Monumentaal
My taal is soos ’n suikerbos
wat geanker teen berghange groei
en bottergeel haar blom laat bloei;
soos reën wat oor granietsteen vloei
en die droë aarde binnedring;
soos mos wat sag en groen
teen rotse rus
en alle skadu’s vul met lewe.
Soos wind wat deur die klowe huil,
maar eindelik die donker
vir vryheid en vir lig verruil –
só is sy.
En sonder hamer, sonder beitel
vind sy die krake tussen klip;
sy laat haar woorde en haar weelde
na nuwe wêrelde ontglip.
Haar wese is ’n toring
wat (sonder perk)
die horison en landskap merk.
Haar siel is wolke, soos môremis
wat geen grens of some ken nie.
My taal is soos ’n suikerbos
met vele voete in die grond;
gewortel in verskeidenheid
protea sy haar lote
wuiwend oor valleie
en die hoogste kranse uit.
© Carma Shaw
18 April 2019
11:04
2 Kommentare
-

Zebulon Kochk
Wat n besonderse taal is Afrikaans nie,:;baie mooi Gedig💯👏
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Margaret Cordier
Bravo!!! Carma jou digwerk roer my hart.