
30 Skakerings van Grys
30 Skakerings van Grys
Die waarheid is seker dat elkeen iewers in sy lewe begin besef dat hy nie vir ewig kan aanhou om leuens op te dis nie. Die ding is, hoe langer dit aanhou, hoe minder word hierdie stories in elk geval geglo, tog aanvaar ons dit so maklik en soms word dit subtiel deur die samelewings aan ons voorgehou as die aanvaarbare norm. En ek skat dit is moeiliker vir vrouens om op te hou leuens vertel as wat dit vir die manlike geslag is, of dalk vertel die moderne man net sy leuens op ʼn ander en meer subtiele manier?
Sonder om te veralgemeen, wil dit voorkom asof vrouens nog oor al die eeue heen effens meer ydel en ingestel op hul voorkoms as die deursnee man was. Word daar dan nie al in die ou testament reeds gepraat oor die juwele wat vroue in hul hare gedra het nie? Dan het sy mos al hoeka-toeka geweet hoe om haarself op so ʼn manier te tooi dat dit ʼn plesierige prentjie sou vorm en sodoende die gekose spesimen se oog te trek en die voortbestaan van ʼn gesonde nageslag te verseker. (Alles het ʼn doel – absoluut alles. Tooisels en fladderende wimpers ook.)
Daar kom egter tog ʼn tyd wanneer mens nie meer nodig het om aandag te trek ter wille van voortplanting nie en hopelik ook berus in die feit dat gʼn mens vir ewig jonk kan bly nie. Waar laasgenoemde egter ter sprake kom, vind mens gou dat meeste deur hul tande sal lieg eerder as om te erken dat hulle nou al skandelik aan die verkeerde kant van 30 lê. Deur geklemde tande word erken dat 40 al gekom en gegaan het en om te erken dat gister se 50 kersies gesmelte was is, is erger as ʼn doodsvonnis! Ek kan dit seker ook nie weg wens dat Dogter al aan 30 proe nie, en dat Kleinman se drie-jarige-beentjies hom in ʼn oogwink tussen oupa en ouma in die groot bed kan inwikkel nie. Waarvoor sou ek daardie genot wil weg wens, want wat is lekkerder as om snags heerlik rustig te slaap en soggens saam met sonsopkoms ʼn klein gesiggie om die kamerdeur te sien loer? Nikse opstaan vir slukkies water of nagmerries nie – dit is ma en pa se werk.
Maar so stap die jare ongesiens aan en die tekens van verval maak onverwags hul onwelkome verskyning. Dit het begin by daardie eerste grys haar kort na Dogter se geboorte. Dit moet Baba se koliek wees, want gʼn mens word so vroeg al grys nie! Eintlik is ekself nog maar ʼn kind al dink ek ek is so vreeslik groot, want wie is in elk geval al ‘groot’ in haar middel twintigs?. Ek kners op my tande en sweer ek sal nooit aan die massa histerie toegee en soos die res ʼn pad na die haarkapper met verfkwassies en allerhande kleursels plavei nie. Vir ʼn dekade byt ek vas en tjank elke oggend soos die sout-en-peper net al hoe meer sigbaar raak. Ek is vasberade om nie toe te gee aan die gewraakte idee dat ek voortydig oud lyk nie.
Kwalik ʼn uur na ek die eerste maal 40 kersies op die koek sou doodblaas, slaan die rook onder die motor se bande uit soos dit voor die apteek se deur tot stilstand kom. Ek-kan-nou-nie-meer-nie. Met ʼn sug gee ek gelate oor aan sosiale druk want ek is nog lank nie oud genoeg om so oud te wees nie! Skroef grys – kleursel, hier kom ek – met ʼn groot geskal.
Hierdie maandelikse verwery is egter MOEITE! Nes ek in tevredenheid agteroor wil sit en bietjie rus vind weg van die onwelriekende chemikalieë wat my oë laat traan en my kopvel jeukerig laat kriewel, is die nuwe (grys) uitgroeisel weer sigbaar. Ek sweer ek hoor my hare groei! Daar is bloot net nooit tyd om in salige ontspanning en genoegdoening agteroor te sit en die lewe soos ʼn jong vrou te geniet nie. My gees en lyf is gewillig, maar die dooie haarselle speel nie saam nie. Soos ʼn goed geoliede masjien produseer my lyf onophoudelik nuwe grys sentimeters. Ek hoor die tjoef-tjoef masjien soos dit onafgebroke deur my kopvel beur.
Maar so sit ek eendag in ʼn geselskap en die tannie oorkant my deel baie trots dat sy al ʼn volle 80 jaar oud is. 80? Ek vra om haar ID kaart te sien want dit kan bloot net nie waar wees nie – nie meer daai bos opgeklitste donker hare nie. Maar ek kan sien sy kuier ook maar lekker by die haarkapper… Dus, haar leuen is nog ʼn paar grade groter as myne want sien, ek is darem dertig jaar jonger as sy (of so sê ons). Maar, wil ek oor dertig jaar nog steeds soveel moeite doen en myself vrywillig deur stres laat rondjaag agter kleursel aan? Maand na maand en jaarliks duisende rande armer net om ‘jonk’ te lyk? Mens kan ander ook maar net tot op ʼn punt bluf en dan nie verder nie. Dit lyk na moeite, en Ano hou nie van groot moeite nie. Die lewe moet net moeiteloos op ʼn koekie seep verby glip sodat daar tyd is om aan ander goed aandag te gee. Ydelheid is groot werk.
Dink net hoeveel geld gaan ek jaarliks in my beursie hê om aan skoene en naellak te spandeer – meh….! Laasgenoemde blus sommer my lus, maar boeke, dink net hoeveel boeke kan ek MAANDELIKS aankoop in plaas van chemiese middels? Ek byt vas en blaas my asem ongewoon rukkerig uit want skielik is ek onsigbaar en ou bekendes se nek ruk byna morsaf wanneer hul ʼn tweede maal moet kyk om seker te maak hul sig het nie skielik kleur verloor nie. Die vrees wat jare lank sy koue vingers om my enkels gevou het, het onverwags losgewikkel en ʼn nuwe gedaante verrys dapper uit die as.
Ek het al gehoor dat oud word nie vir sissies is nie, maar om oor te gee aan jou natuurlike haarkleur is toe ook nie vir sissies nie. Jy moet silwer staalwol op jou tande groei om deur al die kommentaar en sarkastiese opmerkings nie snikkend na die naaste haarsalon te strompel nie. Na die aanvanklike storm bedaar het, kon ek toekyk hoeveel vriendinne ewe skielik ook hul rande spaar en uitspattig toegee aan hul natuurlike kleur! Ewe skielik het die gryskrag in ons groep heelwat swaarder begin weeg.
So, sonder die gekleurde leuens ontdek ek heel onverwags ʼn nuwe een! Pensionaris dag by die plaaslike diere park en restaurant? Ag, dis so maklik soos een-twee-drie! Met Hubby aan my sy trek niemand my skielike hoë ouderdom in twyfel nie. Moeiteloos glip en deur toegang hekkies en ontvang afslag wat ek eintlik nie ‘verdien’ nie en ek wonder of my ma daar bo in die hemel sit en prewel dat “sy my darem nie so grootgemaak het nie”. Skaamteloos, ai.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.