Jongste aktiwiteit:

Seevakansies

Ek sit nou die dag op die Walvisbaai Hengelklub se dek die kindertjies op die strand en dophou, ‘n dogtertjie en haar ouer boetie wat hulleself ure lank vermaak met sandkastele bou. Dis veral die dogtertjie wat my aandag trek. Ek skat haar so vier jaar oud, serp om die hare gebind met ‘n kuitlengte pers rokkie aan. Sorgeloos hurk sy in die sand, ongesteurd oor haar rok wat nat word of die wind wat haar hare deurmekaar waai.
En my gedagtes loop maak vêr draaie op Lüderitz se strand, sowat 55 jaar terug toe ek op ses my eerste seevakansie beleef het. Ons het op Grösse Bucht gaan kamp, maar kamp in die sestigerjare was anders as vandag, veral as jy van ‘n plaas afkom.
Ou-Bettie, ons ou Bedford lorrie, is gepak met ten minste vier tente. Nie dié soort wat jy met een handbeweging opslaan nie. Nee, daai was regte bruin “army” tente, die wat jy soos ‘n piramide met ‘n dik, swaar paal in die middel en baie tentpenne moes staanmaak. En dit te midde van ‘n stormwind soos wat hy Desembermaande net op Lüderitz kan waai.
Alles wat benodig word om ‘n huishouding van agt vir vier weke aan die gang te hou, is gepak en op Ou Bettie se lekker ruim bak gelaai. Daar is ruim voorsiening gemaak vir kos want Lüderitz het nie vis nie, net kreef, nie eintlik ‘n suideboer se voorkeurkos nie. ‘n Geslagte skaap is gepak vir die eerste paar dae se braai en gaarmaak, ‘n paar lewendige hoenders vir die kersete en volop vars groente. Seker dan maar blikkieskos want sonder die luuksheid van vries- en koelgeriewe hou vars kos mos maar net ‘n rukkie. En dan moes ‘n paar konkas met water gelaai word want daar waar ons gaan is nie vars water nie. En natuurlik baie bier want dis Desembermaand en dis warm.
So is ons kinders dan ook maar agter op Ou Bettie se bak vir die stowwerige tog met die grondpad Lüderitz toe. Halfpad by Goageb, of Konkiep soos ons sommer gesê het, word eers gestop en afgepak vir piekniek in die Konkieprivier. ‘n Behoorlike boerebraai met hout van die plaas en die ribbetjies van daardie vars geslagte skaap. Dit sou natuurlik warm gewees het so ons kamp onder die lekker ou groot soetdoringbome op die rivier se wal. Ek onthou hoe die tampanne uit die boom uitgeval het – so ‘n groot, vet, sagte, bruin bosluis – ‘n sieserige ding wat jy nie graag op jou lyf wil hê nie, maar ek kan nie onthou dat een ons ooit gebyt het in al die jare op die plaas of met vele pieknieks onder daardie bome in die Konkieprivier nie.
Dan val ons weer in die pad want dis nog ‘n vêr trek Grosse Bucht toe. Op ‘n kol deur ‘n dippie wip een van die konkas op my groottoon, met ‘n gevolglike geskreeu en ‘n blou toonnael wat later afgeval het. Ek kan nie veel onthou van die pyn of die behandeling nie, maar dié weet ek, as my pa ‘n gaatjie in die nael moes maak, sou hy! (Hy kón so ‘n operasie maak van ‘n doring uit jou voet haal met die mees vreesaanjaende werktuie langs hom uitgepak soos op ‘n operasietafel, goed soos else en knipmesse, terwyl hy eintlik net ‘n naald nodig had.)
Ek is seker ons kamp het die hele Grosse Bucht in beslag geneem, dit moes seker soos ‘n klein weermag gelyk het wat daar ontplooi is met al die ruim bruin tente en ander geriewe. Daar is ‘n hoendderhok onder Ou Bettie gemaak met kuikendraad want die hoenders moes ‘n rukkie hou. Maar kuikendraad keer nie ‘n strandjutwolf nie en elke nag het die sluipende gedierte vir homself ‘n hoender kom haal en ons hele krismisspyskaart beduiwel. Ek onthou dat die visstokke wel saam was, maar die enigste wat ooit aan ‘n hoek verskyn het was een of twee seeslange. Iemand het hom darem oor ons ontferm en vir ons ‘n klompie monsteragtige krewe gebring, sulke groot rooi kriewelende wesens waaroor my pa baie bly was siende dat die skaap toe seker teen daardie tyd al opgeëet was, maar ek kan nie onthou dat ek saamgeëet het nie. (Ek het hierdie lekkerny eers baie later in my lewe ontdek.)
Ek onthou later jare se vakansies by die bungalows in Luderitz (waar die Nest Hotel nou staan). Toe ons nou die ander dag op ‘n lieflike windlose sonskyndag daar op die stoep sit, kom al die ou herinneringe van dae se speel op die klein strandjie weer terug, sorgeloos nes die dogtertjie wat ek hier op Walvisbaai sit en dophou. Ek onthou van skulpies en agate optel by Agaatstrand wat ons in botteltjies met parrafien gebêre het sodat die kleure mooi wys. Ek loop weer oor dieselfde rotse waarop ons as kinders rondgeklouter het en verstom my aan dieselfde branders wat skuimend teen die rotse breek. Ek gaan kyk hoe lyk dit nou by Grosse Bucht, maar niks lyk vir my bekend nie, dis net ‘n groot oop sandvlakte, selfs die ou rooi harpoen wat destyds daar gestaan het, het seker ook die stryd teen verwering verloor. Ons ry Diazpunt toe en hoewel die loopbruggie na die kruis op die rotse se punt ook nie meer begaanbaar is nie, lyk dinge darem hier nog vir my bekend. Ek staan weer op die rotse soos jare gelede en kyk hoe die seevoëls in die wind en branders baljaar. En ons gaan kyk hoe die son vloeibaar in die see verdwyn by Agaatstrand en op Shark Island.
Dit is steeds vir my asemrowend mooi in die vakansieplek van my kindweesjare wat soveel aangename onthougoed terug bring en ek neem baie fotos om vir altyd hierdie herinneringe vas te hou.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed