Stad van die Kinders, Stad van die Voëls
Stad van die Kinders, Stad van die Voëls
Dis hoogsomer en ons kom laataand in die Park Hotel aan. Dit was ‘n lang, vermoeiende dag op die pad, en na ete is alle reisgenote bly om vroeg te gaan slaap. Die TV het niks om aan te bied nie, en ek maak gou lig uit.
☼
Die eerste sonstrale kom so tussen vier- en vyfuur by die venster ingesypel. Dis snikheet, ek sweet onder die laken, en ek moet uit. As ek van die badkamer af terugkom, hoor ek die getjilp van die voëls. Een na die ander word die sangers wakker, eers vaak met pieps en paaps en voëltjiegaapgeluide; een na die ander tree ‘n solis uit die groep na vore. Stadigaan kom ‘n ware konsert deur die sangvoëls in gang. En die krag van hul stemme en die tempo styg aan tot dit die hele ruimte vul, straat-op, straat-af, tussen die bome, bo in die lug, onder op die beddings en langs die visdammetjies. ‘n Magtige koor roep, „Dankie vir hierdie mooi dag!”
Daar is niemand op straat te sien nie, net ek alleen skyn hierdie heerlike konsert te geniet. Hoe laat dit is, weet ek nie, maar ek staan op en maak my reg vir die dag. Onder is niemand in diens nie. Alle deure is toe, maar ek kan die hoofdeur met my kamersleutel oopmaak. Buite is die voëlkonsert vol in gang, maar nou is daar ander daarstellers op die toneel.
In alle rigtings, uit alle rigtings, in alle monderings is skoolkinders op pad. Kleintjies met kleurvolle Scouts en Lillifees op hul rug — wat lyk asof dit die kind soos ‘n lugbalon in die hoogte kan trek — met swaaiende boksterte of met ‘n hemp wat nou al agter uit die broek uithang. Skugternes en uitbundiges. Luidkeels. Skool- en popliedjies deurmekaar. „Hê, Hannes! Wag eers!” „Nou, kom dog!” Modieuse jong dames, regop en selfbewus met wippende boudjies; groepies-groepies in gesprek, met sierlike gebaarde, kamma die growwe seunsvolk minagtend, wat eerder polterend as strompelend vorentoebeur. Sommiges met oorstopsels, andere met ‘n besige linkerduim wat oor ‘n skermpie heen-en-weer flits. Daartussen die soliste wat met fiets en inkopiesroller, met skateboard en waveboard slingerende esse gooi en op hul uitspattige kaskenades konsentreer. Die hoërskoolseuns en -meisies wat met oopgevoude boeke kop-aan-kop al lesend en besprekend hulle pad deur die voetgangersone baan – tussen die reusepotplante en sypaadjietafels voor die kafees wat nog toe is. Andere handjie in vertroude handjie, skouer-aan-skouer, verdroomd. Slaapwandelend.
Niemand, buiten enkele kinders uit die onderste klasse, skyn op die verkeer ag te gee nie: Daar ís so te sê niks nie. Maar wag, daar kom ‘n paar busse om die hoek met kinders uit die buitestedelike gebiede en stuur in die nou straatjies in. Skooltoe. Snaaks hoe hulle so in swerms opdaag, die skoolbusse, uit alle rigtings, kruis en dwars na die verskillende skole.
En die voëls skree en kwetter en tjilp en skimp. Hulle skel en sing en maak mens se gehoor kleurvol en konterbont soos ‘n Miro of ‘n Paul Klee. Maar die kinders slenter van die een kant van die straat na die ander en maak ‘n draai om ‘n groepie wat in die ander rigting loop, hulle draai en swaai, hulle rondomtalie in hulle veelkleurige somerdrag en trek musikaalse, swaaiende bane oor die kleurige plavei-oppervlakte tussen die winkelvensters, soos by Vivaldi, Haydn of Winifred Atwell.
Nie dat hoor en sien vergaan nie, maar liewer dat kyk en luister in ‘n gesamentlike kunswerk versmelt. Volkome onbedoelde kuns, ongekomponeer en ongechoreografeer.
Die skoolklokke lui, dan oorneem die motorverkeer die geruisbeeld in toon en sterkte. Dan is die volwassenes daar met gryspak, duister gelaatstrekke en takke-takke voetstappe wat doelgerig êrens heen stap, sonder swaai, sonder draai, sonder musiek.
Dan is die konsert uit. Tyd om te gaan eet.
©31e. Januarie2107_________________________.2013.tje
[Hierdie bydrag behoort onder die Groepopskrif ,Duitsland en alle Wêreld.’]
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.