Latest Activity:

Die val van dokter Varkman

DIE VAL VAN D0KTER VARKMAN
Opgedra aan ‘n dierbare vriendin
Truda Rijkheer
† 29 Oktober 2022

Geskryf deur Fanus Strydom
3752 woorde

Bokant my kop, en digby die laaghangende plafon, proes en stotter die lugversorger moedeloos aan sy amper-onmoontlike taak. Te danke aan die soveelste, snikhete Kakamas-in-Desemberdag stoei die koelmaakmasjien moedig, maar vergeefs, met die taai, warm lug. Dis nog vroegoggend, maar die hitte sypel reeds deegtaai en drukkend deur die plat sinkdak van my klein spreekkamertjie toe die foon lui. Gewoonlik antwoord ek nie wanneer ek besig is met ‘n pasiënt nie, maar iets beweeg my om tóg maar die gehoorbuis op te raap:

“Hallo…” knyp ek die die mondstuk onder my een oor vas. My ander hand rus op die nek van die pasiënt op die behandelingsbed voor my.
“Dokter Fanus…?”
Daar is ‘n dringendheid aan die vrouestem aan die ander kant.
“Ja..?” be-aam ek.

Ek het lankal opgehou om aan die mense hier te te probeer verduidelik dat ek nie ‘n dokter is nie, maar ‘n Komplimentêre Geneesheer. Daar is ‘n groot verskil. Die een werk met gebreekte bene, gebarste derms en bloed. Baie bloed. Ek nie. Bloed laat my onmiddellik flou neerslaan. So ek het jare gelede al die minder grusame rigting van geneeskunde ingeslaan om die vernedering van gereelde flouword vir ewig te vermy. Spinale rehabilitasie en werwel-manupilasie is meer my ding. Dít tesame met die welstand van siel en gees, te danke aan my swaarverdiende, addisionele kwalifikasies in sielkunde en domineeskap. Die vele goudgeraamde grade, diplomas en sertifikate teen my muur uitgestal, was veronderstel om díe onderskeiding duidelik oor te dra. Maar vir die mense van hierdie verre, Noord-Kaapse geweste het ek gou bekend geword as “Dokter Fanus” en klaar. As jy eers ‘n vreemde, meganiese behandelingsbed in jou praktyk daar op die plot staangemaak het en jou hande onbeskaamd op die sielsiekes en seergekrydes op die ding voor jou lê om hulle seer uit te vryf, of uit hulle koppe uit te praat, dan is jy ‘n dokter, en basta met die res.

“Dis Hettie hier by die slagpale…” sê die stem aan die anderkant.
“Hettie, ek kan nie nou praat nie, ek is besig met ‘n…” wil ek vir haar sê dat ek nie nou kan praat nie, want ek is besig met ‘n pasiënt en dat dit onprofessioneel en onregverdig is om inbreuk te maak op sy behandelingstyd, maar sy val my ronduit in die rede:
“Jy moet dadelik kom. Hier’s ‘n noodgeval…”

In my geestesoog sien ek onmiddellik en in klinkklare detail die moontlike, grusame toneel voor haar by die slagpale. Het een van die slagters se hande dalk per ongeluk in ‘n elektriese saag beland en lê díe nou afgesaag, en krampagtig klouend na lewe, op die vloer voor sy voete in ‘n vinnig-groeiende plas bloed? Of dalk ‘n hele arm, afgeruk kort duskant die elmboog deur ‘n worsmasjien en nou reeds halfpad gemaal, gekrui en styf gestop in ‘n dik-gerolde worsderm? Ek voel die floute opwel in my nekslagaar…

“Bel vir dokter Harmse…!” gil ek in die foon in, “…of die ambulans!” Enige-iets om net die gedagte van bloed en derms en afgesnyde ledemate uit my geestesoog uit te dryf!

Op die bed voor my begin oom Koos Vermaak ongemaklik rondskuif. Hy het vroegdag vanmôre al vanuit Upington-distrik gery om betyds te wees vir sy rugbehandeling by my op Kakamas. Die gevallery van hom van die windpomp af nou die annerdag het meer as die wind uit sy seile gehaal. Toe hy vooroor-gebuig en krom die volgende dag by die veeveiling op die dorp opdaag, het een van die boere hom vertel van die nuwe rugdokter op Kakamas en sy vreemde, nuwe behandelingsmetodes. Oom Koos was aanvanklik skepties, maar die ondraaglike pyn tussen sy blaaie en die boer se versekering dat die nuwe doktertjie se behandeling regtig werk, het hom oortuig om tog maar te kom kyk wat die mannetjie kan uitrig. Sonder om te bel vir ‘n afspraak het hy met dagbreek al op my voorstoep opgedaag met ‘n halwe skaap in ‘n kartondoos en ‘n boks vol hanepoot-druiwe as betaling vir my dienste. Nou begin hy ongeduldig raak met my tydmors op die telefoon. Hy soek my (beweerde) genesende hande op sy seer rug en nek, en nie in die oor van die praatsugtige Hettie Havenga by Kakamas se slagpale nie.
“Uh-ummm…” maak hy keelskoon vanuit sy ongemaklike, kop-onderstebo posisie op die bed.
“Askuus oom…” fluister ek in sy rigting en druk sy gesig weer sagkens, maar ferm terug in die klein gaatjie van die bed onder hom, om hom gerus te stel en te verseker van my onverdeelde aandag. En om te verhoed dat sy onnodige gerondrollery my harde werk van die afgelope halfuur weer ongedaan maak. Toe hy weer die vernuftige drukkings van my vingers op sy seergewerkte nekwerwels voel, sug hy en sak sy skouers weer gewillig terug op die bed.
“Ahhh….” laat hy my weet dat hy voel hoe my (beweerde) genesende hande hulle werk effektiewelik doen.

“Man doktertjie, jy moet kom. Hier’s ‘n vark en hy’s in nood!” ruk tant Hettie my aandag opnuut terug na die slagpale toe en ‘n vark in nood…

“’n Vark..!?”
Ek begin half-histeries lag van verbasing en verligting. Dankbaar by die skielike wete dat die afhand-man klaarblyklik nooit sy hand verloor het in ‘n grusame plas bloed nie en die wors genadiglik sonder ‘n halwe arm aan die ander kan van die worsmasjien uitgekom het.
“Noumaar bel dan vir Smittie die vee-arts, Hettie. Ek werk nie op…” wil ek vir haar sê dat ek nie op diere werk nie. Maar weereens knip sy my verskoning kort:
“Smittie moes vroegdag al uit Keimoes se kant toe daar na Koos Donkie se plaas toe om sy bul se saad te loop tap. Die stomme dier loop mos al dae lank rond met ‘n balsak vol saad, want die koeie is skielik vol geite en nukkerig vir sy aandag en weier dat hy hulle klim…”
“Hettie..!” probeer ek haar stop, maar sy hoor my nie meer nie en kwetter ongestoord voort:
“…nou moet Smittie die saad loop tap en vries, want daai bul was peperduur en Koos sê hy kan baie geld kry vir sy saad by die veeboere oorkant die rivier in die Vrystaat, of dalk Kaap se kant toe. Nou staan hy wydsbeen en stokstyf gestrand met ‘n blougeswelde balsak daar bo langs die kanaal…”
“Hettie, hou asseblief op! Ek wil nie…”
Met my rug nou op oom Koos gedraai probeer ek moerig vir Hettie Havenga by die slagpale verduidelik dat ek nie wil hoor van ‘n vark in nood, of ‘n bul se blougeswelde skrotum, of sy duur saad nie en dat ek geen intensies het om my kliënt netso in sy ongemak te laat lê nie. So, sy sal maar ‘n ander plan moet maak, wou ek nog byvoeg, toe sy sê:

“En jy het mos annerdag daai gekrokte Kombi by Sakkie Slingerland se scrapyard gekoop. So, kry hom en jou gat in rat en kom haal die bleddie vark..!”

Nou het sy sopas ‘n baie teer saak aangeroer en ek voel die woede opwel in my keel. Ek gluur na haar denkbeeldige gesig in die gehoorstuk van die telefoon in my hand en blaf ontstoke terug:
“Daar’s niks fout met my bleddie Kombi nie, tannie! En ek sal kom en gaan soos en wanneer ek wil..!”

Die voertuig ter sprake was ‘n stokou, mosterdgeel, dubbelkajuit Volkswagen Kombi-bakkie uit die jaar 1963; die jaar van my geboorte. Ek het nog altyd gedroom om eendag so ‘n motor uit my geboortejaar aan te skaf en toe ek die dag die verwese ou bakkie by Sakkie se werkswinkel/skrootwerf sien staan, was ek onmiddellik verlief. Vele leë beloftes later van Sakkie se kant af dat die ou girl nog baie myle in haar tenk het, en net bietjie afstof nodig het hier en daar, was ek maklik oorgehaal. Met die rande uit my bankrekening en in sy sak was die transaksie gou beklink. Tydens ons nooiensvaart oppad terug plot toe van die werkswinkel af het die Kombi – vir die eerste keer – spoegend en in ‘n bol grougrys rook tot stilstand gestotter. Reg in die middel van die brug oor die Oranjerivier op die N1 hoofpad tussen Kakamas en Keimoes. Ten volle aanskoue van elke boer oppad dorp toe, boervrou oppad terug van die dorp af en vele karavaanslepende vakansiegangers oppad wie weet waarheen. Iedereen moes onvermydelik spoed verminder om hulle te vergaap aan die rokende, mosterdgeel wa gestrand reg in die middel van die brug. En die hoogs-ontstelde man en sy skaaphond wat hygend voor die rookbol uit probeer vlug rivier se kant toe. Die vernedering en hulle gapende grynslag-gespot was vir ewig in my gewonde gewete ingebrand. Ek soek na nog woorde om my verontwaardiging teenoor Hettie Havenga uit te spreek, toe sy kortaf tot die punt kom:
“Moenie jou gat vir my wip nie, doktertjie!”
“Klik…”
In my hand hang die doodgedrukte telefoon skielik leweloos en stil.

In die gat op die behandelingsbed voor my lê daar net ‘n opgevrommelde handdoekie waar Oom Koos Vermaak se gesig ‘n oomblik vantevore nog was. Deur die venster sien ek hom skeef-skeef, maar haastig, aanstap na sy bakkie toe. Oor sy skouer hang daar iets wat lyk na ‘n halwe skaap. Ek storm voordeur toe. Op die voorstoep val ek amper oor ‘n leë, bebloede kartondoos en sien Oom Koos in ‘n stofwolk wegjaag hek se kant toe. Ek wou nog skree en waai vir hom op terug te kom, maar hy het reeds links gedraai by die hoofpad terug Upington se kant toe. Lighoofdig by die gedagte aan ‘n ontstoke, verlore kliënt en by die aanskoue van ‘n bebloede, leë boks by my voete sluk-sluk ek aan die naarheid in my keel.

“Wat het jy vir tant Hettie gesê..?!” vra ‘n stem agter my op die voorstoep. Ek skrik en tol op my hakke om. Soos ‘n engel in ‘n songeel sonrok, staan Saartjie Saaiman kaalvoet en bruingebrand in ‘n ligkol op die voorstoep. Met haar hande op haar jongmeisie-heupe en haar kop half-eenkant toe gedraai, glimlag sy skalks vir my. Toe ek onbeskaamd na haar lenige, lang bene in die sonlig bly staar vou sy haar hande voor haar ronde borsies en sê:
“Ek wag…?”
Ek ruk my blik terug na haar oë en stotter skielik onsamehangend en skaam:
“Ek het net…hoe het jy?…hoe weet jy van tannie Hettie…?”
“Sy het my gebel. Gesê jy het jou gat vir haar gewip…” Saartjie staar kamma-kwaad na my, maar ek sien die lag in haar pragtige, seegroen oë.
“Sy het my vertel van die vark.” ignoreer sy my geblosery.
Ek soek nog na woorde om my waardigheid te probeer red, toe sy my voorspring:
“Kom-kom…daar’s nie tyd vir praatjies nie, ons moet ry. Kyk jy solank of jy die Kombi aan die gang kan kry…” Toe draai sy om en stap haastig weg die gang af agterdeur se kant toe.
“En bring daai leë doos by jou voete saam…” hoor ek haar vanuit die voorhuis skree. Gelukkig sien sy nie hoe ek opnuut bloos by die gedagte nie. Vir ‘n oomblik hang haar blomvars-parfuum nog in die koel stoeplug rond, maar toe is dit weg…Ek knyp die bloederige boks versigtig tussen een duim en voorvinger vas en dra-sleep die ding vies agter my aan om die huis.

Genadiglik spoeg die Kombi met die derde draaislag van die sleutel tot lewe en krap-krap ek aan die ratte om die ding onder die druiweprieël uitgestoot te kry. Oor die werf kom Saartjie ,steeds kaalvoet, haastig aangestap met ‘n groot staaltrommel in die een hand.
“Wat’s daai..?” roep ek bo die enjin se geraas by die klein kantvenstertjie uit.
“My toolbox.” sê sy en lig die swaar trommel sonder moeite op die Kombi se agterbak. Tussen die blougrys rookwolke sien ek die spiere speel op haar bruingebrande bo-arms.
Van die anderkant af kom Slingervel aangestrompel met ‘n groot konka vol water en ‘n streepsak oor sy een skouer. Hy sukkel om die konka agter op die bak gelig te kry, maar voor ek kon uitspring om te help is Saartjie klaar agterop en help hys sy die swaar drom op die bakkie en skuif dit tot teenaan die agterste venster. Slingervel sit die kartondoos – bloedkant ondertoe – op die vloerpan neer en gooi die streepsak oop daaroor. Toe maak hy homself gemaklik tuis daarop tussen die drom en die agtervenster. Langs my gly Saartjie rats by die groot swaaideur in en skuif haarself reg op die voorste sitplek.
“Toe-toe, kom ons ry..!” lag sy in my rigting en klap my speels teen my kop, deeglik bewus van my blik op haar sonbruin kuite.

Vir een, korstondige oomblik beleef ek een van die gelukkigste tye in my lewe. Met die wind in ons hare ry ek op die ooppad met die meisiekind waaroor ek saans vreemde, onrustige drome droom langs my op die voorste sitplek van my droomkar uit my my geboortejaar. En, kiertsregop en rooitong-opgewonde tussen ons, my getroue skaaphond Tic-Tac. Onder ons sing die enjin ‘n vreemde, nuwe lied. My witgeklemde kneukels ontspan effe op die groot, wit stuurwiel en ek kyk na haar. Sy lag met haar gesig half by die venster uit teen die wind in en wys na ‘n reuse Kokerboom in die vêrte…
“Waarvoor is die streepsak..?” vra ek in haar rigting.
“Wat..!” skree sy terug. Die enjin se geraas en die wind maak dit moeilik om te gesels.
“Die streepsak..!” sê ek harder en wys na die agterkant van die bakkie.
“Dis vir my om op te lê…” hoor ek haar skaars bo die wind. Sy sien die vraagteken op my voorkop en lag net weer by die venster uit.
“En die water..?” wil ek weet. Díe keer hoor sy my:
“Dis vir die vark…” antwoord sy en meet my reaksie. Ek maak ‘n gebaar met my lippe en knik my kop, asof te sê: “natuurlik…water vir die vark. Wie sou nou nie daaraan gedink het nie..!?”
“En die boks..?” los ek die ergste vir laaste.
Sy wys na my en sê iets met haar mooi, rooi lippe, maar die wind waai die woorde by die venster uit voor ek kan hoor wat sy sê.

By die slagpale aangekom groet Hettie my skaars, maar beduie darem vir Saartjie waar ons die vark kan kry. Die arme ding was inderdaad in nood, aangesien hy ‘n mak troetelvark was wat op een of ander manier tussen die ander slagvarke op die trok oppad slagpale toe beland het. Miskien wou sy eienaars hom nie meer hê nie en het hulle, in hulle wreedheid, besluit om hom maar saam te stuur na sy ontydige dood toe. Gedink niemand sou hom uitken tussen al die ander terdoodveroordeeldes nie. Die feit dat hy pikswart, yslik groot en hondmak tussen al die ander kleinerige, pienk en paniekbevange slagvarke in die middel van die trok gesit het soos ‘n kolossale teddiebeer, het hulle klaarblyklik heeltemal ontgaan. Maar Hettie Havenga het hom dadelik raakgesien die oomblik toe die trok voor haar kantoorvenster verbyry oppad aflaaidok toe. Met haar logge lyf het sy by die voordeur uitgestorm en vir die drywer probeer skree om te stop. Toe hy haar nie hoor, of wou hoor nie, het sy kortpad anderkant om die watertenks gevat en prontweg voor die drywer in die pad gaan staan met albei arms wyd oopgesper en hom gedreig om te stop. Aan die kwaai kyk in haar oë moes hy gesien het die antie wil nie mee gespeel word nie en het hy geen ander keuse gehad as om die trok net daar, in die middel van die pad, tot stilstand te bring nie. Vir ‘n volle uur of wat is die hele slagpale-roetine totaal tot stilstand gedwing, terwyl Hettie bevele uitskree en orders gee oor hoe om die vark, veilig en ongedeerd, tussen al die ander van die trok af te kry, sonder dat die hele spul op loop gaan die veld in, of dorp se kant toe vlug. Met die vark veilig van die trok af en gespaar van ‘n sekere en wrede dood danksy Hettie Havenga se dapperheid en flinke optrede, het sy my geskakel om hom te kom haal. En dit is waar ons hom toe kry; rustig aan’t vreet aan ‘n handvol geelwortels in die koel skaduwee van ‘n Peperboom langs die buitegeboue van die slagpale. Sonder te veel moeite kon ons hom oortuig om ons te vertrou en het hy lomp en loggelyf teen die oplaaiwal opgestap agter Saartjie aan tot teenaan die Kombi se agtervenster. Daar het hy kiertsregop en sonder seremonie, langs Slingervel, op die streepsak gaan sit en kon ons uiteindelik ons ry kry weg van die afgryslike dal van doodskaduwee af. Die plan was om hom na Augrabies te neem waar iemand hom sou aanneem en reeds op sy aankoms vir ons gewag het. Dus draai ek die Kombi se neus regs by die grootpad in die rigting van Augrabies en druk die rathefboom na derde toe om spoed op te tel vir die kort rit na redding vir die vark op die bak in my truspieëltjie.

Alles verloop glad en ons vorder goed, alhoewel ek agterkom dat die Kombi swaar trek onder die ekstra gewig van die vark op sy laaibak. Ek sien hoe die temperatuurnaald vinnig begin klim in die rigting van die rooi, maar ek sê niks en bly hoop vir die beste. Oomblikke later, en presies by die afdraai Augrabies toe, tref die noodlot egter soos ‘n donderslag uit die bloute. Die Kombi is meteens morsdood onder my voete en die bekende grysblou rook begin van die vloer af by die kajuit inborrel. Kort voor lank staan ons finaal gestrand in die middel van die pad met net die ooptes om ons en die twaalfuur-son regbo ons koppe in die glaswit lug. In albei rigtings voor en agter ons verdwyn die teerpad in glimmende lugspieëlings op die horison. Ek sak vooroor en rus my kop op my arms teen die stuurwiel.
“Ag Here, wat nou…” prewel ek moedeloos teenoor die dooie instrumentpaneel voor my gesig. Toe ek uiteindelik opkyk gaap die passasiersdeur langs my wyd oop en Saartjie en my hond is weg. Vêr in die klipperige veld sien ek vir Tic-Tac ronddraf en beenlig teen elke beskikbare bossie en miershoop. Van agter die Kombi hoor vir Saartjie praat:
“Slingervel, bring die streepsak en gooi hom oop hiersô…” Ek leuen half by die oop deur uit en sien hoe sy aan handlanger beduie waar hy die streepsak, half-onder die Kombi se agterstewe, in moet oopgooi. Sy het reeds haar gereedskapkas oop op die warm teerpad langs haar en begin doelgerig vroetel na moersleutels en goeters. Toe trek sy die songeel sonrok hoog teen haar pragtige bobene op en seil seepglad onder die kokende onderstel van die gewonde wa in tot net haar onderlyf en twee duinbruin, lenige bene en kuite by die kant uitsteek. Haar rooigeverfde toonnaels vroetel in die lug soos sy wriemel en worstel om haar lê te kry om te doen wat sy moet doen om die Kombi weer aan die gang te kry.

“Kan ek help met iets…?” vra ek teen haar bene op onder die Kombi in. Welwetende dat dit ‘n stupid vraag is, want ek weet absoluut niks van karre af nie.
“Maak hom nat…” kom ‘n dowwe stem van iewers vêr onder die ryding uit.
“Wat…?” maak ek seker ek hoor reg.
“Die vark…gooi hom nat met die water in die drom en hou hom koel. Hy gaan oorverhit in hierdie hitte…” beveel sy verder. Dan teenoor Slingervel: “Nommer tien, Slinger…en die groot sterskroewedraaieer ook, ‘seblief…”
Toe ek van my hurke af opstaan om teen die bak op te klim, gee sy haar finale opdrag van iewers diep onder die gewonde wa:
“En waai hom koud met die kartondoos…die hele tyd…hy moet nie oorverhit nie, dan’s dit tickets met hom..!”

So kom dit toe dat ek op die agterbak van my droommotor uit my geboortejaar stelling inneem langs ‘n reuse, swart vark en hom lawe met handevol water, terwyl ek hom naarstigtelik koelwaai met ‘n stuk bebloede karton. Reg langs die hoofpad tussen Kakamas en Augrabies en ten volle aanskoue van elke boer, boervrou en karavaanslepende vakansieganger wat díe betrokke dag op die díe betrokke moment daar verby sou gaan na wie weet waarheen ookal. Onder die bak steek twee pragtige, sonbruinbene in ‘n songeel sonrok uit, terwyl ‘n rosyntjiegesig handlanger die een spanner na die ander aangee vir die halwe meisiekind op ‘n streepsak in die stof. Al wat ek kon doen was waai en bloedrooi gebloos groet vir elke verbaasde, laggende en spottende gesig wat díe petalje in ongeloof aanskou, terwyl hulle noodgedwonge stadig verbyry om alles in detail in te neem.

‘n Uur of wat later het Saartjie onder die Kombi uitgeseil, haar oliebesmeerde hande en gesig in die water langs die vark gewas en die sleutel gedraai. Die Kombi het doodluiters aan die gang geproes asof niks ooit verkeerd was nie. Ons het die vark by sy uiteindelike eindbestemming afgelaai en ek het nooit weer ‘n woord van hom gehoor nie. Behalwe dat hy baie gelukkig en vetgevreet in sy nuwe tuiste maats gemaak het met ‘n ander, plaaslike speenvark uit die omgewing.

Twee dae later lui my telefoon in die spreekkamer. Ek tel die gehoorbuis half twyfelagtig op:
“Halo..?”
“Is dit dokter Varkman…?” herken ek oom Koos Vermaak se stem onmiddellik aan die ander kant.
“Ja oom…ek’s jammer oor die…” probeer ek lomp vir hom sê ek is jammer oor die ander dag se ongerief.
“Moenie worry nie, doktertjie…loop kyk daar op jou voorstoep lê ‘n ietsie in ‘n boks vir jou.” Val hy my in die rede. En toe, voordat hy weer die foon in my oor neersit:
“My rug voel sommer beter man en ek wou net sê baie dankie…”

Op my voorstoep, vlak by die voordeur kry ek ‘n varsgeslagde, halwe skaap in ‘n nuwe, skoon kartondoos en vlak daarby ‘n hele krat vol soetryp Hanepootdruiwe.

En so het ek dan alom bekend geword as “dokter Varkman” aan almal in die kontrei. Jare daarna is nog vele, opreg-dankbare mense vir ewig genees van seer liggaam, siel en gees deur my beweerde, genesende hande.

Die mosterdgeel Kombi uit my geboortejaar is kort daarna, en sonder veel wik en weeg, via die internet verhandel aan ‘n opgewonde versamelaar uit Gauteng vir ‘n stewige en baie welkome wins.

©Fanus Strydom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • PJB het n geregistreerde lid geword

  • Ian wrote a new post

  • Amaspoke wrote a new post