Tydskeep op my regterhand
Tydskeep op my regterhand
swart klad die streep skryfsimbole
die blanko blanje binneblad
van my nota bene boek
deur subtiel aan stilte
die geïmpliseerde belewenis
van klank en krap in kode en kadens
se bedekte betekenis
weer te gee as ‘n
geleefdheid van vertolkte
sintuiglike waarneming
deur ervaring
van pyn en perk se pragmatisme
waar afleidings deur tyd geslyp is
maar hy, hy het gepraat
en nie geskryf soos ek
meerendeels met sagte stem wat
met wysheid salf
aan ons knaende kneusings smeer
ja, warm woorde aan die wat
koud was en kaal
so watter aanspraak het ek dan
wat nie gestruikel het onder
die krag van die kruis
watter reg laat my dan pyn beskryf
is dit dan alles vir die skyn met
my deurdenkte woord gepen
is my metafoor dan ‘n valse streek
om my dooie gewete aan te spreek
my letters kwets en kraak en knou
ek trap op tone met elk
geweegde geskrewe lettergreep
maar u, stapvoets het u uitgedryf
alles wat onrustig was in siele
ja, u het selfs toegelaat dat
die lydendes u kleed se soom aanraak
u sou nie soos ek om woorde wroet
nee, die woord was digby u en soet …
(C)MCH
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek