Waar staan ons nou?
Die aarde is na my mening gebou op die ekologiese-fondasie wat God vir haar met die skepping uitgewerk het. Verder het God waarde aan die aarde toegevoeg met die skepping van die mens, deurdat Hy die mens uit haar stof geformeer het na Sy beeld en Sy gelykenis. Voorts het God ook waarde aan die mens toegevoeg, deur hom met Sy eie asem te begeester, om Sy skepping as Sy rentmeester te bewerk en te bewaak. Dít is óns – rentmeesters van die Meester. Ook jý wat nou hierdie meningstuk lees, ís Sy rentmeester.
‘n Rentmeester is iemand wat deur iemand anders aangestel is om sy eiendom tot sy beste voordeel te bestuur, en om gereeld aan die eienaar verslag te doen oor sy rentmeesters-aktiwiteite. Rentmeesterskap is dus nie eienaarskap nie. God het die mens as rentmeesters van Sy skepping aangestel, nie as eienaars nie. Die mens as rentmeester van God moet Sy skepping bestuur en gebruik tot God, wat eienaar is, se beste voordeel. Die vraag is:
‘Voldoen die mens, ek en jy, aan sy taak as rentmeester van God se skepping? of gaan ons ook maar die houding inneem van die woorde wat ek eenkeer op die buffer van ‘n motor gesien het:’
‘WE ARE DESTROYING THIS PLANNET, WE WILL COME TO THE OTHERS LATER …”
Veronderstel Moederaarde kon praat, wat sou sy sê? Ek dink dat sy iets soos volg sal sê:
‘ O groot Meester, my skoonheid word ontstellend, deur U rentmeesters uitgewis. My glans van eertyds lê verdof onder U rentmeesters se bestuur. Berge rommel piekniek-plastiek word op my bodem gestrooi. Hul stootskrapers stoot rommel oor my boesem, en hul kettingsae skeur die reënwoude van my binneste in flarde. Vragte en vragte afval, deur U rentmeesters oor die jare heen, het reeds in my skoot geval. My dae is afgeleef. Verrimpeld smag ek om ’n nuwe kleed. Diep in my boesem dra ek ’n onrus, en vrees oor wat my lot eersdaags sal wees. Meester, hoor asseblief my klaaglied en herskep my, sodat ek my ongeskonde skoonheid van die verlede kan herwin … ’
In hierdie eeu waarin ons leef is dit net selfone wat jy sien en hoor; in ons skole, kerke en by ons werkplek, tot in ons huise, en in ons sit- en slaapkamers. Normale verbale kommunikasie van die verlede word deur die tegnologie versmoor. Ons kinders speel elektroniese speletjies van die môre tot die aand.
Dan is daar ook ‘n magdom informele wonings sover as wat jy kan sien. Tonne rommel, riool en afval word in riviere en damme, selfs in die see, gestort. Die voëls sterf uit omdat die mens wat as verantwoordelike rentmeesters van God moet optree, hul natuurlike habitat vernietig. Daar is suur in die reën en landbou, mynbou en bosbou laat die ekologie kwyn. Menslike-afval, kern-afval en chemiese-afval besoedel die aarde en Oorloë laat vernietigende missiele op aardbodem val.
Bevolkingsgroei lei tot ’n toename in betonoerwoude, tewyl misdaad onrusbarend toeneem. Die aarde is besig om te verval tot ‘n ekologiese lyk. Die onafgebrokenheid van die seisoene, het hulle ritme verloor. Vleiland op vleiland word drooggelê, terwyl reënwoude ontbos en boorgate gesink word tot in die aardkors.
Die hartseer is dat die dolosse reeds vir Moederaarde deurmekaar geval het. Waar staan ons as verantwoordelike rentmeesters van God se skepping nou?
—————————————————-ooo00ooo——————————————
©Pieter Mostert
woorde: 560
[Silwer]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Februarie 2024 - Dolos projek