Skaduwees van gister deur Lynelle Clark
Hoeveel keer moet ‘n mens wegkruip?
Hoeveel keer jou kop laat sak in skaamte, die skouers optrek in ‘n radelose weet-nie gebaar?
Hoeveel keer gaan die skaduwees jou rondjaag en in ‘n hoek vaskeer?
Ons verlede gooi skaduwees, maak nie saak watter oorwinnings of deurbrake ons beleef het nie. Dit is hierdie skaduwees wat ons op en wakker hou. Dit veroorsaak dat ons aan die hare opgetrek word en weer probeer. Daardie ‘totdat’, waarvan die Bybel praat. ‘n Toekomsblik waar die skaduwees en die hede verstrengel sal raak en ons sal seëvier. Die gisters gooi lang skaduwees oor ons dag, die invloed só groot dat ons dit eerder vermy. Dit jaag ons rond, soms in angs en benoudheid.
Skaduwees van ‘nie goed genoeg nie’. Van loop in donkerte, van honger mae, van kinders afsien omdat jy nie meer vir hulle kan sorg nie. Dit put jou uit, daardie heeltyd se wegkruip. Die vrees om ‘n foon te antwoord, want – maak nie saak wat jy doen om dit te omseil nie – dit haal jou weer in. Hulle kry weer jou nommer. Al wat hulle ken is nommers. Nommers wat jou slapelose nagte gee. Syfers wat jou dryf tot raserny. Naderhand is jy net ‘n nommer. Die menslike element verlore agter burokrasie en red tape. Ongeag die probeer en leë beloftes kom dit weer soos ‘n kat terug. Dit vind altyd jou adres.
“Die kat kom weer, want hy wil nie langer wag, die kat kom weer, net die volgende dag. Die kat kom weer, glo vir my dis waar, die anderdagmôre was die kat weer daar” – Jan Wilson had ‘n kat!
Wanneer dit jou vir die eerste keer gevind het, dink jy jy kan net die deur toemaak en hy sal verdwyn. Maar hy bly opdaag, elke keer wanneer jy op jou swakste is. Voos geslaan en moeg van worstel, dan staan hy by die deur. Met geen oplossing om voort te gaan nie, is hy daar. ‘n Getroue waghond met ‘n lewe van sy eie wat jou sonder asem laat. Leeg soos ‘n dop. Sy kloue monsteragtig, hy weet presies waar om jou te haak en mee te sleur.
Vandag nog jaag die skadu’s my rond. Maak nie saak hoe hard ek werk of hoeveel ure ek insit nie. Dit koggel my aanhoudend, die donkerte net anderkant die flikkerende lig. Dit bly wink, dit bly herinner aan daardie dae wat warm water skaars was. Aan die koudste dae met geen hitte. Die ure op die knieë rondkruip om die gras respektabel te hou. Die vrees vir winkels.
Glo dit of nie, maar winkels kan ook skaduwees gooi. Hul ware só mooi uitgestal, laat jou vreesbevange en vasgedruk voel en jy wil net weghardloop. Die vrees vir keuses. Dit oorweldig jou en laat jou wees. Jy vermy dit heeltemal. Die informasie en bombardering té veel om te hanteer.
Wat kán ek doen dat hy my adres verloor? Afgesonderd, eenkant, weggesteek hou hy my in ‘n donker kokon. My toekoms verskans agter skadumure. Op die oog af lyk als goed. Vasgevang in sy grepe dwaal ek soos ‘n blinde op my eie Damaskuspad, waar iemand my daagliks rondlei. Waar besluite geneem word namens my. Wanneer ek moet eet, wat ek moet eet. Waarheen om te gaan. Vasgevang op een plek, totdat die skille afval en ek weer kan sien.
Wanneer sal die Lig my lei na Reguitstraat?
My knieë; my enigste behoud. Om sodoende die skaduwees van gister altyd in die verlede te los. Daar waar ek weer duidelik kan sien en die skadu’s van gister vir altyd hul houvas op my verloor.
Kopiereg voorbehou
Spore van Genade, ‘n Liefdadigheidsprojek
Nou beskikbaar
Foto geneem deur Theuns de Bruin
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.