Jongste aktiwiteit:

WERKLIKHEID

My kop maal heen-en-weer soos ’n ou wasmasjien. Tussen die werklikheid en die onthou, wat wapper en fladder en soms botstil staan. Oor my Seuna kind wat weg is. Tussendeur wonder ek hoe hierdie mense om my, weet van die ding wat ek veronderstel is om te glo. Wanneer ek weer my meisiekind se rooi behuilde oë sien, moet ek dit glo. Hoekom anders is sy dan hier by my op ’n Woensdagmiddag? ’n Doodgewone dag. Of is dit?

Met tye voel dit of my keel toetrek en in my binneste woed ’n gil. Ek wil hê almal moet stilbly. Of beter nog, hulle moet huis toe gaan sodat alles weer kan wees soos dit was, ’n uur gelede. Ek wil vir hulle verduidelik:
‘Julle maak ’n fout, my Seuna kind is g’n dood nie, hy’s besig by sy werk daar in Aussenkehr. Hy is net ’n bietjie gespanne, maar hy sou nooit sy lewe beëindig nie. Nee, dis glad nie so erg nie. Julle kan almal maar huis toe gaan, want daar is nie fout nie.’

Ek onttrek aan die geselskap. Dit zoem soos bye om my, maar ek hoor nie wat hulle sê nie. Ek herleef ’n gesprek wat ek met God gehad het, omtrent ’n maand gelede. Ek was maar altoos bekommerd oor Seuna en het daagliks met die Here oor hom gepraat. Daardie aand sê ek ’n ding wat ek nie weet waar dit vandaan kom nie: ‘Here, as U hom wil vat, sal ek dit so aanvaar. Dis reg met my.’ In my hart en gees was daar ’n kalmte. ’n Vrede en vertroue.

Nooit weer het ek daaraan gedink nie. Gisteraand terwyl ek bid is daar ’n bekommernis wat my aan die keel wil-wil gryp. Toe ek my benoudheid besef, skud ek dit letterlik van my skouers af, staan op en sê: ‘Here ek sit hom by U voete neer. Ek gaan nou nie meer bekommer nie, ek gaan nou slaap. Ek vertrou op U.’
Ek wonder wat ek vanaand vir die Here gaan sê.

Ek raak weer bewus van die gebeure om my en hoor hoe daar reëlings getref word. Bokka sal eers môreaand laat by die huis wees. Tot dan sal ek nie vir ’n oomblik alleen gelaat word nie. Daar sal in skofte gekom en gegaan word. Ek luister in verstomming. Wie is ek dat hierdie dierbare mense soveel omgee en bereid is om hulle eie mense af te skeep, om hier by my te wees? Vir die heel eerste keer in my lewe, maak iemand anders vir my koffie in my eie huis. Ek is nederig dankbaar, al voel ek dis helemaal onnodig.

My vlugkaartjie word namens my uitsgestel en ek hakkel en stotter om te antwoord toe skoonseun vra: ‘Na watter datum moet ek dit skuif?’ Ek sukkel om uit te werk wat vandag se datum is en hoe lank ons nodig het om alles agter die rug te kry. Ek het nie die ekstra bedrag betaal om te verseker dat ek my geld sal terugkry, indien daar iets soos siekte of dood sou intree nie. Snaaks, ek lees altyd daai opsie en wonder of daar ooit iemand is wat dit gebruik. Vandag weet ek dat dit soms ’n goeie opsie is.

Teen slapenstyd is twee vriendinne terug, gewapen met pajamas en toiletware. Een slaap op die sitkamerbank sodat sy douvoordag kan uitglip om haar man af te sien werk toe. Die ander een maak haar tuis in die gastekamer. Sy sal vertoef tot die dagskof by haar oorvat.

Ek sluk twee slaappille voor ek gaan stort. Ek sê vir die Here dankie. Dankie, dat Hy steeds in beheer is, al woed daar storms in my gemoed. Al verstaan ek niks nie. Dis tog wat geloof is. Om te verwag dat jy dit sal ontvang waarvoor jy vertrou, maar nie sien nie. Al wat ek vra is dat Hy ’n hele swerm engele sal stuur om Bokka in die bos te loop haal en veilig huis toe te bring.

Dag twee. Ek is wakker, maar maak nie my oë oop nie. Ek hoor Iemand sê: ‘Jy is altyd so dankbaar dat julle niks aan iemand skuld nie, maar alles wat jy het, het Ek jou geleen. Ook jou kinders.’ ’n Kalme dankbaarheid spoel oor my. Seuna-kind is van hierdie ou wêreld met sy hoë eise en bekommernisse en verantwoordelikhede ontslae. Hy is terug waar hy hoort.

Skaars is ek aangetrek of die nuwe persoon aan diens en nog ’n vriendin staan voor die deur. Sy het vroegoggend vir ons gebid en toe ’n visie van my Seuna gehad. Al het sy hom jare laas gesien kon sy hom vanmôre duidelik sien waar hy sit, bene gekruis en lank voor hom uitgestrek. Arms agter die kop gevou. Ek spring op, my hele lyf die ene hoendervleis: ‘Dis presies soos hy altyd gesit het!’
‘Wel, dis hoe hy op hierdie oomblik sit. Hy is rustig en tevrede,’ in haar oë glinster ’n glimlag.

Deur die dag kom en gaan mense. Hulle weet nie wat om te sê nie en ek weet nie hoe om my dank te betuig nie. Blomme word persoonlik gebring of afgelewer. Soos dit ons Suid-Afrikaners se gewoonte is, bring ieder ’n bord eetgoed. Trooskos. Dit lyk teen middag soos ’n kerkbasaar en Chelsea blommeskou in een. Dit klink soos ’n markplein, waar almal gelyk praat.

Met tye vertel ek staaltjies oor Seuna se kleintyd en snaakse dinge wat hy gedoen of gesê het. En dan tref die nuus en skok my weer van vooraf en ek vra vir niemand in besonder nie: ‘Is ek wakker, is hy regtig dood, is julle seker?’

Laatmiddag bring iemand gebraaide hoender en slaai. Die geur vul die kombuis en vir die eerste keer vandag, voel ek bietjie honger, al dra ek steeds die gewig van ’n tien-ton lorrie wat op my borsbeen parkeer het. Ek kan nog nie eet nie en sit dit in die yskas en drink eerder nog ’n koppie koffie, terwyl ek wonder: ‘weet ander mense dat koffie help om hartseer stiller te maak?’

Toe almal weg is, se nagskof-vriendin dat ek nou ’n bietjie op die bed moet gaan rus, want ons verwag Bokka eers teen half elf en dit was ’n lang dag. Sy gaan al die skottelgoed was.

Die dun velletjie onder my oë brand teer van al die souttrane wat weggevee was en hang in poffers. Ek dompel twee watte-sirkels in sterk rooibostee en gaan lê op die bank in die sitkamer. Ek wil nie nou alleen wees nie.

Skaars het ek my oë toegemaak of ’n narigheid wel in my keel op. Onbeheersd sê ek al harder: ‘Nee,…nee…..NEEEE!’ Toe vat vriendin aan my skouer. Ek kon my kind aan ’n tou sien hang. Aaklig! Sy praat in ’n rustige stem: ‘As daai beeld weer opdoem, verdryf jy dit met die pragtige prentjie van vanoggend. Sien hom weer so rustig agteroor sit.’ Dit werk en ek raak weer kalm.

Teen kwart voor elf sien ek die motorligte. Ek is bietjie benoud, want ek weet nie hoe om my Bokka te ontvang en wat om te sê nie. Sonder om ’n buitelig aan te skakel, wag ek hom in die donker in.

Hy kom stadig, soos ’n kranke ou man aangestap. Ek besef hy voel nes ek. Hy kom staan voor my stil, sit sy arms om my skouer en sug ’n rou snik teen my kop. Die donker werklikheid omvou ons in hierdie lentenag, die waarheid versmoor ons. Ons kind is voorwaar weg.




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Rika Gerryts het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Rosalee het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • HENN het ‘n nuwe publikasie gemaak