Uitgesluit!
Ek skryf selde direk oor myself. Meestal skryf ek oor iets wat ek hoor of sien of waarvan iemand my vertel. Soms vra mense dat ek oor iets spesifiek skryf. Vandag lyk die rubriek effens anders.
Ek kyk onlangs na vriende van ons se huis. Dié spesifieke aand besluit ek om seker te maak dat die reuse voordeur wat op een skanier sowel deeglik gesluit is voordat ek vir die een hond die skuifdeur oopmaak. Omdat ek bang is die voordeursleutel raak soek los ek dit sommer in die voordeur. Die alarm se afstandbeheer is ook aan die voordeursleutel vas dat alles bymekaar is.
Nadat ek die diere binne-in die huis versorg het stap ek deur die skuifdeur na buite. Die ander twee honde is vreeslik opgewonde oor die geselskap. Die hond wat in die huis is, is maklik om uit die huis te kry – so dit pla my nie dat hy nie saam met my uitstap nie.
Ek stap om die huis en maak seker dat die voëls en honde tydens die hittegolf genoeg water het. Ek stap terug skuifdeur toe. Dit wil nie oop nie. Ek trek. Ek pluk. Ek druk. Ek staar na die deur. Die skuifknip het in my afwesigheid afgesak. Uitgesluit! Paniek kruip teen my ruggraat tot by my keel op.
Die een hond is in die huis. Die alarm is nie gestel nie. Die voordeursleutel met die afstandbeheer is netjies aan die binnekant van die voordeur.
Gelukkig het ek ingedagte my selfoon in my hand gehou en ’n paar minute later het die alarmmaatskappy tot my redding gekom.
Toe ek gedaan van die skrik in my motor neersak kom ek agter dat ek steeds die hond se tennisbal wat ek vir hom wou gooi in my hand het.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
En dan kom die vraag: Wat is belangrik? Belangriker as wat? En die tennisbal? Slielik die belangrikste, of hoe? -- Paniek kruip teen my ruggraat tot by my keel op -- Baie mooi beeldspraak, ek kan dit saamondervind. Dankie. GvT