Die dag het nuut geword (opdrag 3)
die dag het in die vaalbleek stofpad
voor hom uitgestrek, leweloos en leeg
soos elk’ ander trae dag
van sy grys en grou bestaan
herinneringe huiwer soos spookskepe in die lug,
byna al vergeet, sy swerwersiel al soekend na ‘n hawe om te rus
sy liggaam en sy moeë gees ‘n plek om te genees
uiteindelik die plaas… waar hy weer vry kan word
en hy weet dis hier waar hy net hy kan wees
talmend onder die witgat, turend oor die vlak
word als wat oud was nuut
– die windpomp se geknars, ‘n korhaan se geroep –
onthou wat in hom groei, ‘n swanger wolk wat broei
waarvan ou herinnerings soos lafenis deur hom vloei
oud het die dag geword, die son sy lê loop kry
toe die lig al minder word, toe word hy lig en vry
ou dinge uit sy verlede, het die hele dag gevul
die dag het vol en nuut geword
sy gemoed en gees vervul
©Estelle Rubow
24/07/2018
*Voetnota: “Dis soos ou lafenis waarvan sy liggaam al byna vergeet het…Die hele dag was vol ou dinge.”
Met erkenning aan Daleen Matthee, Kringe in die bos
16 Kommentare
-
-

Driekie
Pragtige stukke werk, Estelle.
-

Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie
-

Loretta Szikra
Baie baie mooi Estelle, jy het n pragtige prentjie hier geskilder.
-

Viooltjie
Dis 'n WOW gedig, Estelle
-

Callie Vermeulen
Pragtig geskryf Estelle!
-

Denise van Rensburg
Lieflike slot
-

Elroux
Estelle dit is so mooi nostalgies geskryf
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
charne
Dit is baie mooi, eendag wil ek ook so kan skryf.