
Suur melk (1475 woorde)
Voor hy daar aangekom het was dinge by Huis Amperklaar saai en eentonig. ‘n Mens wil amper sê sieldodend, maar mens gebruik nie die D-woord wanneer dit kom by mense in ‘n aftreeoord nie. Almal weet Dit loop die gange op en af opsoek na ‘n nuwe slagoffer, soos ‘n boer wat in ‘n boord op en af loop op soek na ryp perskes om te pluk. Meeste van die inwoners het al vrede gemaak met die onvermydelike. Hulle leef elke dag rustig – sonder enige haas – en word elke oggend wakker, dankbaar vir nog net een dag.
Ander, soos die 96-jarige oom Josef, was bang dat die Here van hom vergeet het, want hy het net ouer en ouer geword, en elke dag meer verveeld – sieldodend. Hy het al so baie aan die dood gedink, dat dit meer soos ‘n herinnering gevoel het, as iets wat nog moet kom.
Dan was daar natuurlik die wat vasgeskop het teen die feite. Soos Mevrou Biebouw, wat elke dag Dylan Thomas se Do Not Go Gentle Into That Good Night voor slapenstyd in die saal voorgelees het.
“Old age should burn and rave at close of day; Rage, rage against the dying of the light.”, het sy met ‘n bulderende stem en ‘n gebalde vuis gelees, asof sy ‘n politikus was wat die nasie aangespreek het.
Dan het almal hulle oë gerol, behalwe die wat die juk van demensie gedra het. Hulle het met verwondering na die statige – maar verrimpelde – vrou geluister, en as sy klaar was met ‘n applous besluit hulle gaan nie sonder ‘n vuisgeveg stil die nag in nie. Net om minute later die gange op en af te stap, onseker oor waarheen hulle nou eintlik op pad was.
Dit was omtrent die somtotaal van opwinding en drama by Huis Amperklaar. Ta’ Mattewa wat partykeer haar setpil met haar gehoorapparaat verwar het, het nou en dan bietjie vermaak verskaf. Verder was dit net tannies wat brei, skinder en wag. Ooms wat met verlange by die venster uitstaar en dink aan die jare van jong meisies en laat aande. En die Groot Wag.
Die nuus dat daar ‘n nuwe inwoner by Huis Amperklaar opgedaag het, het die eetsaal bereik nog voor hy daar ingestap het. Hoe dit enigsins moontlik is, is enigiemand se raaiskoot. Hoe dit ook al sy, almal het geweet dat Frik Burgers daar was. Frik Burgers was ‘n baanbreker, ‘n held, ‘n ikoon. Elke vroulike inwoner van Huis Amperklaar het in die fleur van hulle lewe hom begeer – al was dit net om ‘n enkele aand saam met hom te spandeer. Elke man wou op ‘n stadium soos Frik Burgers wees. Hy was die simbool van manlike seksualiteit en die alfa-man van alle alfa-mans. Frik het sy debuut gemaak in die 1946 film, ‘Die wildsboudjie’ as 18-jarige Adonis met sy bos gitswart hare en glimlag wat vele knieë lam gemaak het. Na aanleiding van sy gewildheid het die rolle in sy skoot geval en het hy kort voor lank die hoofrol in al wat ‘n Afrikaanse rolprent was, gekry. In 1949 se musiekblyspel, ‘Kom, saam vanaand’ het hy bewys dat hy meer as net sag op die oog was – sy stem kon elke koue hart smelt met hoendervleis-lekker klanke. Hy het selfs ‘n verskyning gemaak in ‘n paar Engelse films soos 1956 se ‘Island of Desire. Tussen rolle het hy met ‘n oopgeknoopte hemp geposeer in foto storieboekies, as “Die Swart Gevaarte”. Met sy gehaarde bors wat uitgeloer het, het hy skurke les laat opsê – soos ‘n ridder – op sy pikswart perd, Nagskim. Sy bultende spiere het die nate van sy klere tot die uiterste toe beproef, en meisies het giggelend bespiegel oor die opsigtelike bult iewers tussen sy naeltjie en sy lieste.
Frik Burgers het egter nooit die knoop deurgehaak nie. Hy het sy bes probeer om soveel koeie se melk te proe as wat hy kon, in stede daarvan om opgeskeep te sit met ‘n enkele koei se melk vir die res van sy lewe. Dit het beteken dat dames altyd kon hoop. Mans het gevra vir ‘n ‘Frik Burgers’ by haarkapper en Frik Burgers-hemde by die klerewinkels. Hulle hoop was dat as hulle soos Frik gelyk het, hulle ‘n dame se oog kon vang. ‘n Hoopvolle dame sal partykeer tevrede wees met tweede beste, as heel beste buite bereik is.
Goeie gene, genoeg geld en ‘n aktiewe lewenstyl het seker gemaak dat die jare goed was vir Frik. Ouderdom het geen skade verrig nie. Die perfekte gesig was effens beplooi, maar nie onaangenaam om na te kyk nie, en hy het selfs nog al sy eie tande gehad
Toe Matrone met Frik Burgers op haar hakke die eetsaal binnestap, het ‘n stilte neergedaal oor die gryses.
“Dames en here, verwelkom asseblief Frik Burgers hier by ons…”, het Matrone haar tipiese verwelkomingstoespraak begin. Haar storie is egter uitgedoof deur ‘n applous, ‘n gejuig en ‘n paar wolwefluite. Dames het gesnak na hul asem en ‘n hand op boesem gelê. Sommiges het hulle nekke gerek om te sien of die onder-die-naeltjie-knop nog daar was. Mans het hulle borste uitgestoot om te wys dat hulle nog pure man was; waardig was om in die legendariese alfa-man se teenwoordigheid kon wees.
Almal het nader geskuifel, gerol en geklik-klik om hulleself voor te stel aan die silwer vos. Amper almal. Party dames het eers verdwyn om lipstiffie te soek en te poeier op die regte – en die verkeerde – plekke. Daar was byna tasbare elektrisiteit in die lug. Skielik was daar hoop, lus vir die lewe en net lus, in Huis Amperklaar. Mens kan jou verbeel hoe Die Dood in die gang gestaan het, en teleurgesteld die nuwe lewe in sy toekomstige slagoffers aanskou het. Die reuk van antieke stof en oumens het spoedig verdwyn en is vervang deur walms van Elizabeth Taylor se ‘Red Door’ en Old Spice.
Frik Burgers was in die sewende hemel. Dit was asof hy terug was in sy jeug, toe gillende dames buite nagklubs en teaters vir hom gewag het, en mans oor ‘n whisky uitgevra het oor sy katelkaskenades. Die sjarmante Frik het die daaropvolgende dae elke dag ‘n dame of twee gevlei en laat voel soos ‘n prinses. Tussendeur het hy ‘n geselsie met die mans aangeknoop om stories van avonture uit te ruil. ‘n Vrees het Matrone beetgepak dat daar weer ‘n uitbraak van gonorree sou wees, soos toe daai rugbyspeler oom ‘n inwoner was. Sy het byvoorbaat pamfletjies uitgedeel oor die gevare van losbandigheid. Die probleem was aangehits deur die blou pilletjies wat op “die swart mark” in die huis verkoop is, maar sy kon die skelm verkoper nooit uitvang nie.
Frik Burgers het na ‘n paar dae agtergekom dat daar egter een dame was wat nie met opgewondenheid om hom gekloek het nie. Die dame het steeds die ou patroon van die Groot Wag gevolg. Soggens het sy voor die venster in die sonnetjie parkeer en diep ingedagte die verte ingestaar. Frik het uitgevra oor die dame – Bernice Herbert – maar almal het net hulle skouers opgetrek. Daar was niks fout met haar sover Frik kon agterkom nie.
Hy het uit sy pad gegaan om verby haar te loop, en dan te knipoog met die glimlag wat oor die jare die knieë so lam gemaak het. Sy het net met ‘n knik, en partykeer ‘n gemaakte glimlag, sy groet erken. Dit was ‘n totale frustrasie vir Frik. Vir die eerste keer in Frik Burgers se lewe het iemand geen belangstelling in hom getoon nie. Frik het al hoe harder probeer om haar aandag te trek. Hy het vir haar tee aangedra, Quality Streets aangebied en selfs ‘n hele dag langs haar gesit en uitstaar by die venster. Maar Ta’ Bernice het woordeloos, ongeïnteresseerd gebly.
Dit was ‘n Donderdag toe Frik Burgers dit nie meer kon uithou nie, en Bernice Herbert gekonfronteer het. Sy ego was vol krake. Die donker wolk wat die laaste tyd oor hom gehang het, het in ‘n stortvloed van woede neergedaal daar voor Bernice.
Frik het vierkantig voor Ta’ Bernice gaan staan. Sy yl hare was weer pikswart gekleur, hy het sy oopknoop hemp van toentertyd aangehad – al het dit soos ‘n japon om hom gehang omdat die bultende spiere weg was – en hy het sy beste lam-knieë-glimlag geglimlag soos nog nooit in sy lewe nie. Bernice Herbert het hom vir ‘n oomblik vies aangestaar en kant toe geleun sodat sy verby die vent by die venster kon uitstaar.
“Jonge dame!” Frik het probeer sjarmant klink, maar die toon van frustrasie het gewen. “Weet jy wie ek is?”
Bernice Herbert het Frik Burgers van kop tot tone bestudeer, en toe ‘n paar sekondes in sy oë gestaar tot diep in sy siel.
“Nee,” het sy uiteindelik gesê, “maar jy kan by ontvangs vir Matrone gaan vra. Sy sal jou kan sê.”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2022 – Drama projek