Die JAGVERPAGTER
Die Jagverpagter
Op ons driehonderdsieledorpie („Dorf”) het vroeër vier-en-veertig families geboer. Elkeen op sy strepie erfhof van ongeveer drie tot tien hektare. Die emigrasiegolf het gekom en die verblywende broer het die erfstukkie gekoop. Oorloë het gekom en die oorlewende broer het of geërf en/of die weduwee getrou. Altyd weer emigrasie daartussen. Dan het die „boerstelle” of „-howe” (plasies) bietjies-bietjies tot dertig, veertig, dalk honderd hektare aangegroei, en enige, min, boere kon nog daarvan leef. Nóú het ons twee vol arbeidende boere wat op die paggrond van hul bure boer, terwyl diegene in die omliggende staatswoud, of in die nageleë fabrieke, motorhuise of boubedrywe werk. Menige vrou en dogter werk in ‘n kantoor, kindertuin of skool op die hoofdorp, so ses kilometer ver. Sommige plasies word nog as „naweekboerdery” bedryf.
☼
In die ou tradisie het die vors (prins, graaf) aan een van sy ondergeskikte adelikes, barone en so, die reg op jag op ‘n gebied verleen. Meestens het die boertjies niks besit nie en het die land by hul adelsfamilie gepag, in ruil vir so-en-soveel dae diens op akker, woud en veld, en die vrouens in huis, kombuis en waskamer. Vandag nog is daar enkele adelsfamilies wat groot grondbesit het, met vyftig, honderd miskien geleëntlik met ‘n paar duisend vierkant kilometers, maar hulle is raar en soos die spreekwoordelike hoendertande ver uitmekaar gesaai. Dus ís daar nog altyd „paghowe”, maar in ons gebied is die meeste plase „erfhowe”. Van een of ander koning aan sy getroue soldate as beloning na een of ander slag in een of ander oorlog geskenk.
Waarskynlik het mense van aanvang aan graag uitgegaan om te jag. Nie net vir die pot nie, maar eenvoudig so, as sport. Oral op die aarde, sou ek meen. Die wêreld alhier is dus in jaggebiede ingedeel, met ‘n minimum van so-en-soveel duisend hektare. Geen normaalsterflike vervoeg vandag oor sulke groot areale nie. Dus kom al die eienaars van grond in ‘n plattelandse gemeente saam en, as die hektare genoeg is, kan ‘n jaggebied uitgeroep word. Of twee of meer dorpies, as dit moet. Die paggeld word onder die grondeienaars gereg verdeel, ook die tuin en werf om die opstalle word getel om die nodige oppervlakte saam te kry, mits dit nie omhein is nie.
☼
Op die dorpie H word die jaarlikse „Jagversameling” gehou. Alle eienaars van landerye, weiland, woud en erwe sonder grensdrade het aanspraak op ‘n aandeel wat presies na grondoppervlakte bereken word – tot op ‘n ongebroke sent. Op H is die pagter die plaaslike hotelier en die vergadering word in sy hotel gehou. Daarná bied hy elke aanwesende ‘n ietsie aan om te eet: Forelle, eend, wildvleis, vark- of beesvleis met „kartoffel” en noedels, nie die duurste gerigte nie, maar tog. En lekker gesels met die bure wat mens nie elke dag te sien kry nie. (Iemand moet dog in hierdie land werk, nie waar nie?)
Maar eers kom die versameling met alle reëls van die kuns soos dit in die Verenigingsregulasies voorgeskryf word. Na die eerste aanstoot en Prost! loop twee snapsbottels gedurende die vergadering stadig van die een hand in die volgende om die lang tafel om, en as ‘n kelner sien dat die ene leer is, bring hy dadelik die volgende volle uit die reserwerak. Hy wat boer is, weet mos hoe om met die bottels met die krom metaalnekkies bo ingesteek en die klein dopglasies om te gaan. Daar word niks gemors nie. Die voorsitter vertel hoeveel paggeld vanjaar inkom, hoeveel hektare oppervlakte het die pag en hoeveel Euro en sent per hektaar uitkom vir die aanwesendes. Hulle wat nie kom nie, kry ook niks nie. Die grondeienaar of sy toegelate verteenwoordiger kry aan die tafeltjie sy geld kontant uitbetaal. Deesdae loop dit vlot met sulke klein blitsrekenaartjies.
Die nuwe Engelsonderwyser, wat in die voormalige dorpskool ingetrek het, word uitgenooi om aan die versameling deel te neem, gratis Wiener Sdhnitzel te eet én ‘n handgeld te kry: Hy besit mos byna ‘n halwe hektaar – sonder heining! En so kan hy sy bure leer ken, en so sal hy ook die omgang met die bottels met die pypies en die glasies leer ken. As sy tafelbure sien hoe ongeskik hy met die inskink is, is hulle behulpsaam. Hulle glo dat hy dit waarlik nooit gaan leer nie, waarskynlik te intellektueel. En elke keer as sy glas leer is, verskyn ‘n bottel van links, ‘n bottel van regs, of ‘n bottel van oorkant die tafel en hy word opgevul. Snaaks dat die bottels so gou sirkuleer.
Ook hy kry dan sy geldjies – nie eers genoeg vir ‘n pakkie twintig sigarette nie – en kort daarna maak die manne tjaila. As hy hom kom kry, staan hy alleen op die parkeerterrein. Voor hom verdwyn die rooiliggies van die laaste deelnemers, agter hom gaan die stoeplig uit, en in die dakverdieping maak die laaste kelner sy kamerlig uit.
.
As hy hom wéér kry, skud sy vrou hom heftig aan sy skouer: „Waar’s die kar? Waar’s die kar? Ek wil kerk toe! Waar’s die kar?”
O, jimmeltjie. Waasieka’? Waar ís die kar? Dan het iemand hom gesteel, roep die polisie!
Ja, ja, daar’s die spore. Die laaste spore sê dat die kar hier úítgery het. Diefstal!
Nou goed dan: Besonderhede van die kar, van die eienaar, van die plek waar dit plaasgevind het, van die omstandighede, die tyd . . .
„Pappa! Telefoon! Dis die oom van die hotel. Wanneer kom haal jy jou kar? Hy sê, dit staan dwars oor sy oprypad tussen die poste van die hek ingeparkeer. En van sy gaste wil nog kerk toe.”
☼
tje._________________║ےoΞoک║____30e.Januarie2017©.
2 Kommentare
-

neels
ek het nou hierdie bydrae werklik geniet Toom
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
[Hierdie verhaal behoort onder die opskrif ,Europa en die Wêreld'.] GvT