Jongste aktiwiteit:

Van Soetsappigheid na Brandende Kole

(Woordtelling 1103)

 

Reeds van die vroegste tye in ons Afrikaner se geskiedenis is volksliedjies gesing om ons kinders aan die slaap te sus. “Siembamba” is in 2013 as een van die grootste Afrikaanse liedjies van alle tye aangewys en het vir die eerste keer in 1927 in Joan van Niekerk se boek, Die Groot Afrikaans-Hollandse Liederebundel, verskyn. Daar word wyd bespiegel oor die oorsprong en betekenis van hierdie lied, heel waarskynlik omdat die lirieke, soos ons dit vandag ken, kindermoord suggereer. Navorsing bewys egter dat die woorde tot in die 19e eeu as “Sien Mamba” bekend was. Dit sing die storie van ʼn slang wat ʼn kind bedreig en dringend doodgemaak moet word, en nie die kind wat in die sloot gegooi en verpletter moet word nie.

“Daar kom die Alibama” het ongeveer in 1863 ontstaan. Die oorlogskip, CSS Alabama, wat later as die Alibama bekend geword het, was deel van die Amerikaanse vloot en was bekend dat hy handelskepe gekaap het. Alhoewel die Alabama die skepe se bemanning gevange geneem het, was hulle nooit leed aangedoen nie en is weer by ʼn neutrale hawe vrygelaat. Die Afrikaanse liedjie het ontstaan toe die bekende skip by die Kaapse hawe gedurende 1863/1864 aangedoen het.

Danie Bosman (1907-1946) was ʼn pionier van Afrikaanse musiek en in 1969 is ʼn rolprent is oor sy lewe gemaak waarin Franz Marx en Min Shaw die hoofrolle vertolk het. Danie het homself as komponis bewys in die jare rondom die Tweede Wêreldoorlog en sy musiek het die toets van tyd deurstaan. Liedjies soos “Oom Bossie van die Bosveld”, “In die Skadu van ou Tafelberg”, en “In my Droomskuitjie” het gou volksbesit geword. Hoewel Danie se musiek al meer as tagtig jaar oud is, sal hy altyd onthou word as iemand wat ʼn groot invloed op Afrikaanse musiek gehad het.

Jy is my liefling” het oorspronklik in die 1930’s gewild geword, maar Min Shaw het dit weer as treffer laat herlewe. “Ver in die Ou Kalahari” is een van die liedjies wat deur die meeste kunstenaars opgeneem sou word, en Jan Pohl se “Die Mannetjie” is seker een van sy bekendste komposisies. Ernst van Rooyen het “Daar doer in die Bosveld” saam met Anton de Waal geskryf en dit is in Jamie Uys se rolprent met dieselfde naam, gebruik.

Ons kan seker nie aan Afrikaanse musiek dink en van Al Debbo se “Hasie” vergeet nie! “Die Oukraalliedjie” het in die 1940’s ontstaan en eers werklik gewild geword nadat Groep Twee dit in 1966 opgeneem het. In Maart 1967 het dit die Top 20 op Springbok Radio gehaal. “Die Donkie” was ʼn groot treffer vir Chris Blignaut, en Koos du Plessis se “Kinders van die Wind”, “Die Pad na Nooitgedacht”, en “Sprokie vir ʼn Stadskind” bly steeds immergroen. Baie van hierdie musiek is natuurlik ook in die FAK se musiekbundel opgeteken.

Anton Goosen skryf die eerste Afrikaanse rock-liedjie, “Blommetjie gedenk aan my”. Dit vertel die verhaal van ʼn vrou wat op pad na haar troue in 1968 in ʼn motorongeluk oorlede is. Marie Charlotte Roux se verloofde het beheer oor hul Volkswagen verloor, sy is uit die motor geslinger en eers die volgende oggend verkluim langs die pad gevind. Dit sou eers tydens die Paasnaweek van 1976 wees wat haar spook vir die eerste keer langs die pad opgelaai sou word.

En toe gebeur die onvermydelike. Die jeug van Suid-Afrika is moeg van die minneliedjies en soetsappigheid van Afrikaanse kunstenaars, moeg vir die regering van die dag, die apartheidsbeweging, die misdaad, en die Voëlvry-beweging stuur die musiek in ʼn heel ander rigting.

Terwyl kunstenaars soos Jannie du Toit, Laurika Rauch, Janita Claassen, Rina Hugo, Anton Goosen, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Koos du Plessis & Carike Keuzenkamp hulself toegespits het op vermaaklikheid en steeds vol sale getrek het, het Afrikaanse musiek in die laat 1980’s skielik ʼn ander wending begin neem. Alternatiewe kunstenaars soos Piet Botha, Bernoldus Niemand, Koos Kombuis & Johannes Kerkorrel het openlik kommentaar gelewer op Apartheid en die Afrikaner identiteit.

Groepe soos Fokofpolisiekar, K.O.B.U.S!, Insek, Straatligkinders, Jack Parow, Brasse van die Kaap en Die Antwoord het soos paddastoele opgeskiet. Die lirieke van hul musiek het die ouer garde se hare laat rys en die kinders het gejuig. Anti-apartheids protesmusiek van Voëlvry is opgevolg met nuwe protesmusiek en kunstenaars wat openlik hul teenkanting teen die regering aangedui het. Groepe soos Glaskas, Klopjag, en natuurlik Bok van Blerk het liedjies begin skryf as protes teen die heersende misdaadklimaat.

Twee van Johannesburg se bekendste kuierplekke – Club 58 in Hillbrow, en ʼn avant garde-plek in Berea, The Black Sun, het uit sy nate gebars soos die Boere daar gedans, gesing en gekoggel het. Die nuwe geslag kunstenaars was gereed vir ʼn alternatief op die vroeëre versigtigheid van die Afrikaanse musiek. Bles Bridges en Cora Marie het verseker nie in hul smaak geval nie, en hulle wou Afrikaanse musiek laat rock en herleef. Niemand sou kon dink dat die jonger geslag Afrikaners so uitgehonger was dat hul openlik met die land se heiligste koeie sou spot nie.

Mense het van heinde en verre gereis om na die Gereformeerde Blues Band se Johannes Kerkorrel en Andre Letoit te kom kyk, maar meestal was dit die yuppies van Yeoville wat die sale volgemaak het. Oorvol eintlik. Met tye was dit so vol dat die mense van die dakbalke gehang het, op die grond gesit het, of in die deure gestaan het. Hierdie musiek was nie vir almal ewe welkom nie, veral nie by die ouer gardes nie.

Maar waarom was hierdie nuwe Afrikaanse klanke dan so gewild?

 “In die sestigerjare het dr. Verwoerd vir ons ouers gesê die Nasionale Party veg vir hul kinders. Ons is daardie kinders. Ons het Afrikaans kom aantref as ʼn stywe, formele ‘onderdrukkerstaal’. Ons wil in Afrikaans wys dat ons jong Afrikaners ons nie hoef te vereenselwig met daardie houding wat die taal byna laat sterf het nie. Ons vat ons taal nou terug.” – Johannes Kerkorrel en André Letoit van die Gereformeerde Blues Band.

In hierdie jaar van 2023 kan ons wraggies sê dat, anything goes. Op die meeste radiostasies is word daar ’n groot verskeidenheid van Afrikaanse popmusiek gespeel, van soetsappige minneliedere, poëtiese musiek, lirieke wat vermaak, lirieke wat tot vervelens herhaal word, Christelike musiek, tot klets rymers en punk-rock. Baie hiervan val maar bietjie vreemd op die oor, maar daar is verseker iets vir elkeen om na te luister. Soms val dit sag op die oor, ander kere is dit niks anders as lae kwaliteit en doodgewoon onbeskof nie, met taalgebruik wat jou hare laat rys. Miskien is dit weereens die jeug se uitdrukking van ons omstandighede, chaoties en gewelddadig.

 

Bronne : https://www.fak.org.za/2019/02/26/die-storie-van-afrikaanse-musiek-1-pieter-smith/

https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/danie-bosman-1907-1946/

https://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaanse_musiek

https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/danie-bosman-1907-1946/

https://laurikarauch.com/1988-insig-verwoerd-se-kinders-sing-n-ander-taal-artikel/

https://www.wereldwyd.co.za/die-ryk-geskiedenis-van-afrikaanse-volksliedjies/

 

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed