Jongste aktiwiteit:

Die reisende man

Die reisiger
Die reisiger beweeg deur die stad se strate. Hy loer in by ‘n venster in een van die minder gegoede buurte. Die kinders sit voor die televisie, al stryende oor wie die volgende program mag kies. Hy skud sy kop. Wat het van broederliefde geword? Die ouers sit, stom en sigbaar moedeloos, eenkant teenoor mekaar by ʼn lendelam tafel. Voor hulle lê ‘n handvol rekenings met rooi ‘overdue’ stempels op. Hulle swyg, gesigte weg van mekaar gedraai. ‘n Huis waar die kinders heers en geld te min is.
Die reisiger beweeg verder in die straat af. Die volgende venster waardeur hy loer, is die boonste verdieping van ‘n rykmanshuis. Die man en vrou baklei, hy slaan haar met die vuis, sy val. Haar kop tref die bedkassie. Die wond bloei. Die reisiger se gesig vertrek van pyn, sy wange nat van die trane. Hy ken bloed, sy Meester het ook al gely. Hy beweeg haastig, onwillig verder op sy reis.
Die huis op die hoek van die volgende straat se ligte is afgeskakel, behalwe vir die hoofslaapkamer. Die reisiger loer in. Ja, hy weet van ook hierdie geval. Die vrou is sterwend. Haar man sit langs haar op die bed, hou haar hand in syne vas. Liefde en besorgdheid vir haar is onverbloemd op sy gesig. Die reisende man glimlag. Ja, so ken hy hulle. Van die begin van hulle huwelik af is die liefde en omgee sigbaar in hulle saamwees. Maar hy kan nie vertoef nie.
Die reisiger beweeg om die hoek en af in die volgende straat. Op die hoek staan vroue wat hulle kosbare liggaamsware verkoop. Arme siele, dink die reisiger. Hy dink terug aan wat in elkeen van hulle se lewens skeefgeloop het, dat hulle vanaand hier staan. Maar dit is nie nou tyd vir oplossings soek nie. Met ʼn gesmoorde sug beweeg hy verder.
Die lawaai lok hom twee strate verder, waar ‘n groep jongmense rondom brandende motorbande toi-toi. Dit skree en lawaai so dat hoor en sien vergaan. Op die buitekant van die vuurkring is die omstanders geskok en vol vrees. Geskok oor die gebeure, maar te bevrees om betrokke te raak. Hulle sal tog liewer net eenkant staan en toekyk, asseblief, moenie my betrek nie, is hulle houding.
Die man skud sy kop beswaard. Die hartseer in die wêreld tref hom weer eens. Vandat hy sy reis begin het, het hy reeds te veel trane, hartseer en smart gesien. Waar het al die vreugde heen verdwyn? As hy op sy reis net nog een vreugde-gesin kan raakloop, sal sy dag volmaak wees.
Hy loer by die woonstel op die hoek in. Die jongmeisie sit alleen op haar rusbank. Sy staar na buite. Sy is in vervoering, luister na die mooiste musiek. A, ʼn suksesverhaal! Die man juig in sy hart. Aan haar vinger pryk ‘n pragtige verloofring. Seker vanaand gebeur, dink die reisiger. Mag dit goed gaan met hulle. Met ʼn teer glimlag sit hy sy reis voort.
Twee blokke verder is ‘n groot gebou met vensters waar die ligte helder brand. Die hospitaal. Die reisiger voel die hartseer van ver af aan. Elke venster verteenwoordig sy eie smart, sy eie liggaam wat die stryd teen die lewe verloor. Die reisiger se trane loop ongehinderd. Hy ween vir die pyn en lyding van die mense aan die anderkant van die vensteroë.
Sirenes loei straat af. Die reisiger kyk op. Ja, hy weet waarheen hulle gaan. Twee motors het so pas, ‘n paar tree van hom af, teen mekaar vasgery. Beide bestuurders was onder die invloed van drank of dwelms. Hulle het kennis gemaak met die hartseer wat volg op ʼn onbesonne besluit. Hulle het gedink hulle is bevoeg om ʼn motor te bestuur, net om agter te kom dat daardie laaste een die ‘te veel’ een was. Arme mense, gebrek aan onderskeidingsvermoë was die eintlike oorsaak.
Die reisiger beweeg aan. Hy is nou op die nabure dorp. Die predikant sit in sy huis langs die kerk voor sy rekenaar. Op die skerm voor hom is pornografie. Hy kyk skelm-skelm, luister fyn of hy nie dalk sy vrou hoor aankom nie, terwyl sy gulsige oë vir geen oomblik die skerm verlaat nie. Die reisiger se hart is gebroke. ‘n Man van aansien, ‘n man wat ‘n boodskap van geloof, hoop en liefde moet oordra, aanbid ’n satansbeeld.
Verslae en hartseer beweeg die reisiger verder. Iewers, iewers in hierdie dorp moet tog nog geluk wees. Met ʼn liggaam wat swaar dra aan die sondejuk, sit hy sy reis voort. Hy moet klaarmaak.
Die buurt voor hom is duidelik ‘n armmansbuurt. Hier is geld ‘n skaars item. Deur die eerste venster sien hy ʼn man, vrou en twee kinders om ʼn tafel sit. Die borde voor hulle spreek van ’n skraps aandete. Op die tafel voor die man lê ‘n Bybel, oopgeslaan. So ja, dink die reisiger glimlaggend, dit lyk al beter. Hy gee ʼn sug van verligting. Alles lyk tog nie so verlore nie.
Sy optimisme verdwyn egter soos mis voor die son. Die beeld waarna hy deur die volgende venster staar, drup van sonde. Mans en vroue, deurmekaar, halfnaak, alkohol en pype waarmee wie weet wat alles gerook word, staan die kamer vol. Deur die rook sien hy satan se grynsende gesig na hom staar. Die reisiger draai sy rug op die huis en stap vinnig weg.
Die reisiger is moeg. Soveel hartseer, soveel sonde wat hy reeds op sy reis gesien het en hy is nog nie eers halfpad nie. Daar lê nog ‘n lang pad vir hom voor.
By die volgende dorp gaan die reisiger heel eerste by ʼn grys gebou aan wat lyk asof dit net uit tralies bestaan. Hy kan nie deur die vensters kyk nie, maar hy weet. Daarbinne, in elke klein kamertjie sit ʼn siel. Sommige is verlore, sommige is gefolter, ander gee nie ‘n duit om nie en beplan reeds die volgende misdaad na vrylating. Daar is egter ook diegene wat, juis deur hulle foltering hier agter tralies, hulle redding sal vind. Die gebou maak die reisiger egter mistroostig en hy beweeg vinnig verder.
Die stadsaal van hierdie dorp is blink verlig. Oral sit mense om tafeltjies. Die wat nie sit nie, dans op die glansvloer. Vrolike musiek weerklink en spat by die vensters en deur uit. So, die mensdom kan darem nog vrolik wees, te midde van al die hartseer en geweld. Goed so, dink die reisiger en knik sy kop tevrede.
By die kerkie op die hoek aarsel die reisiger. Sal hy ingaan en gaan ondersoek instel? Hy aarsel nog ‘n rukkie, stoot dan die kerkie se deur krakend oop. In die voorste bank sit ʼn vrou vooroor gebukkend. Hy hoor haar stem ‘n gebed murmel en sy hart vermurwe. Darem nog ʼn siel wat weet waarheen om te vlug in ‘n tyd van nood. Hy staan stil in die donker ingangsportaal en luister na haar intense gebed. Na die vrou se ‘amen’ draai die reisiger om en stap weer uit. Hy het genoeg gesien. Hy ken die vrou, sy bid gereeld.
Nog ʼn paar strate gaan verby waarin die reisiger vlugtig by vensters inloer. Sy hart is swaar, want die meeste van die tyd sien hy stukkende mense, mense wat baklei, wat skel, vloek, toi-toi en mekaar niks gun nie. Mense met verlore siele, soekend.
Die reisende engel sug. Net voordat hy vertrek, buig hy sy hoof: Meester, u engel het gaan soek en net enkeles gevind. As U wil, sal ek verder soek.”
“Toemaar, My kind,” is sy Meester se rustige antwoord. “Jy kan maar huis toe kom; gelukkig is My genade genoeg vir hulle almal.”
©Bets Koen
19 April 2017




4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed