Jongste aktiwiteit:

Episode 2 – Bourke’s Luck

(Lees Episode 1 – 6 SAI Grahamstad)

Dit het soos 7 dae en 7 nagte se treinreis gevoel om vanaf Grahamstad na Graskop in die Oos- Transvaal te reis. Daar gekom is ons weer op SAMIL 100 troepedraers gelaai en Bourke’s Luck toe vervoer. ‘n Deel van Bourke’s Luck was ‘n ou tering hospitaal sulke regop huisies waarin 6 van ons ingedruk is vir – raai? Basiese opleiding, want ons het nie die hele ses weke op Grahamtad klaargemaak nie, so daar begin ons weer, nog ses weke se basiese opleiding. Die weermag het baie tyd en ons gaan daar wees vir twee jaar, so wat is nou nog ses weke.

Met ses van ons in so ‘n klein geboutjie met ‘n koepeldakkie was dit ‘n groot aanpassing teenoor die 70 in ‘n lang bungalow in Grahamstad. Jy leer ken almal se lief en leed, geite asook goeie en swak punte. Syfred het van Millerton gekom, dit was nou Milnerton vir die wat nie weet nie. Daar was so ‘n ander skraal laaitie wat verskriklik paraat was, hy het tot die ogies in sy boots se bruin verf afgekrap en dan die brass ogies gepoleer. Jy mag nie naby sy boots kom of staan nie dan kry hy die horrypiep.

Ons is gejaag elke dag van sonop tot sonopkoms en jy eet net een keer met middagete tweede helpings, want daarna jaag hulle jou vanuit die Blyderivier bult op met ‘n trommel vol water en wanneer jy bo kom is die water te min in die trommel, jy gaan weer af rivier toe en met die afgaan of opkom kom alles boontoe daardie eerste en tweede helping en ook alles wat jy gister geeet het.

So beur ons deur basiese opleiding en kry uiteindelik naweekpas vanaf Donderdagoggend 10h00 tot Maandagaand 12h00. Maak nie saak wat jy maak nie, maar so ‘n naweek vlieg verby en bewaar jou siel as jy ‘n minuut laat inboek, reguit DB toe en CB drils vir jou vir ‘n week. DB is die army tronk, daar moet jy met jou boots sonder veters loop en staaldak sonder ‘n doybie, dit is nou die plasteikdeel wat jou harspan skei van die staaldak. Wanneer jy CD drils doen staan jy op eenplek en marsjeer op die rooi grond paradegrond en hulle spuit jou nat gooi jou met grond en verskreeu jou die hele dag. Ek was NOOIT laat van ‘n naweekpas nie!

In een van hierdie “sesman” bungalows het die korporaals dit goed gedink om die vier ouens in te sit wat almal hakkel. Wanneer daar tussen hulle ‘n “fight” uitbreek was daar nie ‘n plek naby genoeg om te sit en luister nie. Ook maar wreed gewees. Een van hierdie ouens naamlik Skutter Roos was een naweek saam met ons klomp op ‘n naweekpas. Dieselfde naweek wat Skutter Piet von Wielligh die Maandagmiddag voor die ambulans ingehardloop het op die Witbank Highway om te kyk of dit een van sy ou pelle is wat die ambulans bestuur ligte aan en serene wat loei. Von Wielligh was blykbaar ‘n paramedic en het teen ‘n brandweer leer opgeklim om iemand uit ‘n brandende woonstel te haal en toe spuit hulle hom met ‘n brandslang van die leer af. Hy val moer toe twee verdiepings ver en het skedelbreuk opgedoen, nou is hy saam met my in die weermag!

Oppad terug in Lydenburg of daar iewers wat ‘n drankwinkel nog oop is, koop iemand te veel soetwyn by name van OBS Old Brown Sherry en Roos drink asof hy ‘n ou soetwyn drinker is. Ons kom Maandagaand net voor hier by 23h30 by die hek om met Roos nog uitgepass. So deursoek hulle die motors vir drank en wat ook al ingesmokkel kan word en ons kry Roos nie wakker nie. Verduidelik mooi dat Roos nie sal skade doen nie en sit hom in die bungalow. Die volgende oggend staan ons gebruiklike “rall call “ almal se name word uitgeskreeu en jy moet “Ja” terugskreeu. Roos se ja kom nie, en die korporaals gaan soek hom in sy bungalow. Arme Roos is die hele dag gejaag met ‘n moerse babelaas.

Net na die eerste naweekpas dink ons ons is veilig maar tree aan vir teel en opleiding van honde. Jy kies vir jou ‘n hond, ek het gelukkig ‘n Alsation tefie met die naam Julie gekies en die windgat manne vat vir hulle Rotweilers en Rotweiler Doberman kruisings. Die eerste keer wat iemand in die peleton se niks meer kry jou geweer in die hoogvoor nie, skreeu die korporaal: “Kry jou hond in die hoogvoor en daar gaan jy troep”. Dit gaan nie goed om ‘n Rotweiler te dra wat nie gedra wil word nie, hy kou jou ore af so in die hardloop!

Die tweede week gaan ons af Blyderivier toe en daar moet ons met ons honde deurswem. Die een outjie staan net daar sy bynaam was 733, want ons almal se magsnommers het begin of 78 of 79 die jaar wat jy 16 geword het, maar hy het iewers weggekruip vir die weermag, studies of so iets. Die korporaal skreeu 733 spring in met jou f… hond en swem! 733 maak niks en staan net vas op die rand van die rots, die korporaal storm op hom af en net voor hy hom in die rivier gooi skreeu 733 Korporaal ek kan nie swem nie! Hy vra hom toe nou waar kom jy vandaan dat jy nie kan swem nie. Nababeep, Korporaal! Daar is net boorgate nie damme nie!

Omdat ek so jonk gelyk het het hulle my Kleintjie gedoop, almal het byname gehad, daar was Polly wat “Hungry Like a Wolf” elke dag op sy ghetto blaster gespeel het. Siebie wat van Virgin City of Virginia kom en Smurfie wat van Welkom af kom, sy sussie het nogal lekker gevry een aand daar in Welkom se drive-in. En Bossie, hy was ‘n lost soul baie probleme by die huis gehad, maar lekker rugby gespeel, gebou soos iets soos Eben Etzebeth so jy het nie met hom moeilikheid op die veld gesoek nie. Smurfie het vleuel gespeel en byna in elke wedstryd sy skouer uit potjie gespeel dan moet dit eers weer ingeruk word agter die pale. ‘n Klomp lekker ouens wat saam met my daar was.

Ons was later so fiks, wanneer dit koud was in die oggend het ons moedswillig droog gemaak sodat die korporaals ons moet jaag. Daar was ‘n sadistiese Korporaal Leeson wat kortdiens aangesluit het en ‘n Korporaal Van Tonder wat elke keer voor uitpak inspeksie kom kaste omgooi het in die bungalow. Een aand het ons net mooi genoeg gehad en ek het die ligte afgeskakel en daar is ‘n kombers oor sy kop gegooi en hy is bietjie “gekarnuffel”. Natuurlik was daar bang gatte wat “gesplit” het op ons en ek, Smurfie, Siebie en Bossie het 7 uitpak inspeksies gehad saans wanneer die ander manne met hulle gebruiklike twee biere by die kantien ontspan. Nodeloos om te se Korporaal Van Tonder het nie weer met sy dronkgat kaste en beddens kom omgooi voor ‘n inspeksie nie.

By die teel en opleiding van die honde moes ons ook nagdiens gaan doen met tewe wat wou kraam. Hoofsaaklik het ons Bloemen Weilers geteel, ‘n kruising tussen ‘n Bloedhond en Rotweiler. Die tewe het tussen 5 en 10 kleintjies gekry. Dan het ons met hulle van baba af in hoeveelhede van 5 op en af op ‘n oop stuk tussen die kennels gehardloop. Dit het hulle later geleer om in pakke te hardloop. Pakhonde is hulle op die grens genoem. Hier by ouderdom van 10 weke het die manne wat hulle verder opgelei het geneem en opgelei om spoor te sny. Daar is ‘n ou kledingstuk gesleep vir kilometers en dan het hulle die spoor gevolg en die kledingstuk verskeur. Waaneer daar kontak met terroriste op die grens is en daar kom terrorsite weg is hulle met die pakhonde agterna gesit.

Elke troep het ook sy persoonlike hond gehad waarmee hy gewerk het, my hond was ‘n Dobermann Rotweiler Kruising teef met die naam Sheba magsnommer BW201 in haar oor getatoeer. Roetine was maar om die honde soggens uit te haal, hokke te was, dan is jy lekkerlik vol honde stront, veral as hulle jou verwelkom. Dan werk ons met die Puppies, ons was ook die Puppy Wing gedoop of die Puppies.

Korporaal Leeson het ‘n pragdier van ‘n Doberman Rotweiler kruising gehad met die naam Ramon. Hy het altyd geloop en brag dat sy hond die beste aanval kan doen. Dan is daar ‘n stupid troep wat volunteer om met ‘n aanvalspak te hardloop vir Ramon. Daar was weer eendag so ‘n maergat Engelsman wat iewers breinskade opgedoen het en hy gaan nou vir Ramon hardloop. Hulle trek jou die aanvalspak aan en jy hardloop en hou jou regterarm uit. Die Engelsman trek weg en hardloop bult af oor die rooi paradegrond en Ramon word gelos en dit is nie lank nie en trek hy deur die lug en gryp Engelsman aan die arm, ruk hom van sy voete af en sleep hom nog so ‘n paar hele tree saam. Dit is net ‘n rooi stof wolk van waar ons staan. Dan moet Leeson met sy dikgat daar kom om Ramon van die arme Engelman af te haal. Ek het die besigheid so gekyk en besluit ek hardloop nie vir enige hond in ‘n aanvalspak nie en klaar.

In die volgende skrywe sal ek verduidelik waar ek my gewraakte bynaam Dogmor gekry het.




Ek skryf net omdat dit lekker is, want dit is soos terapie vir my.

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed