Koffie en klein dingetjies
Sonder pretensie
kan ek hierdie paar woorde
op papier vaspen
en tussen my trane deur bieg,
hoe verlange aan my vreet
al probeer ek hóé hard ook al
van onstwee se liefde vergeet
V E R G E E T
van die klein dingetjies
wat my snags wakker hou
diep dieper diepste
gate dwarsdeur my gedagtes grou
soos toe ek vanoggend koffie maak
en meteens onthou
hoe jý joune drink;
boere-espresso
in ‘n blik-koppetjie
met ‘n ysblokkie daarin
hoe jou stem oor die foon
my gemoed laat blink
en hoender-trillings my deustroom,
elke keer van kroontjie tot toon
as ek aan jou soet soene dink
dingetjies soos
die gejaagde geklop
van jou hart se galop
as ons liefde maak,
hoe ek met die sagte tiek-tok-tak
van jou horlosie se stap
saans in jou arms
aan die slaap kon raak
ek mis jou geite en giere
jou lawwe sêgoed en maniere
en hoe ek myself by jou kon wees
al was dit net om laf te wees –
om saam te lag en simpel te wees
en nou…
nou verlang ek myself
heeltemal simpel na jou –
ek kan my trane nie keer nie
my verlange nie beheer nie
en altyd maar altyd
is dit dié mooi klein dingetjies
wat my hartseer wakker kom skud
@Loretta Szikra
Dankie Saartjie Bekker vir die deel van jou klein dingetjies wat wind aan my woorde verleen.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.