Jongste aktiwiteit:

Vader Tyd – ʼn onmisbare ergernis

Tyd is nie tasbaar nie, dit kan nie gekoop word nie, kan nie opgegaar word nie en oënskynlik is daar altyd ʼn tekort daaraan, veral vir die moderne mens. Tog is dit iets wat sonder ophou voortstap asof daar geen einde is nie, en dit wag vir NIEMAND nie. Dit het geen emosie nie en maak nie saak of jy ryk of arm is nie, elkeen ontvang presies dieselfde hoeveelheid minute elke dag.

Die mens se behoefte om tyd te meet is byna ouer as tyd self. Die Egiptenare het reeds so vroeg soos 1300 – 1500 vC van ʼn sonwyser gebruik gemaak om tyd te meet.

Ongeveer 400 vC het die Grieke ʼn water-horlosie ontwikkel. Water het uit die een houer na die volgende gedrup en merkies op die houer het ure aangedui. Daar word bespiegel hoekom sulke intelligente mense nie ook die sand-horlosie kon ontwerp het nie aangesien sand in baie streke meer volop as water was.

Sowat ʼn 1000 nC het Alfred die Grote brandende kerse gebruik om tyd af te meet. Merkies op die kerse het ure aangedui.

Daarna het die uurglas gevolg wat ook bekend gestaan het as ʼn sand-glas of sand-horlosie. Sommige bronne beweer dat die eerste uurglas deur ʼn monnik bekend as Liutprand van ʼn katedraal in Chartes, Frankryk, in 800 nC ontwerp is. Selfs al lyk dit asof die uurglas ʼn baie primitiewe instrument is, dui die meeste bronne egter daarop dat die uurglas eers gedurende die 14e eeu algemeen in Europa gebruik was. Alhoewel, seevaarders skynbaar van ʼn soortgelyke instrument gebruik gemaak het om afstand te meet, was dit meer akkuraat as die water-horlosie omdat dit nie deur die beweging van die see beïnvloed was nie. Daar word dus gespekuleer dat die eerste uurglas reeds so vroeg as 1000-1100 nC in gebruik geneem is, alhoewel nie almal hiermee saamstem nie en die beskikbare bronne nie heeltemal ooreenstem nie.

Die heel eerste klinkklare bewys van ʼn tipe uurglas soos wat ons dit vandag ken, was in ʼn skildery vasgevang wat deur Ambrosio Lorenzetti in 1338 geskilder het. Later in daardie selfde eeu word daar in ʼn dokument gedateer 1345 op ʼn Engelse skip, melding gemaak van aangekoopte uurglase. Toe Koning Charles V van Frankryk in 1380 tot sterwe kom en ʼn opname van sy besittings gemaak word, word daar melding gemaak van ʼn “groot see-horlosie in ʼn groot hout-en-brons kas”. Dit is dus duidelik dat ‘almal’, van seevaarders tot konings van hierdie instrument gebruik gemaak het.

Maar natuurlik, tensy daar ʼn ander definitiewe bewys gevind kan word, is die oudste bewys van die gebruik van uurglas die skildery van 1338. Die uurglas verskyn daarna in vele Renaissance skilderye en dit word tot vandag nog gesien as ʼn simbool van die mens se sterflikheid.

Die uurglas bestaan uit twee soortgelyke peervormige glasvorms wat vertikaal staan met ʼn nou opening in die middel. Hierdie vernouing reguleer die hoeveelheid sand wat daardeur kan beweeg. Gewone sand is egter nie geskik nie omdat sand a.g.v. humiditeit uitswel. Sand wat op sommige strande gevind word is te hoekig en vloei nie gemaklik deur die nou opening nie. Rivier sand word soms gebruik sowel as marmer stof, fyngemaakte lood of fyngedruk- en gebakte eierdoppe.

Die mees besonderse uurglase was die geskenke aan koningshuise. Charlemagne (742-814) van Frankryk het ʼn uurglas gehad wat 12 ure kon meet. Holbein het asemrowende uurglase vir Henry VIII (1491-1547) van Engeland gemaak. Ander besonderse uurglase sluit in een wat gedurende die 17e eeu in Italië vervaardig is. Dit het bestaan uit 4 glase waarvan een elke kwartier aangedui het, die tweede elke halfuur, die derde elke driekwart uur en die vierde glas ʼn volle uur.

Die nadeel van enige van die bogenoemde tyd-instrumente hang van die mens af om daardie instrument dop te hou en akkuraat te reguleer. Sommige uurglase kan ʼn minuut meet en ander ʼn uur, maar daar word nie groot waarde geheg aan die akkuraatheid van hierdie instrument nie.

Henry de Vick (14e eeu), word egter beskou as die uitvinder van die moderne horlosie, alhoewel ʼn Duitse uitvinder, Peter Henlein in 1511 ʼn horlosie vervaardig wat met ʼn staal veer werk. Hierdie horlosie was baie groot en dit het ook ʼn hele aantal ure per dag verloor, maar dit was die begin van die moderne horlosie soos wat ons dit nou ken.

Vandag is tyd en die dophou daarvan belangriker as ooit. Kort voor die jongste eeuwisseling is reeds sowat vyfhonderd miljoen horlosies jaarliks verkoop. Die uurglas het dus geen toekoms anders as om gebruik te word as dekor vir ʼn spesifieke geleentheid nie. Sommige mense gebruik dit nog wanneer hulle eiers kook en ander wanneer speletjies gespeel word, maar verder is dit net ʼn mooi ornament. Die kleinste uurglas is die grootte van ʼn mansjet knoop, en die grootste sowat 1m hoog. Daar is egter geen perke aan die vorm wat ʼn uurglas kan aanneem nie, of die materiaal wat daarvoor gebruik kan word nie.

Die uurglas is leeg, dus is dit tyd om die storie tot ‘n einde te bring.

https://sites.google.com/site/kliekrubriek/vader-tyd
https://www.apartmenttherapy.com/sands-of-time-the-hourglasss-u-121964
https://www.encyclopedia.com/science-and-technology/technology/technology-terms-and-concepts/hourglass




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed