Jongste aktiwiteit:

Sus se boomstem.

Sus se boomstem.

Lank, lank gelede is daar ʼn blonde krulkopdogtertjie gebore. Haar naam was Marlé, maar gou-gou was sy bekend as Sus onder almal. Sus se ouers het haar mooi opgevoed en het haar vertel van al die dinge wat die wêreld vir haar kan bied. Met die lesse wat Sus so dikwels gehoor het, het sy besluit om ʼn soet en voorbeeldige kind te wees wat haar ouers se woorde sal onthou.

Sus was ʼn regte klein dromer wat daarvan gehou het om in die natuur te wees. Sy stap rustig deur die pad wat lei na die wingerde. Onder in die boord staan ʼn groot ou wilgerboom met sy takke wat waai in die wind.

“Die arms wuif vir my en lok my nader”, dink sy terwyl sy in die skadu-ryke gras neerval.

“As hierdie boom met my kon praat sou ek darem lekker kon gesels.” Sy haal haar storieboek uit en begin lees.

“Ja! Jy wens ek kan praat?”

Sus kyk van haar boek af op, skud haar kop en kyk om haar rond. Sy glimlag en wonder of sy besig is om haar varkies te verloor. Sy is heeltemal alleen en sien geen mens nie. Sy slaan weer haar boek oop en lees haar verhaal verder.

“JY! Ja – ek praat met jou Sus!”

Sy spring orent en staan verskrik paar tree weg van die ou wilgerboom wat ewe skielik koue rillings langs haar rug laat afhardloop.

“Dit kan nie wees nie! Waar het jy nou al gehoor van ʼn pratende boom?”

“Moenie so verskrik lyk nie, ek sal jou niks kwaad aandoen nie. Kom sit hier by my.”

Sus stap huiwerig nader en gaan sit weer op die groen gras.

“Ek is al vir ʼn hele tyd bewus van jou wat so rustig en vroom hier by my kom sit. Ek weet jy is dié voorbeeldige dogter waarvan almal praat, maar ek weet jy wonder hoe dit sal voel om nie so soet te wees nie!”

“W-www-wat?” stamel Sus as sy stip na die boom voor haar staar.

“Dit kan mos nie wees nie, dit is mos net in my kop wat ek lankal wonder oor die verbode dinge wat ek nie mag dink nie!”

“Ja, ek weet jy wonder hoe dit sal wees om saam die kinders van jou klas te gaan drink en rook!”

“Nee! Hou op, ek weet nie waarvan jy praat nie!”

Sus se lyf begin bewe asof sy koud kry, maar die son skyn heerlik warm op haar vel neer.

Sy besluit om haar boek op te tel en verder te lees, vasbeslote om haar nie aan die ‘stem’ te steur nie. Dit kan mos nie gebeur nie. Haar ouers het haar opgevoed om die regte keuses in die lewe te maak.

Sus staan op en maak reg om huis toe te gaan. Sy stap vinnig weg en hoor die stem al koggelende agter haar aanroep: “Jy sal terugkom, ek weet jy wonder. Ek weet, ek weet, ek weet …”

Sus stap die huis in, reguit kamer toe om haar gesig met koue water te gaan spoel. Sy wonder of sy besig is om siek te word, het sy dalk koors of kan dit wees dat sy hallusineer?

Die volgende oggend by die skool kyk sy met nuuskierige oë na die groepie wat agter die bushalte gaan sit. Kwansuis om die toets te bespreek, maar kort voor lank hang die reuk van sigarette swaar in die lug.

Sal sy nadergaan en kyk? “Miskien moet ek maak of ek toevallig daar verby loop en dalk roep hulle my nader om by hulle aan te sluit.”

“Nee! Onthou wat mamma altyd vir jou vertel het van keuses, een verkeerde keuse en jy kan baie maklik jou beginsels vergeet!”
Sus draai om en stap na die biblioteek.

Die middag na skool stap sy weer na die ou wilgerboom.

“Ek is doodseker ek het my verbeel!”

Sy stap en sak neer, kyk op na die wuiwende takke bo haar. Sus maak haar oë toe, seker dat sy haar die vorige dag haar verbeel het.

“Jy kan maar jou oë toeknyp, ek is hier en ek het geweet jy gaan kom.”

Sus knyp haar oë stywer toe en begin saggies neurie: “Jy is nie regtig hier, jy is nie regtig hier. Jy kan nie praat, jy kan nie praat …”

“Hahahaha Hahahaha,” koggel-lag die wilde ou Wilgerboom haar uit.

©Marlene Erasmus
(738 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed