Wederkoms .
ek kom weer as dit lente in jou Kaap is
op ‘n dag wat dit sag oor wingerd reën
en ‘n koor van duisende oggendvoëls
jou nuwe dag met môrelied’re seën
wanneer Karoobos ‘n bietjie minder vaal is
en jou Tankwa haar kleureskouspel kry
die wagter sy skape bymekaar maak
en hul weer na stille waters lei –
dan kom ek weer
ek kom t’rug as jou berge weer geboorte gee
aan watervalle en riviere vol in vloei
as jou woestyne veel minder droog en dor is
en aronskelke langs al jou strome bloei
ek sal daar wees as jou brande nie so woed nie
jou vure blus, en jou vlamme ophou skroei
as die hitte van jou stryd nie meer verwoes nie
en jy verstaan – hoe ‘n hart se lamp moet gloei
. . . dán kom ek weer
© C. Shaw
31 Januarie 2017
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Carma jou unieke talent kom weereens pragtig na vore in hierdie werk