Jongste aktiwiteit:

Vertroosting in seisoene

Ek het nooit eintlik herfs geken nie. Hier in Namibië word dit nie langsamerhand winter nie; een dag is dit nog warm en skielik oorval die eerste koue front ons. Ons het dus nie die wonderlike oorgang van somer na herfs na winter met die pragtige verkleuring van bome van geel, amber en rooi tot roesbruin nie. Blare verdroog maar mettertyd tot die winterswind dit afwaai in ’n troostelose gedwarrel saam met droë winterstof.
Ek het ware herfs eers laasjaar tydens ‘n besoek aan die Vrystaat ervaar waar die populiere en amberbome my asem weggeslaan het met hulle oordadige kleure van geel, oranje en rooi. En ek weet ek wil dit weer beleef, die skoonheid van herfs met sy sagte klimaat en stadige insluimering van die natuur in ‘n winterslaap.
Baie mense is nie lief vir die winter nie en verkies eerder die son en reen wat somer in ons land bring.
Ek kon as kind nooit ‘n liefde vir die kaapse winter ontwikkel nie, die berge wat so onder die mis versmoor, het my altyd benoud laat voel want ek was gewoond aan sonnige winters met ‘n helderblou oop lug. Ek onthou daardie mistroostige wintersoggende as die Suidwestrein vyfuur by Wellington-stasie aankom en ons treine moes verwissel vir die laaste skof Stellenbosch toe, die mooi berge versluier onder die troostelose kaapse winterreen wat alles in ‘n onbeduidende wêreld van grys verander.
Gepantser teen die troostelose koue met jou Wellington “boots”, swaar swart reenjas en swart sambreel wat die kaapse wind soos ‘n papiersambreeltjie omdop sodat die yskoue reen by jou jas se kraag instuif. In ‘n lang ry dorp toe, by die Helderberg manskoshuis verby waar die mansstudente allerhande onvleiende aanmerkings skree oor ons onelegante skooldrag. Brrrr, ek ril vandag nog daarvoor!
Wintersnagte maak gelyk ‘n geborge én troostelose gevoel in my wakker, ‘n skuldgevoel oor ander wat nie in ‘n warm bed kan slaap nie.
Maar dan onthou ek ook winter in Beiere in Duitsland – sneeu wat in spierwit vlokkies speels en veerlig grond toe dartel en alles in ‘n wonderwêreld verander – sneeubestuifde droë bome en velde bedek met vars sneeupoeier. Iets so mooi en vreemd vir ons hier in Namibië dat jy dit kwalik in woorde kan beskryf.
Winter op die plaas was egter troeteltyd met biltong en lemoene en ‘n vuurtjie in die koolstoof. Die heerlike ou Ellis De Luxe het die plaaskombuis gou opgewarm en dit was by uitstek ons winterkuierplek. Hier het ons saans gekuier by die ou houttafel met die helder, warm lig van die Coleman parrafienlamp wat jy opgepomp het tot hy helder wit skyn.
Wind op ‘n wintersnag wek ‘n nostalgiese verlange diep in my wese want dit herinner my aan die gerusstellende geruis van bloekomblare in die nag op die plaas waar ek veilig en geborge gevoel het.
Winter het in die groter bestel van ons lewe hier op aarde ‘n veel dieper betekenis. Dit is die seisoen waar alles in die natuur tot rus kom, maar ook ‘n tyd van voorbereiding op nuwe lewe. En ek wonder saam met met Van Wyk Louw “hoe ek kon dink dat somer ryker is as hierdie groei se stil geheimenis?”
Eweneens het ons nie ‘n seisoen soos lente hier by die kus nie en somer kom eers laat in die jaar, hier teen November. Dan verlang ek na die uitbundigheid van ‘n binnelandse lente in Oktobermaand wanneer jakarandas en seringe hulle blommetjies soos ‘n geurige pers tapyt oor die grond strooi, koraalbome en flambojante in bloedrooi lentevreugde uitbars en bougainvilleas, kanferfoelie en jasmyn hulle kleur en geur mildelik aan ons gee.
Hier in Henties waar die lig maar so-by-so laag is in die oggend, is elke oggend wat dit bietjie ligter is vir my ‘n bonus. Dit lig my gemoed en laat my lag – al moet ek maar elke nou en dan die son en die lag in die binneland gaan opsoek. Ek sien die somer in my tuin aan die uitloop van bome en struike. En die wonder van duifies wat reg voor my badkamervenster broei of ‘n verdwaalde Marico-suikerbekkie wat kom nesskop in my tuin.
Al is daar weinig dinge seker in die lewe, is daar niks so seker nie as die aarde se wenteling om die son en die reëlmaat waarmee seisoene kom en gaan. Dit gee aan my standvastigheid, ‘n anker wat my elke dag met hernude moed vul en met oorgawe laat aanpak om die beste daaruit te haal.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed