Jongste aktiwiteit:

Aan die grootste sportmanne en vroue

Aan die grootste sportmanne en vroue

Ek wil julle name gaan oplees, gaan google. Iets oplees en beleef uit julle lewensverhale. Ek wil put uit jul moed en saam met julle oor die heuwels en deur die dale van die lewe stap. Want ek wil ‘n glimlag van elkeen van julle in my elkedagmandjie pak om saam met my te dra. Eintlik wil ek baie daarvan by julle kry om ook aan elk ander sonder ‘n glimlag, een te kan skenk.

Ek wil langs julle stap en my hand op ‘n rolstoel laat rus. Ek wil vergeet van my eie seer bene wat soms onophoudelik pyn of wat vashaak en my loop belemmer. Dan wil ek ook langs die baan gaan sit, neffens julle familie en naby-vriende en dalk enkele ander wat jul ook bewonder. Daar wil ek julle talent en durf en bedrewenheid dophou. Ek wil elke hou sien en die punte volg. Julle taktiek met die rolstoele sien, voordat jul die raket kan swaai. Dis dubbel soveel aandag en aksie wat nodig is, as wat hoofstroomspelers benodig. Saam met julle ouers of geliefdes wil ek ook naels kou of asem ophou.

En wanneer die wenner sy trofee ontvang, wil ek wonder hoekom dit so klein is? Of is dit net ek wat dit agterkom; sien dat dit soveel kleiner is as die hoofstroomtrofeë, maar die vreugde waarmee dit ontvang word, verblind die grootte daarvan totaal.

Weer wens ek julle kan ook op ‘n baan speel waar elke stoel volgesit word; ‘n pawiljoen om julle hê vol mense wat uitroep en asem ophou en julle aanmoedig en trane afvee. Want julle is die grootste, ware kampioene van Wimbledon, en elke ander sportbaan. Julle wat uithou en aanhou en volhou, sonder bene wat julle bring waar julle moet wees.

Ek wil julle name gaan oplees, gaan google, want ek ken dit nie. Maar ek wil julle nou onthou.

©adéle




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed