Mense wat anders is
Mense wat anders is.
Die tannie met die groen hare stap knyp-knie toilet toe. Ek glimlag. Die toilet is ‘n hele entjie in die gang af. Sy sal moet ‘pikkewyn’ as sy dit betyds wil maak. Ek kyk om my rond. Die mense hier om my is anders. Nie anders soos in ‘van-‘n-ander-planeet-af’ nie, net anders.
Links van my sit twee gesinne by ‘n tafel. Die kinders is definitief vriende. Die pappas is besig op hul selfone en die mammas gesels. Die een mamma is ‘n mooi vrou. Sy hou die beursie vas, engels-sprekend en net so ‘n bietjie oorgewig. Die ander een is onopletbaar eenvoudig. Ek verbaas my oor die hoeveelheid kos, koffie en koeldranke wat hulle bestel. Genoeg om ‘n spannetjie te voer maar dan besef ek, hulle is ‘n spannetjie. Toe ek weer opkyk is hulle almal weg.
Agter ons sit ‘n dame. Stil, statig en duidelik finansieël geseënd. Ek wonder waar haar man is of wie hy was en wat hy vir ‘n lewe gedoen het. Sy kruip agter haar koffiekoppie weg maar haar oë is glinsterskerp soos die rots aan haar vinger. Sy sien alles, let elke gebeurtenis op, mis niks. Glinsterskerp en vol fasette. Ek stel my voor dat haar huis gevul is met sagte matte en waterverf skilderye, dalk ‘n spanjoel of twee daarby.
Mense stap verby, party kyk aandagtig deur die venster na die barista terwyl ander haastig voortwals net soos die agtergrond musiek, sonder versuim of ophou.
Saterdag in ‘n koffiewinkel. Hier sien ek saterdagmense besig met hul saterdagdinge. Soektogte na winskopies of net aankope van essensiële voorrade. Melk, eiers, brood en selfs kaas (as jy gelukkig is). Dis die verbygangers, die saterdagmense. Dan is daar die sitters. Elkeen by sy eie tafelpodium op hierdie skiereiland van koffiegeure en koekaroma. Hierdie mense ken meer, het meer, geniet meer. Hul teenwoordigheid hier is bewys daarvan.
Ek sit ook maar hier, ‘n drenkeling in die toneel. Suksesvol uitgespoel uit nog ‘n week van storms. Dit is Saterdag en moet brood en melk gaan koop. Ek sit net gou vir ‘n oomblik, ‘n kort rusmoment, net om te voel hoe dit voel tussen mense wat anders is.
Grootvissie
Februarie 2019
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ano
Nou goed Grootvissie, hoe lyk dit, gaan ons eendag in die verskiet vir koffie ontmoet? My gunsteling stokperdjie is om mense te kyk. Ons hoef nie te gesels nie - net vergaap aan die vreemde ongediertes wat verbykom. Dit is immers heelwat interessanter as om na vissies in n ronde bak te staar :-))))