In die land van Linkshandigheid, is Leonardo Koning
Kan ons die man verstaan wat die heelal probeer verstaan het? Wie se gedagtegang die tegnologie met honderde jare vooruit was? Leonardo se spieëlskrif tydens die Renaissance: Ek eet nie diere nie, ek bestudeer hulle: ‘elluh reebutsed ke, ein ereib ein tee kE’.
Boekkennis is tydelik, maar ewigheidservaring spruit uit waarneming, eksperimentering, kyk en luister. Leonardo is in die herlewingstyd as buite-egtelike kind gebore. Volgens oorlewering was sy ma ʼn vyftienjarige slavin wat vir ʼn tydperk in die dorpie Vinci naburig aan Florence in Italië, vir ʼn invloedryke man gewerk het. Vandaar die naam Leonardo da Vinci: Leonardo van Vinci.
Leonardo is nie toegelaat om formeel skool te gaan nie. Hy was buite-egtelik; ʼn vernederingswaardige skandvlek in armoede gebore; dit was soveel makliker om sy bestaan te ontken. Hy het wel geleer skryf en somme maak en in die skool van die natuur het hy deur sy nuuskierige, waarnemende geaardheid ontdek hoe die komponente van lewe die onbreekbare ineenskakeling van alles in die heelal is. In sy notaboekie het hy heeltyd notas gemaak en antwoorde probeer vind op die vrae, die baie vrae: hoe vlieg voëls, hoekom val ʼn veer ritmies horisontaal grond toe, hoe vloei water en hoe word erosie veroorsaak, hoekom dryf stukkies hout en blare op water maar ʼn klip sink, hoekom en hoe beïnvloed lig en skaduwees mekaar, hoekom skakel al die kleure van die natuur by mekaar in, watse emosie veroorsaak ʼn glimlag, hoe werk die menslike masjien, hoe gebruik miere blaartjies en stokkies om ʼn stroompie water oor te steek? Langs elke waarneming is daar ʼn skets. Die notas wat hy met die geïnkte pouveer skryf frustreer hom. Hy is linkshandig en om van links na regs te skryf, laat smeer die ink op sy hand en die papier. Geïnspireer deur sy hartstogtelike soek na antwoorde, besluit hy om sy omstandighede te laat aanpas by dit wat hý kan doen. Van nou af sal hy van regs na links skryf. Die ink smeer nie meer nie en mense verstaan nie wat hy skryf nie.
Sy pa, die heer van Vinci, het hom na jare gevind, sy kunsvermoë besef en hom as veertienjarige ingeskryf by ʼn kunsskool in Florence. Hier leer hy die basis van chemie: hoe om verf te meng, agtergrondoppervlaktes voor te berei en later word hy ook ʼn assistent in meesterswerke. Leonardo leer van alles baie, maar iets ontbreek: daar’s nie beweging in die skilderye nie. Daar móet beweging wees; beweging is léwe. Wat gebeur binne die liggaam? Hy weet hy kan die vraag slegs antwoord deur self te sien.
Die oopsny van menslike oorskot bekend as kadawers was tot laat in die 1800’s onwettig, maar Leonardo kry sy kans en begin saam met ʼn mediese dokter as assistent werk in geheime pakkamers wat se vensters toegeverf is, met kerslig of olielampe as die enigste lig. Deur die oopsny van kadawers kon hy sketse en notas maak oor die hoe die spiere en tendons se vashegting aan die bene beweging veroorsaak. Hy kon die werking van die hart beter verstaan; hoe die hartkleppe se oop- en toegaan die bloed in slagare, are en haarvaatjies deur die liggaam forseer. Hy kon sien hoe die longe aan are en slagare verbind is; die verbindingsraamwerk van die brein met die senuweestelsel. Hy kon die werking van die skedel met bewegende kakebeen en spiere sien en wat gebeur wanneer jy glimlag. Alles word vasgelê in sy notaboekies en daarom is die verhoudings van ledemate so goed in sy skilderye vasgevang. ‘A mind too fast for the world to catch up’.
Dit wat hy geskets en opgeteken het, het hy later gebruik as illustrasie vir praktiese voorstellings oor hoe die mens uit die natuur kan leer. Sy waarneming van voëls en vlermuise in vlug, het hom ʼn visioen van sweeftuie en helikopters laat sien. In opdrag van Koning Francis, het hy ʼn meganiese leeu ontwerp wat kon loop. Hy het inspirasie van ʼn skilpad gekry om ʼn gepantserde militêre tenk te ontwerp. Deur miere en die beweging van water dop te hou, kon hy sien hoe ʼn brug oor ʼn rivier gebou kan word. Die werking van spiere om beweging te veroorsaak kon hy meganies in sy sketse vasvang. Die natuur het hom alles wat hy weet en gedoen het geleer en soos hyself gesê het “Wysheid is die dogter van ondervinding”.
In sy skilderye het hy die sagte belyning uit die natuur vervolmaak. Kleure moét in mekaar vloei; alles in die lewe vorm ʼn eenheid. Hierdie tegniek staan bekend as ‘sfumato’ wat ‘deinserig’ of ‘mistig’ beteken. Dit wat hy geleer het uit die kontras tussen lig en skaduwee in die natuur en hoe lig buig, kon die droom effek veroorsaak.
Of hy ʼn liefdeslewe gehad het, weet niemand verseker nie. In sy notaboekies word niks oor liefde genoem nie, maar daar is wel filosofie en digkuns in ʼn mindere mate ter sprake. Hy kon die werking van masjiene verstaan wat beweging veroorsaak, maar nie die psige en emosies van die mens nie en dit wat hy nie kon uitredeneer nie, kon hy nie vertrou nie. Sy emosionele onsekerheid word goed uitgebeeld in ‘Mona Lisa’ se glimlag.
In sy sestigs begin hy voel of sy hande nie meer na sy brein luister nie. ʼn Beroerteaanval het sy hande lam gelê en hy is oorlede op die ouderdom van 67. Die ironie is dat Leonardo da Vinci wat as kind verwerp is, wie die naam van ʼn dorpie moes dra die naam geword het wat verewig voortbestaan. Hy is in armoede sonder hoop gebore, maar het gesterf in ʼn huis wat Koning Francis vir hom laat bou het langs sy paleis in Frankryk. Sy lewe nes sy skryfwerk, is ʼn spieëlbeeld van die moontlikhede in elke mens se lewe; die weerkaatsing van skoonheid en waarheid. ʼn Siel wat vry is om te wonder, kan wonderwerke doen.
Ek het my nooit aan linkshandigheid of regshandigheid gesteur nie, maar ek het begin wonder oor die verband tussen kreatiwiteit en linkshandigheid. Baie kuns leermeesters beweer jou regterbrein is verantwoordelik vir kreatiwiteit. Biologie leer dat jou regterbrein die linkerkant van jou liggaam beheer. Die ongewone werking van die brein gee vir desperate linkshandige mense vaardighede wat regshandige mense nie het nie. Michelangelo, Raphael, Vincent van Gogh en Mozart is bekende linkshandiges in die kunste en in die wetenskap en geskiedenis word Julius Caesar, Alexander the Great, Napoleon en Albert Einstein in dieselfde raamwerk genoem. In die Bybel in Rigters, word die vaardigheid van linkshandige krygers besing. Ehud uit die stam van Benjamin was ʼn behendige krygsman, wat saam met 700 linkshandige slingergooiers Israel uit die hand van die Moabiete op die walle van die Jordaanrivier verlos het.
“Nature is the source of all true knowledge. She has her own laws, she has no effect without cause nor invention without necessity” – Leonardo da Vinci
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Augustus 2025 - Linkshandige projek