Jongste aktiwiteit:

Ver weg van die stad se geraas

Woordtelling 482
Stergradering Silwer

Dit was die geskree-gesprek tussen politikusse wat my moertjie net nog ʼn fraksie stywer laat draai het. Hubby kan nie sonder RSG se Monitor program klaarkom nie en ek is al vergete dik vir die onophoudelike Corona verslaggewing – so al asof daar niks anders in die wêreld gebeur nie. Daagliks word die dooies getel asof ons in ʼn wedloop met die doodsengel is. Is daar ʼn medalje of prys vir die dag wat die meeste mense doodgaan? Moet ons geskok luister of liewers ore toedruk en nie toelaat dat die wêreld se paniek jou hart en siel oorneem nie?

Tensy ek dus my pap-en-melk in die onwelriekende kleinhuisie gaan opslurp is daar nie wegkomkans nie. My gehoor kan nie na willekeur aan of af geskakel word nie en ek sal hoor, of ek nou wil of nie en ek gee al vergete nie meer om nie.

Daar en dan word die besluit geneem dat ek nou al lankal moeg is vir die vier hoekpale van hierdie erf. Dit is dringend tyd om weer vir ‘n slag iewers heen te verdwyn. Hubby wil nog verskonings uitdink oor die afstand, ons moet maskers dra, jy mag nie uitklim nie en wie weet watter patetiese gekibbel nog, toe is ek al handsak oor die skouer halfpad by die deur uit. Hy het ʼn keuse – bly of ry, want Ano gaan nou ry.

Ons koop broodnodige versnaperinge by die naaste winkelsentrum en kies koers na ʼn klein wildreservaat byna in die middel van ʼn stad. Dit is winter en stowwerig, maar nog nooit was buitekant so mooi soos nou nie. Ten spyte van die streng reëls om binne jou motor te bly, wil ek sommer uitspring en in die droë gras gaan rol en die reuk van stof diep in my longe intrek. Ek wil sonder verskoning uitbundig hardloop en dans en nie omgee vir die grassade wat in my hare vasklou en die stof op my skoene en broekspype nie.

Ek wil in die lang gras lê en luister hoe die sprinkane met ʼn groot ge-kirrrrrr iewers heen spring, of hoe die wind saggies daardeur woel. Ek wil luister hoe die voëltjies na hul maats roep en vertel waar om die varsste “road kill” te kry. Ek wil by die oop motorvenster uithang en hoor hoe die buffel en zebras se hoewe op die harde teerpad klippedie-klop, ritmies en egalig. Geen haastige motoris versteur hul rustigheid nie want hierdie is hulle koninkryk, die mens net nog ‘n mak dier. Ek wil langs die waterstroom stop en hoor hoe vinnig dit oor die klippe kabbel. Inteendeel, ek wil sommer net buite wees en die natuur inneem en my siel verkwik want die mensgemaakte strukture met klippe en sement raak soms benoud beknop.

Wat is dan mooier as die geluide van die natuur, ver weg van die stad se verkeer wat nooit tot rus wil kom nie?




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed