Jongste aktiwiteit:

Monumentaal

My taal is soos ’n suikerbos
wat geanker teen berghange groei
en bottergeel haar blom laat bloei;
soos reën wat oor granietsteen vloei
en die droë aarde binnedring;
soos mos wat sag en groen
teen rotse rus
en alle skadu’s vul met lewe.

Soos wind wat deur die klowe huil,
maar eindelik die donker
vir vryheid en vir lig verruil –
só is sy.
En sonder hamer, sonder beitel
vind sy die krake tussen klip;
sy laat haar woorde en haar weelde
na nuwe wêrelde ontglip.

Haar wese is ’n toring
wat (sonder perk)
die horison en landskap merk.
Haar siel is wolke, soos môremis
wat geen grens of some ken nie.

My taal is soos ’n suikerbos
met vele voete in die grond;
gewortel in verskeidenheid
protea sy haar lote
wuiwend oor valleie
en die hoogste kranse uit.

© Carma Shaw
18 April 2019
11:04




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed