Ontvlug na jou rus
(brons)
Ontvlug na jou rus
Kan ek tog net vir ‘n oomblik ontvlug
na daar waar my siel spoor in hemelse rus:
veilig onder ‘n boom; knus versteek
weg van moet en grootmens wreek
nou dwaal my hart in gange van vergeet
en drink bitter aan elke dag se leed
en hang aasvoëlvoos teen die nagwind
wat streel oor die alleenweeskind
koesterend in sy sussende taal
laat my gedagtes stadig verhaal:
al wat nou oorbly is die bloudruk van toe
al vra jy wat nou, hoekom en hoe.
©Cornien Naudé
31/03/2019
Neologismes:
aasvoëlvoos
alleenweeskind
ONTVLUGTING (Ingrid Jonker)
Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:
Ek speel met paddavisse in ‘n stroom
en kerf swastikas in ‘n rooikransboom
Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf
Ek is die seevoël wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as ‘n maal
Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:
My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek