Jongste aktiwiteit:

September 2020 – Liefdesprojek uitslae en kommentaar

Kommentaar en uitslae

WENNERS:

Gedigte:

Goud:
1. No. 21 Anzé Bezuidenhout met Jy is my vrede
2. No. 26 Caren Kearley met Ek wil lewe
3. No. 27 Caren Kearley met Metafoormens

Silwer:
1. No. 2 Morné du Preez met ‘n Tangodroom van Turkye
2. No. 14 & 15 Barbara Smit met Liefde & Amanda De Meillon met My land, my lewe, my liefde
3. No. 6 & 23 Barbara Smit met En passant & Andries Fourie met Skrefieswind

Brons:
1. No. 12 Mariska Smit met Losprys
2. No. 10 Elmarie Nienamber van Kampen met Jy
3. No. 18 Mariska Smit met Eva

Gorrel:
1. No. 1 Marlene Erasmus met Liefde in Joslingstraat
2. No. 3 Ano met Bedwelm deur liefde
3. No. 2 Tania Pascheka met Wat is dit?

Rubrieke:
1. No. 1 Ano met Liefde is … ingewikkeld
2. No. 2 Marlene Erasmus met Die prys van liefde
3. –

Artikels:
1. No. 1 Ano met Waar liefde is, is lewe
2.-
3.-

Verhale:
1. No. 2 Riaan Palmer met As jy vir my lief is, sal jy
2. No. 5 Riaan Palmer met Blake
3. No. 6 Amanda De Meillon met Net die nag sal weet

KOMMENTAAR

GEDIGTE:

3. Abrahamsoffer

Die woord “liefdesgawe” eerder as “liefdegawe”.

Let op die bedoeling agter sekere woorde: in die geval sal jy eerder skryf “nie ver weg op die berg Moria” as om dit te koppel. Die betekenis is anders.

Die vers is ‘n sterk poging wat suggereer op die offer wat hedendaagse boere bring in teenstelling met die wat Abraham sou/moes/kon. Jou vers is werklik goed geskryf. Ek sou voorstel, net ter wille van klem en pouse, dat jy funksie van leestekens ondersoek of die gebrek daaraan, en veral in ‘n groot vers soos hierdie.

Lieflike vers.

4. ‘n Helder pêrelmaan

“Donssagte” en “reëndruppelsoene” het nie ‘n [‘] nodig nie. “Emosioneel” word met ‘n “s” en nie met ‘n “t” gespel nie. Die vers neem die liefde onder die loep, maar in my persoonlike mening op ‘n baie kriptiese manier. Die vers voel soos ‘n mandjie vol idees, wat natuurlik almal gepas en waar is, maar dit vorm nie ‘n suksesvolle geheel nie. Die vers het potensiaal en is getrou aan die opdrag, en ek stel voor jy skaaf bietjie daaraan.

5. Liefde voorspel

Jy gebruik hoofletters in jou vers sonder dat dit deur leestekens voorafgegaan word. Daar is ‘n paar leestekens in jou gedig soos die ellips, ‘n komma en ‘n vraagteken byvoorbeeld, maar ek dink jou vers sou kon baat deur ‘n paar meer. As voorbeeld gaan ek jou eerste strofe hier aanhaal:

“‘n Woeste wind waai deur my hart –

dis bewolk, en dreigende donker wolke

pak saam op die horison;

geen sonskyn word voorspel”

Ek het ‘n [- aandagstreep], ‘n [, komma] en ‘n [; komma-punt] ingevoeg. Lees nou weer die stansa en sien wat ‘n groot verskil dit maak. Dit bied die geleentheid vir die skrywer om te rus, asem te skep en nog belangriker, om die inhoud van jou vers te oordink. ‘n Digter spandeer baie tyd om woorde te kies, te pas en te meet, dit saam te voeg en om ‘n emosie/gevoel/waarheid te pen. Waarom sal die digter dan nie ook gebruik maak van die instrumente in die taal wat die leser langer sal laat vertoef nie? Kyk gerus deur jou verse en oorweeg of jy met my saam stem al dan nie. Dankie vir jou deelname.

7. Liefde
Die metafoor wat jy gebruik om die ontluiking van liefde met blomme te vergelyk is nie ‘n vars idee nie, maar ek dink tog jy het dit veranderlik en vars aangebied. Daar is van die sinne wat vir my stomp eindig wat met woordorde reggestel kan word, maar die gedig lees lekker en dit maak die punt wat jy by die leser wou tuisbring duidelik. Dankie vir jou deelname.

8. Liefde tekort
Dit is ‘n kort maar kragtige vers. Die boodskap, wat vir die leser swaarmoedig mag klink, is juis hoekom ek so baie van digkuns hou. Elke digter kan sy/har aanslag, ervaring en standpunt sterk en duidelik maak. Ek hou baie van die gedig. Welgedaan.

9. Valentyn
Die vers is interessant. Dit blyk asof die oorsprong van Valentyn of die malle (soms kommersiële) oordadigheid. Die oorsprong van die dag het ‘n baie edele ontstaan maar ek kan jou siening respekteer want die waarlike boodskap van liefde word soms gemeet aan die grootheid van geskenke ens. Ek neem aan jy het “Valin tin” opsetlik so geskryf? Ek sou voorstel jy maak gebruik van ‘n vraagteken. Miskien is die ellips ook nie werklik nodig nie, maar dit is persoonlike voorkeur.
Ek stel voor jy oorweeg die sluiting van jou vers so:

“met

selfs niks”
Goeie vers. Dankie.

10. jy
Dit is ‘n heerlike, kort en treffend liefdesvers. Mooi so!

11. Onthou
Twee opmerkings:
1. Indien ‘n vers met ‘n hoofletter begin behoort dit met een of ander leesteken te sluit.
2. “Herinneringe” se spelling is een [r] en twee [n]
Onthou in digkuns het ons ‘n paar wapens om die leser te bekoor, maar die belangrikste hiervan is spelling want dit is die fondasie. As ek dit oor die hoof sien, wat ek nie gewoonlik doen nie (spelling), moet ek toegee dat jy ‘n besonderse mooi en sterk vers in ‘n klein spasie bemeester het.

12. Losprys
Jy het ‘n besonders filosofiese vers geskryf. Ek dink, dalk, besef jy dit nie self nie, dat daar is ‘n universele waarheid in jou vers wat tot die leser spreek. Dit is nie bloot net ’n vermaning nie, maar dien ook as riglyn vir ‘n gesonde verhouding. Jou vers is kragtig op ‘n manier wat dit moontlik maak vir die leser om te verstaan en aanklank te vind. Jy het ‘n besonderse sterk vers in ‘n klein spasie aangebied. Ek het twee baie klein voorstelle wat die vers dalk mag baat.
1. b-e-s-l-u-i-t
2. b-e-k-o-s-t-i-g
Welgedaan met ‘n uithaler vers.

13. Soekende smag
Kom ons behandel jou gedig:

Soos die natuur smag na reën [hoofletter want vers moet met ‘n ? sluit]

en die son daarmee saam

so is my binneste [herhaling van “smag” verwyder]

na oorlewing saam jou [“op” is nie die regte woordkeuse nie; “saam” klink beter]

ook, die blom smag na die by [herhaling van “soos” vermy; “ook” ingeplaas]

op maat vir voortbestaan [maat vervang “natuur se naat”]

so soek my hele wese [so ingevoeg]

met ‘n woelende teug

as die see storm en woed [sinkonstruksie]

golwe wat heen en weer speel

rol my gedagtes klots-klots voort

oor die onkeerbare liefde

wat is die liefde dan sonder jou

behalwe smag-smag soekend?

Kyk gerus na die veranderinge, wat slegs ‘n voorstel is. Op so ‘n manier kan jy herhaling en effens gebruik maak van punktuasie. Jou vers moet met ‘n vraagteken sluit en daarom MOET die vers met ‘n hoofletter begin. Stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com as jy verder oor jou vers wil gesels.

16. Ons uurglas
Die ode is mooi, maar daar is gedeeltes in die vers wat werklik woordswaar is, waar jy gerus die sinne kan knip sonder dat daar ‘n werklike verskil aan die inhoud van jou vers is.
Jou vers het baie potensiaal en dit kan ontwikkel word tot ‘n ongelooflike pragstuk.

17. Ek soek jou
Jou gedig is ‘n mooi ode, maar die sinne is lomp, lank en onnodiglik “oorbeskrywend”. Wat bedoel ek daarmee? Kom ons gebruik een van jou eie strofes en dissekteer dit:

“ek soek jou in my onthou dae
[“onthou dae” is ‘n geykte uitdrukking wat gemaklik met iets vars en opwindends vervang kan word. Naamlik:
1. “ek soek jou in ‘n gister verby”
2. “ek soek jou in die newels”]

terwyl jou oë saggies oor my heen streel
[die woord “heen” in jou sin is “rigtingaangewend” en “streel” is opsigself ‘n “bewegingsgebaar”. Dit sou dan onnodig wees om albei te gebruik. Dit is ‘n goeie voorbeeld van woordoorbodigheid. Die gebruik van “saggies” as verkleinvorm, skaad jou vers. Dit ontneem die emosie.
“terwyl jou oë sag oor my streel”

voel ek die liefde in vervloë dae se insae
[wat beteken hierdie sin? Word die liefde gevoel in gister se insette? Ek persoonlik sal nie die sin so skryf nie, alhoewel die alliterasie van (oe) (ae) (ae) mooi op die tong val.]

die tye van reghelp en menings goed verseël”
[is “verseël” gebruik omdat ‘n vroegtydige dood in die vers beskryf word? Waarom sal dit wees as die digter die strofe begin met “onthou dae”?]

Ek dink jou vers het baie potensiaal, maar jy sal moet knip en ‘n meer kompakte vers oorweeg.

18. Eva
Ek hou van die ritme in die vers. Daar is sommige woordkeuses waarmee ek nie in geheel saam stem nie, maar in die algemeen is die vers heerlik leesbaar. Ek sal voorstel jy eindig jou vers so: “in pleister verpak”. Dit maak die laaste klank sagter en eindig die vers mooier. As jy ritme foneties sou skryf sal dit so klink: ta-tum-ta-tum / ta-ta-tum ta-ta-tum ens. of in enige kombinasie. Die “TA” klank is gewoonlik harder (beklem) waar die “TUM” sagter sou wees. Ek vind dat ‘n versvoet mooier sluit op ‘n sagter klank.

Mooi vers nietemin.

19. Ex facia
Ek wil eers die titel bespreek. Ek moes dit naslaan want ek ken net “facie/faciae”. Die Webster beskryf dit as die aangesig van ‘n selfoon / motorbestuurinstrumentpaneel, en ek moet aanneem dat jou titel dus sinspeel op die aangesig / gesig van ‘n karakter?
Ek dink jou vers is ‘n slim verberging van ‘n baie intieme en sensuele gebeurtenis tussen twee mense. Dit is smaakvol gedoen.
Ek sou dalk “snak uit asem” na “snakkend asems” verander. Hoekom?
1. Is “uit” grammatikaal korrek of is dit eerder “snak na asem”?
2. Daar is iets “oneerlik” aan “asem” aangesien daar meer as een karakter betrokke is?
Ek hou van hoe sensueel-smaaklik jy ‘n “warm” toneel omskryf het. Jy het goed gedoen hiermee. Die pragtige sinspeling met pupil, iris en dan be-oog wat ‘n dubbelbetekenis het. Baie slim!

24. Stilwees in liefde
Jou vers het mooi metafore en beelde, maar jou sinne is swaar en lomp. Dit is oorbeskrywend en het ‘n gebrek aan vloeiende ritme.
Daar is in die algemeen niks verkeerd met die vers nie, maar soms is minder beter as meer. Redigeer jou verse en as jy wil hê ek moet weer vir jou daarna kyk stuur dit aan inkmoderator@gmail.com.

28. Cooper
Kort en kragtige vers. Geen kritiek nie.

SILWER

1. Voor nege
Die gedig is swaar en lomp en woordoorbodig, en alhoewel ek die gedig beeld interessant vind maak baie min in die inhoud vir my sin. Ek weet dit is nie die digter se werk om die leser met ‘n lepel te voer nie dat interpretasie ‘n belangrike rol speel. Tog, moet die leser ook nie so verwar word dat die gedig verlore gaan sonder dat iets daaruit geput kan word nie. Ek sal voorstel dat jy nie noodwendig van die beelde knip nie maar dat ‘n bietjie redigering ‘n aanwins sal wees.

2. ‘n Tangodroom van Turkye
Ek het lanklaas ‘n heerlike ritmiese vers soos hierdie gelees. Die beelde daarin is tasbaar vir selfs die leser. EK het ingetrek en betrokke gevoel asof ek ook deel was van die Tangodroom in Turkye. Welgedaan.

6. En passant
Jou titel wat as “in die verbygang” vertaal kan word is pragtig gepas vir jou vers. Die inhoud is mooi ontwikkel en die beelde is mooi. Ek ervaar effe dwangrym in jou eerste strofe, maar dit is nie so steurend nie. Ek hou van jou verse n dat jy die hemelligame amper perssonifiseer deur dit in verband te trek met die ontmoeting van twee mense so in die verbygang. Ek het dit geniet. Mooi gedoen.

14. Liefde
Ek is altyd baie krities oor geestelik geinspireerde verse. Ek wil graag verduidelik hoekom: baie digters gebruik Bybelverse en/of gedeeltes uit die Skrif as ‘n lui alternatief wat oorspronklikheid inboet. Jy het egter, soos baie min voor jou, nie in daardie strik getrap nie. Jy het ‘n heel oorpronklike invalshoek gebruik en ‘n baie, eintlik ongelooflik interessante vers geskryf.

15. My land, my lewe, my liefde
Pragtige vers met mooi beelde. Ek het geen kritiek hierop nie.

22. Oorgawe in ekstase
Dit is ‘n beeldryke vers. Daar is egter, mynsinsiens, ‘n sintuiglike oordosis met baie swaar beskrywende versvoete. Ek wonder of die vers nie ‘n groter en kragtiger impak sou hê indien jy effe sou knip aan al die vleis aan die bene nie. Ek wil nie die vers afskiet nie, en dink steeds jy het ‘n indrukwekkende gedig aangebied, maar dit kan baat by ‘n woorddieët. Baie dankie vir jou deelname.

23. Skrefieswind
Dit is ‘n heerlike vers wat lieflik ritmies lees en ‘n baie mooi verhaal vertel. Ek het net een grepie kritiek. Dit is onnodig en nie funksioneel om die strofes met ‘n ellips te sluit nie. Ek sou dit persoonlik nie gedoen het nie. Baie mooi werk.

25. Karoonag
Jy het ‘n pragtige Sonnet geskryf. Goeie en baie mooi vers met pragtige beelde.

GOUD:

20. Jou wese
Pragtige vers. Beeldryk. Ek het geen kritiek hierop nie.

21. Jy is my vrede
Lieflike vers. Geen kritiek hierop nie.

26. Ek wil lewe
Geen kritiek. Lieflike vers.

27. Metafoormens
Dit is ‘n heerlike vers. Sensueel en lieflik. Geen kritiek nie.

GORRELS:

Liefde in Joslingtraat (1).
Heerlik komiese verhaal. Jy het ‘n talent vir keurige prosa. Jou aanbieding is werklik besonders, en jou skryfstyl is aangenaam. Welgedaan.

Wat is dit? (2)
Keurig. Ek sal voorstel, al is dit ‘n retoriese vraag, behoort jy vraagtekens aan te bring na so ‘n vraag.

Bedwelm deur liefde (3)
Goed nagevorsde en keurige aanbieding.

RUBRIEKE:

1.Liefde is…ingewikkeld
Dit is ‘n lekker lees rubriek wat baie vrae aanpak wat deel is van die menslike kondisie. Mooi.

2.Die prys van liefde
Ek hou van jou disseksie van die liefde, maar jy het ‘n feite flater ondergaan deur die woorde van 1 Kor 13 aan Salomo toe te wys. Dit is deur die Apostel Paulus, in samewerking met Sosthenus, wat die leier in die sinagoge in Korinte was, geskryf.

ARTIKELS:
1. Waar liefde is, is lewe
Goed nagevorsde, deeglike artikel. Welgedaan.

VERHALE:
1. Hoor jy die engele
Dit is ‘n besonderse sterk vonkverhaal. Jou verhaal lees mooi en jy het jouself goed gekwyt van die taak om die dialoog mooi met die verhaal te integreer. Welgedaan.

2. As jy lief is vir my, sal jy
Ten spite daarvan dat dit ‘n donker verhaal is, het die lewensles in die laaste sin van my ‘n aanhanger van hierdie storie gemaak. Hoe ookal jy ‘n moeder te na kom, haar liefde ken geen perke nie. Baie goed geskryf.

3. Boodskap in ‘n bottel
Dit is ‘n mooi verhaal maar die voltrekking van die storie ontwikkel vir my smaak geheel te vinnig. Sonder nodig karakter- en omgewingsontwikkeling.

4. Sonder liefde
Keurig.

5. Blake
Die slot van jou verhaal het my onkant gevang. Ek was op ‘n stadium self kwaad vir die “man”. Baie slim geskryf. Mooi so.

6. Net die nag sal weet
Hartseer maar keurige verhaal. Die slot van die storie verlig die gemoed. Welgedaan.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed