Jongste aktiwiteit:

UHURU – (BRONS)

RUBRIEK Junie 2020- Vryheid projek (BRONS)

Uhuru.

“Vryheid van die Namibiese kind”.

Met die pas afgelope inperkingstyd vars in ons geheue, het die woord “vryheid” opnuut betekenis gekry.
Volgens die woordeboek is vryheid ʼn toestand waarin ʼn mens nie in gevangenisskap verkeer, of teen sy sin aangehou word nie. Dit beteken ook dat die mens nie verhinder word om te kan doen wat hy wil nie.
Die volgende begrippe sorteer onder vryheid:
• Politieke vryheid – jou eie keuse sonder inmenging of intimidasie.
• Vrye wil – besluit self oor jou dade en keuses wat jy wil uitoefen.
• Ekonomiese vryheid – die individu besluit self oor handel en produksie, ook sonder enige geweld of invloede van ander persone.

Op 21 Maart 2020 het Namibië Vryheidsdag gevier. Regoor die wêreld vier lande hulle Vryheidsdag. Dan kom daar ook die tyd wanneer mense vrylik hulle kruisies gaan trek om te kan stem vir die politieke party van hulle keuse.

Namibië bied sy burgers ʼn seleksie van vryhede aan soos onder andere die vryheid van assosiasie, godsdiensvryheid en ook die vryheid van spraak.

Alhoewel daar soveel vryheid veronderstel is om te wees, wonder ek of die Namibiese kind vandag nog die noodsaaklike vryheid ervaar?

As jy my vra, word die Namibiese kind se vryheid willens en wetens ingeperk.

• Woonplek is dikwels nie meer so veilig nie, die kind kan nie sorgeloos in die buurt speel nie. Daar is ook nie meer parke waar kinders met ʼn geruste hart kan speel nie.
• Kinders kan nie meer veilig skool toe loop sonder dat die ouer hulle moet bekommer oor die kind se veiligheid nie.
• As ons dink aan: groepsdruk en sosiale media, is kinders nie vry om hulle eie mens te wees nie – kuberboelies is ʼn werklike probleem.
• Sonder dat die kind dit eers besef, word hulle aangemoedig om soos hulle helde te wees en op te tree.
• Op die wyse word die Namibiese kind se vryheid as mens beperk.
• Aan die ander kant is die kinders van vandag so besig! Elke moontlike tyd word afgestaan aan skoolwerk, huiswerk en sport.
• Met al die aktiwiteite van die kinders is die tyd dat hulle sommer net kan speel – soos huisies bou van leë kartonne of met motortjies speel in die sand, so min en kinders het kreatiewe spel nodig.
• Ouers druk ook dikwels die kind om te presteer op gebiede waar hulself wou presteer – so word die vryheid van “kindwees” ingeperk.

Daar moet egter nie uit die oog verloor word dat vryheid natuurlik nooit sonder grense gepaard kan gaan nie. Sonder grense kan kinders die gevoel van angs en onsekerheid ervaar en sodoende sal kinders nie vryheid kan geniet nie.

Soms dink ouers dat hulle vir hulle kinders vryheid kan gee deur hulle kinders se vriende te wees. ʼn Verhouding van vriende wees, beteken egter min grense en min keuses vir die kind. Om jou kind se vriend te wees beteken definitief nie dat jy ʼn baie populêre ouer is nie – geen kind wil ʼn veertig- of vyftigjare vriend hê nie! ʼn Kind wil ouers hê wat vir hom lief is en die nodige leiding en beskerming kan bied wat nodig is.

Gee dus vir jou kind sy vryheid deur liefde, onderrig, bystand en die voorbeeld wat jy vir hom stel uit jou liefde vir hom.

©Marlene Erasmus
27/06/2020
(542 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed