Death wish 2014
Eendag, as jy dood neerslaan
mag dit wees
êrens
waar niemand van jou weet nie
soos in ‘n diep en donker dal
– weens ‘n hartaanval –
(of iets dergeliks)
en wyl jou liggaam lê en vrot,
mag die maaiers en die kewers
– namens jou –
die Here loof en dank
vir die spyse en die drank.
Mag die aasvoëls
– wat jou oë uitpik –
dankbaar wees
oor hul groot geluk
en weet
dis álles net genade.
Mag die vlieg- en brommerlarwes
hul weë vind
na die basis van jou intellek
en deur oor en oog se holtes
tot binne-in jou skedel trek
en daar
hul slymerige paadjies baan
deur jou brein
wat meestal net uit vet bestaan.
Mag dit wat oorbly
van jou lewelose lyk
met kaste – leeg van oog –
tot in die verste heelal kyk.
Mag jou gebeentes bleek en bleik
en ek hoop jou spierwit raam
sal dán nederig erken
aan die son en aan die maan;
“ek was maar net ‘n mens.”
Mag jy dan daar fossiel
tot droeë gebeentes
. . . as profiel.
*
En eendag
miljoene jare later
(van son en wind en water)
word jou oorskot dalk ontdek
(op daardie stil en eensaam plek)
deur ‘n argeoloog of reisiger
daar waar jy – in al jou glorie –
tussen sand en klippe lê
en mag hy – in al sy wysheid –
híérdie woorde oor jou sê;
“O!. . . a fossil of a human, I presume”
en
“I wonder
how a creature – such as this –
could live,
given that it’s DNA
was so extra-ordi-narily
(so very, véry)
primitive.”
© Carma Shaw
16 Junie 2014
5 Kommentare
-

Ano
Tien duime omhoog!
-

Koekekranka
Hier slaan jy 'n koers dwarsoor jou fyner werkies in wat my totaal verstom laat oor die aaklige waarheid wat jy o so treffend goed as nietigheid van die sienbare uitbeeld. Wel gedaan!!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Jy het my verstom met hierdie een Carma