verbloem. “Dankie vir die waarskuwing, maar só maklik raak julle twee outoppies nie van mý ontslae nie.”
“Tisha?” Maans trek sy asem skerp in. “Ma … ma … wat doen jy uit die selle uit?”
“Julle onderskat my! Gedink ek gaan lank in die tjoekie sit, hè.” Tisha lag honend. “Luister hier, jou ou bôkkom, en luister mooi. Jy gaan ophou inmeng in my sake en jy gaan sommer vandag nog na die polisie en vir hulle sê dat daardie video ’n fabrikaat was deur ’n baie jaloerse buurman wat lankal ’n wrok teen my koester.”
“Rook jy alweer jou aaptwak, Tisha? Jy kan dit vergeet, ek sal niks van die aard doen nie,” protesteer Hermaans.
“As Oom wil hê dat oom Nols weer sy eie twee oge op sy geliefde huis moet kan lê, dan sal Oom dit vandag nog doen en met spoed ook.” Tisha se stem styg ’n aks. “Mmm, ek wonder … weet Oom dalk hoe lank word ‘n persoon in die tjoekie gegooi vir die aflê van ‘n vals verklaring aan die polisie?”
In die agtergrond kan Hermaans net-net die sagte fluisterstem uitmaak van nog ’n vrou. Wie sou dit wees? Hermaans verskuif die gehoorstuk na sy goeie oor.
Skaars hoorbaar in die agtergrond fluister die vrouestem: “En sê vir hom hy kan ook sommer gaan aansoek doen by die ouetehuis en sy eie huis aan sy suster skenk – en dít is ononderhandelbaar.”
Hermaans trek sy asem skerp in. Hoor hy reg? Darem seker nie. “Rianca?” vra hy huiwerig. “Is dit jy, Rianca?”
Gedempte stemme in die agtergrond. Het hy hom verbeel?
“Oom Hermaans.”
“Rianca! My ore het my nie bedrieg nie. Wat gaan aan?”
“Ek en Tisha het besef dat ons twee vlieë met een klap kan slaan as ons saam werk. Om Oom se vraag te beantwoord, Oom het my ma destyds haar deel van die familieplaas gekos. Sonder waarskuwing is haar erfdeel onder haar uitverkoop en sy het geen voergoeding daarvoor ontvang nie. Kyk waar sit ons vandag. In ‘n tuinwoonstel agter in iemand se erf en voer ‘n sukkel bestaan.”
Hermaans laat sak sy kop in sy hande. “Wat het ek aan julle gedoen!” Sy skouers begin onbedaardelik te ruk. “Ek … ek is so jammer. Vergewe my.” fluister hy skor. “Ek sal regmaak met julle.”
© Taai Bonthuys, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek