
‘n Kruispaasfees
Klein Talana staar na die deur en spits haar ore. Sy probeer luister of Ouma al wakker is. Talana hou haar asem op om beter te hoor, maar blaas dit teleurgesteld weer uit as sy agterkom dat die grootmense nog almal slaap.
Dis ’n Saterdagmiddag in Paasnaweek. Talana en haar ouers kuier by Oupa Attie en Ouma Tharien. Dis ’n ou gewoonte van Oupa en Ouma om altyd ná middagete ’n slapie te vat. As daar by hulle gekuier word, raak al die grootmense na ete altyd lui en vaak en wil gaan lê. Of die kleinkinders nou moeg is of nie, hulle moet ook saam gaan rus. Talana is dol oor die kuiers by haar grootouers, maar hierdie namiddag slapies is vir haar ’n marteling. Hoe slaap mens as jy nie vaak is nie? En hoe kry jy die tyd verby sonder dat jy iets mag doen? As die grootmense gaan lê, moet daar stilte wees. Dit beteken, jy mag nie TV kyk nie. Jy mag ook nie met jou pop in die tuin speel of gaan swem nie, want dan kan niemand ’n ogie oor jou hou nie. Jy moet op jou bed gaan lê en saam met die ander rus tot dit tyd is vir opstaan. Vandag is die stillê en wag vir klein Talana ekstra erg, want dis paaseierdag. Die een dag in Paasnaweek wanneer Ouma vir hulle paaseiers in die tuin wegsteek. Gewoonlik is Talana se ander niggies en nefies ook hier vir Paasfees. Dan kies Ouma ’n dag wanneer sy die paaseiers gaan wegsteek en die kleinkinders kan dit na die tyd gaan uitsoek. Die een wat die meeste eiers kry, wen. Maar hierdie jaar kon die ander niggies en nefies nie kom nie. Dus is dit net Talana wat gaan paaseiers soek. Dit het haar baie opgewonde gemaak toe sy dit hoor. Al Ouma se baie paaseiers net vir haar! Maar Ouma het besluit sy sal die paaseiers na die middagslapie gaan wegsteek en dan vir Talana kom wakker maak om dit te soek. Nou lê Talana met ’n lyf vol rooimiere, want sy wil nie slaap nie en sy is opgewonde oor die paaseiers!
Toe Ouma Tharien aan haar skouer raak, sug sy en knyp haar ogies toe. Van al die wag het sy toe tog aan die slaap geraak. Vir hoe lank weet sy nie, maar Ouma sê: Kom Tallatjie. Dis tyd vir eiers soek.” Toe Talana dit hoor, is sy met een sprong uit die bed en uit by die deur agter haar ouma aan. Vandag gaan sy al die paaseiers kry en dis alles net hare! Toe hulle buite op die stoep kom, sit haar ouers en oupa al klaar daar. Elkeen met ’n koppie koffie. Talana voel sommer vies dat sy aan die slaap geraak het. As sy wakker gebly het kon sy deur die venster geloer het waar Ouma die paaseiers wegsteek. Ouma gee vir haar ’n klein mandjie om die paaseiers in te sit. Sy hang dit oor haar arm. Toe haar ma vir haar knipoog, voel Talana sommer beter en hardloop reguit tot in die middel van die grasperk. Ouma het nou ook by die ander grootmense op die stoep gaan sit. Hulle gaan nou wag tot Talana al die eiers gekry het.
Dit neem haar nie lank om die eerste paaseier te vind nie. Vlak naby haar, onder ’n varing, toegedraai in ’n rooi en blou blink papier. Talana sit haar eerste paaseier in die mandjie. ’n Paar treë van die varing is ’n groep tuindwergies. Talana sien iets blink tussen hulle voete en loop nader. Ja waaragtig! Nog ’n paaseier. Toe sy buk en haar hand uitsteek om die eier op te tel, hoor Talana ’n vrolike lawaai in die tuin langsaan. Ouma se bure is ook ’n oupa en ouma. Oupa Attie het gister vertel dat die bure se kinders en kleinkinders vir die naweek kom kuier het. Die kleinkinders speel seker nou bietjie buite, dink Talana. Of dalk soek hulle ook paaseiers. Op die stoep sit haar ma, pa, oupa en ouma nog steeds. Druk besig om te gesels. Dit lyk nie of hulle die lawaai langsaan gehoor het nie. Talana gaan voort met haar paaseiersoektog. Sy klim onder bosse in, loop agter die vrugtebome deur en staan tot op die punte van haar tone om die weggesteekte eiers in die hande te kry. Die mandjie se bodem lê al vol van die blinkpapier-eiertjies. In die bure se tuin lag en speel die kinders tog te lekker. Talana hoor hulle heeltyd. Kort-kort roep een “Jesus!” Sy wonder of een van die kinders se name Jesus is. Vreemd, want sy dog net God se seun mag daai naam hê.
Sy loop tot by die muur tussen haar ouma-hulle en die bure se huis. Die muur is tien rapsies hoër as sy. Selfs al staan sy op haar tone kan sy steeds nie oor die muur sien nie. Talana sien ’n ou stomp raak en kry ’n plan. Sy sit die mandjie met paaseiers neer en sleep die stomp tot teen die muur. Versigtig klimp sy op die stomp. As sy haar nek rek, kan sy net-net oor die muur sien. Talana sien hulle dadelik. Vyf kinders wat oral deur die tuin loop en soek. Sy skat hulle moet omtrent so oud wees soos sy. Die vyf kinders in die bure se tuin kruip ook onder bosse in, loop tussen bome en staan op hulle tone. Besig om soos sy, ook paaseiers te soek. Talana voel skielik alleen. Dis lekker dat sy al die paaseiers vir haarself gaan hê, maar sy verlang nou baie na haar eie nefies en niggies. Een van die seuntjies kom vinnig onder ’n bos uitgehardloop en skree; “Jesus!” Hy hardloop tot in die middel van die tuin waar ’n groot houtkruis in die gras geplant is. Onder die kruis is vyf mandjies. Die seuntjie maak sy hand oop en laat val iets in een van die mandjies. Dit is nie ’n paaseier nie. “Jesus!” roep nog ’n kind en kom na die kruis toe gehardloop om iets in ’n mandjie te gooi. Hulle haas hulle weer terug na die bosse en struike om verder te soek. Talana verstaan nou glad nie wat aangaan nie. Waarna soek die bure se kinders dan? Waarvoor is die houtkruis in die middel van tuin en hoekom roep hulle heeltyd die Here se naam? Is hulle nie bang hulle kry peper op die tong nie? Talana onthou die keer toe sy peper op haar tong gekry het. Sy wou sê “gônna” en toe kom dit perongeluk verkeerd uit. Haar mond het vir ure gebrand. Sy klim van die stomp af en tel haar mandjie op. Meskien weet Ouma wat hier langsaan aangaan.
“En as jy nou so frons?” vra haar pa toe sy die stoep oploop. “Kry jy nie al die eiers nie?” terg Oupa Attie. “Nee Oupa, dis nie dit nie. Ek is nog besig om te soek, maar die kinders langsaan het my aandag afgetrek.” antwoord Talana.
“Hoe so? Wat het hulle gemaak?” vra Ouma Tharien. “Hulle loop en soek goed in die tuin, maar dis nie paaseiers nie en dan roep hulle heeltyd die Here se naam.” antwoord Talana. “Stadig nou, my kind, waarvan praat jy?” wil haar pa weet. “En dan hardloop hulle na ’n kruis toe en gooi watookal hulle gesoek het in mandjies onder die kruis.” hou Talana aan. Oupa Attie lag dat sy maag op en af skud. “Oupa, dis nie snaaks nie. Hulle kan mos nie Jesus se naam so loop en skree vir niks nie!” raas Talana. “Wag nou Tallatjie, raak rustig. Attie, die kind is deurmekaar. Moenie lag nie.” sê Ouma en kyk kwaai na Oupa. “Maar wat maak hulle,Ouma?” kerm Talana. “Kom sit hier, dan vertel ek jou. Oupa kan jou netnou klaar help soek aan die eiers.” Ouma trek ’n stoel vir Talana nader. Talana sit die mandjie met die paaseiers op die tafel neer en gaan sit langs Ouma Tharien. “Die Smitte hier langsaan het hierdie jaar besluit om Paasfees anders te maak vir hulle kleinkinders.” begin Ouma verduidelik. “Hulle het ook die Kerkdiens bygewoon vanoggend, nes ons, en ’n heerlike ete vir die familie daarna gehou. Die oupa het klein houtkruisies gemaak. In plaas van paaseiers, het hulle toe die kruisies in die tuin weggesteek vir die kinders om te soek.” verduidelik Ouma. “Hoekom kruise, Ouma?” vra Talana met ’n frons. “Wel, jy weet hoekom ons eintlik Paasfees vier, nè Talana?” Talana knik. “Oor Jesus vir ons sondes aan die kruis gehang is en ons die Ewige Lewe kan hê.” sê sy. “Dis heeltemal reg.” sê Ouma. “Eintlik het paaseiers en die paashaas niks met Paasfees te doen nie. Dis sommer goeters wat mense met die jare opgemaak het. Die Smitte het gevoel hulle wil hulle kleinkinders die regte boodskap van Paasfees leer. Die kruisies word in de tuin weggesteek en dan moet die kinders dit gaan soek. So asof hulle na Jesus self moet soek. En wanneer iemand ’n kruisie kry, roep hy “Jesus”. Deurdat hulle heeltyd Jesus se naam roep, herhinner hulle hulself waaroor die dag gaan. Die groter houtkruis is met liggies versier. Jy kan dit nie nou sien nie, maar wanneer dit vanaand donker word, skakel hulle die liggies aan. Onder die groot kruis is vyf mandjies. Een vir elke kind. Elkeen gooi die kruisies wat hy gekry het in sy eie mandjie. Die kind wat die meeste kruisies gekry het, mag die groot kruis se liggies aansit.” Ouma glimlag vir Talana.
“Verstaan jy, Tallatjie?” vra haar ma. “Ja, Mamma. Maar nou voel dit simpel vir my om verder te gaan paaseiers soek. Die paaseiers het dan niks met Jesus te doen nie.” antwoord Talana. “Wil jy eerder van nou af Paasfees soos die Smitte vier?” vra haar pa. “Ek dink so ja, maar sal die ander niggies en nefies dit ook so wil doen? Dit bly tog lekker om na die tyd al die lekkers te mag eet.” sê Talana. “Ek sê jou wat,” maak Ouma ’n voorstel, “ons kan van nou af ook kruisies in die tuin wegsteek. En die kind wat die meeste kruisies vind, kan een van daai ekstra groot paaseiers met die harde doppe kry.” Talana se oë rek groot. Daai paaseiers met die harde doppe is so groot, jy moet hom met twee hande vashou. “Regtig, Ouma?” vra sy. “Regtig, Tallatjie.”
Oupa het Talana die orige paaseiers gaan help uithaal. Sy het die lekkergoed-eiers met haar ouers en oupa en ouma gedeel. Toe dit donker word, is sy saam met Oupa buitentoe. Hy het haar opgetel sodat sy oor die muur kon sien hoe die Smitte se kleinkinders die groot houtkruis se liggies aanskakel. Dis mos nou ’n beter Paasfees as een met sjokolade eiers en paashase, dink Talana. En volgende jaar hou hulle ook ‘n Kruispaasfees. Sy hoop net Ouma onthou van die groot paaseier met die harde dop.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
dit was nou n lekker lees verhaal Helena