Jongste aktiwiteit:

Episode 1 – 6 SAI Grahamstad

Dogmor, dit was my bynaam in die weermag, maar daardie naam het eers later gekom.

Soos met enige siel wat diensplig moes doen in die vroee 1980’s het ek in spanning gewag om op die troepetrein in Wellington te klim vroeg in Julie 1982. Ek het nie ‘n idee gehad waar Grahamstad in Suid-Afrika was nie ook nie hoe koud dit daar in die winter kan word nie, maar die het ek gou agtergekom, met my aankoms.

Daar staan ek soos Kiepie, en die eerste persoon met ‘n rang wat van die trein afklim was ‘n Staf-Sersant. Sonder enige seremonie ruk hy my oproep instruksies uit my hand en lees dit. Kyk my vies aan en se: “Boet, weet jou Ma jy is hier?” Lomp antwoord ek: “Ja Staf”. “Jou Ma het jou seker gese jy moet gaan brood koop, toe dink jy jy moet brood verdien!”

Op die trein saam met die grootste klomp suip-lappe wat ek nog ooit teegekom het. Op De Aar, wil almal afklim, maar ons word verbied om dit te doen. Die trein swaai weg Oos-Kaap toe nog meer gesuip en geskarrel op en af deur die nag, soos ‘n klomp gevangenis wat nou alles moet uithaal en wys voor hulle selle toe gaan.

In die middel van die nag kom ons op Grahamstad se stasie aan en die geskreeu en gegil begin, waar ons twee of drie straatblokke ver gejaag word om op die SAMIL 100 vragmotors te klim. Natuurlik kry ons ‘n “roof rit” met ry, stop, rondval, ry, stop, rondval met die musiek wat voor in bler: “You are in the army now”.

In die middel van die nag moet ons in rye staan om ons “kit” te kry. Vra hulle vir jou watter grootte boots jy dra en jy antwoord Nommer 10 dan word jy ‘n Nommer 8 gegee. Vra hulle vir jou watter grootte broek jy dra en jy se Nommer 34 gee hulle jou ‘n nommer 42. So gaan dit aan tot vroeg oggend en almal word in ‘n bungalow geboender waar 70 siele moet slaap. Nou probeer jy boots, klere en ander items uitruil todat jy darem min of meer jou grootte kry.

Gaan slaap, vrek moeg net om ‘n halfuur later wakker geskreeu te word. Tree aan half vyf die oggend voor die menasie net om tot 06h00 daar te staan in die koue om te wag vir die menasie om oop te maak. En dit is koud, vrek koud die koue sny deur jou lyf, want jy staan daar met ‘n onderbroek en overall met moue tot bokant die elmboog opgerol, dit is 7 Julie, middel van die winter. Maak moeilikheid net om gejaag te word, maar die korporaals vee hulle af.

Na die ete begin die basiese opleiding vir 6 weke, die proses van afbreek en opbou begin nou. Jy hoor gou jy is laer as slangk@k op die seebodem, en vele ander slegse goed. Die heel eerste gebruiklike Woensdag middag sport parade kyk ek die besigheid uit en besluit en speel jukskei. het nog nooit in my lewe jukskei gespeel nie, maar net daar het ek besluit daar kan hulle my nie nog rondjaag nie.

Sommer van die begin af is daar die parate tipe wat altyd die korporaal wil beindruk, stryk sy bed met skeerroom en kam tot die komberse se hare na die een kant van die strep en die anderkant in die teenoorgestelde rigting. Ek besluit maak die bed op en pak uit in die trommel wat uitgepak moet word en dit is dit.

Tot my spyt besluit so ‘n kortgat Engels sprekende luitenant ek is sy target en pluk elke oggend my bed. Ons drink ons koffie uit so ‘n porselein bekertjie en wanneer hy jou bed wil pluk dan vra hy jou: “Van Heerden remove your cup”. Dan pluk hy jou bed. Een oggend is ek ook nou al redelik gatvol vir die roetine en nog voor hy my vra tree ek vorentoe en verwyder ek my koppie. Hy sien dit uit die hoek van sy oog, storm op my af en kom staan so styf teen my en kyk op na my met sy kop op my bors en vra my: “Van Heerden, why did you do that?” Ek se hom toe: “Luitenant, because you are going to pluk my bed”. Hy verloor sy kop, tel my bed op dat die varkpan, bed, matras en pikstel doer trek, draai om en kom staan weer kordaat teen my bors in my gesig en skreeu: “Van Heerden, you little shit, I am going to fuck you up!”. Ek kon nie help om te glimlag nie, maar is vir die res van die dag op en af gejaag tot ek voel ek gaan dood.

Ek het toe maar ‘n poging aangewend om my bed beter op te maak, maar tot my vertrek vanaf Grahamstad is my bed elke oggend deur Luitenant Kortgat gepluk!

Die tyd stap gelukkig aan en so kom almal troepe werf, die Polisie, Parabats, Ingenieurskorps en ander afdelings van die weermag wat ek nog nooit eens gehoor het nie en ek kyk maar net die storie uit.. Op ‘n stadium noem iemand die feit dat indien jy nie uit 6 SAI in Grahamstad gaan kom nie, gaan jy of ‘n stoorman word of ‘n drywer. Ek besluit vir daardie twee beroepe sien ek nie kans nie en die Doggies se manne daag op. Gaan vir die keuring, vertel die Luitenant en Sersant van die Doggies dat ek met honde grootgeword het en dat ek ‘n hond verstaan en nog ‘n ander klomp snert wat ek opmaak. Tot my skok word ek ingeroep en ek word meegedeel dat ek gekeur is vir die Doggies en moet sommer onmiddelik gaan pak, my komberse en geweer ingee en regmaak om op ‘n trein te klim.. Terwyl ek pak kom die korporaal in en ek word meegedeel Luitenant Kortgat wil my sien. Word in sy kantoor in gemarsjeer, halt, salueer en staan daar op aandag. “Van Heerden, I hear you are going to the Doggies?” Yes, luitenant”. “But, why?” Vra hy. “Because I do not want to become a stroreman or an driver, Luitenant.” F…., Van Heerden, you are my best troop” My mond val oop en al wat ek kon se is: “You could have fooled me, Luitenant!”

Nodeloos om te se ek is met groot fanvare en baie gekruide taal uit sy kantoor gejaag, op ‘n trein Hondeskool toe in Bourke’ Luck, Oos-Transvaal.




Ek skryf net omdat dit lekker is, want dit is soos terapie vir my.

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed