Klong (Hoofstuk Een) deur Eduard Smith
Hoofstuk Een
Die stilte is sy skild; ‘n kletter in die vlamme is die enigste musiek en die lig teen ‘n donker bosveld aand. Gerygde stewels aan sy voete, aangestoot teen die hitte om die geniepsigheid in die lug te weerstaan. Sy gedagtes lek soos die vlamme in helder oranjes en flietende blou…bipolêr, op en af. Vir dertien jaar al, soek hy dieselfde bekendheid op; ‘n spesifieke plek wat meer vir hom beteken as net die dooie en plat stukkie aarde wat ander mense sien. Hier het hy sy hart verloor. Hier het hy die eerste keer gesê “Ek het jou lief” en dit werklik bedoel.
Vlug hy van die werklikheid weg? Soek hy antwoorde in die gras wat enkelhoog stom staan, dalk bevestiging in die bas wat winddroog klou aan die bome tot die volgende reën? Die lewe is ‘n krieweling van insekte onder en oor die dooie blare wat ‘n ewige herfskaros onder sy voete is.
Hy pak altyd ‘n stewige sirkel klip en vee die blare meters weg voor hy die eerste vuur brand maak. Hy is lief vir hierdie heilige plekkie.
Hy sit al vir ure in die stilte. Weereens is hy hier, slaafs aan die tradisie soos elke vorige keer. Stilte, vuur, gedagtes en ‘n verlange wat saam die lang nag strek tot verby die punt waar hy nie werklik meer kan onthou hoe en waar dinge skeef geloop het nie.
Annemarie is dood en begrawe. Die kluite wat berg oor haar kis is nog klam en al wat hy wil doen is om weereens te vergeet. Hy wil ‘n marathon in sy kop hardloop tot by daardie plek vóór al die gebrokenheid begin het. Hulle was elf toe die vriendskap begin het. Eers bure en later vriende. Onafskeidbaar. Die Humans en die du Preez’s. Aan die eenkant van die lae baksteenmuur was dit Sy edele Soois du Preez, sy vrou Magdild, Francois die oudste seun en Willempie, ‘n laatlam. Aan die anderkant, sy gesin. Dokter Maarten Human, Ma Hannetjie, sus Annemarie en hyself, Dreyer Human.
Die geroep van ‘n Afrika-naguil trek sy aandag. Dreyer onthou opeens die laaste vakansie wat hulle gesinne saam in die Bosveld deurgebring het. Dit was toe hulle albei agtien geword het, en die laaste jaar van skool. Francois het een aand om die vuur geklets en gesê sy oupa vertel dat die naguil “good-lord-deliver-us” sê as hy roep. Hy het sy vinger oor sy lippe gesit om te wys hulle moet luister.
Tot nou, kan hy wat Dreyer is, nie die verlossingsversoek in die roep hoor nie, maar dit het nié destyds nie, en maak ook nié nou saak nie. Die bekende roep ontbondel die nostalgie en wederbaar ‘n herinnering van veertien jaar gelede. Onlangs het hy sy twee-en-dertigste gevier. Annemarie is vier dae voor haar dertigste verjaarsdag oorlede. Elke ding, in hom en om hom herinner aan die pyn van dood, die verwydering, die misgesorteerde emosies, al die dinge wat ongesê gebly het, die tekort aan vergifnis, ‘n laaste drukkie, ‘n laaste “ek-is-lief-vir-jou” en “ek het julle vergewe…”
So baie het onge-uiter verby gegaan en hy moes sluk-sluk, langs sy ouers, langs ‘n oop graf, aan die linkerflank van Francois, staan terwyl ‘n dogter, ‘n vrou en ‘n suster begrawe word.
Francois het rigied gepaal langs die oop stuk aarde. Maarten en Hannetjie, gemasker agter sakdoeke het gemaak sterk gelyk en Dreyer het vir die eerste keer werklik gehuil oor die verlies aan ‘n suster, en nie getreur oor die verraad nie.
Hy stook weer die vlamme. Die kameeldoring sing ‘n knetter en die rook geur die naglug bekend. Sy gedagtes maal oor die oop graf, sy blik wat almal, een vir een, dophou en die terstonde ruspose op die natstrepe wat teen Francois se neus vorm. Sy hande wat roboties ontslae raak van die roosblare in sy hande. Dit val gewigloos die sesvoet-donkerte in saam die verspeelde en verwytbare kanse wat die mens, terwyl daar lewe is, nie aangryp nie. Hul oë ontmoet…die vrae is steeds antwoorde verskuldig in die pyn wat sy kykers verglas. Die antwoorde ontbreek al jare, en nou het die ontydige dood plek gemaak vir ‘n ewige stilte. ‘n Ewige verswyging oor hoe die lewe sy spore, met andere se ambisies, deur die harte van die onskuldiges ploeg.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Beste vriend, dis 'n prikkelende inleiding, en ek sit hier met 'n kop vol vrae. Dit wil sê, jy't my gevang. Ek lees verder. GvT