Apollo 11 Retoer
(Met apologie aan DJO)
Een klein tree vir die mens, een reuse sprong vir die mensdom.
– Neil Armstrong 20 Julie 1969
Die partytjie jil in jolige rumoer
weergalm guitig tot diep in die nag,
hul vier die Apollo 11 retoer
en die mens se nuutverworwe mag.
Daar is geskerts, gedrink, gelag
op ‘n duikplank en in die kroeg,
gedans, hoe later hoe kwater gefuif
en dronk van hoë balkonne af gewuif.
Langs die swembad met glas omhoog
roep ‘n man, kyk, ek loop op water.
Swaartekrag het almal, koel gespat, laat skater.
Die wetenskaplike wat die woord moes voer,
wou sy blote insig met die mense deel
maar is so-ewe deur joel en jool afgesnoer.
Dronkverdriet en dreunende jolyt
soos seekat-arms dwing oral in en uit
en bikini’s wat boesemloos, bedees
in die spa-bad tuit.
* * *
Bo die bleek horison hang
die maan, sonder wolke & naak,
wat in stilte sit en soos ‘n monnik
oor sy asemhaling waak.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.