Jongste aktiwiteit:

Opruim skep ruimte vir hernuwing van jou denke en keuses

In die Suidelike Halfrond, dus ook in Suid-Afrika, begin herfs sy spore in Maart wys. ’n Kenmerk van Maart is ook die korter dae en langer nagte. Teen die einde van Maart sak die son reeds merkbaar vroeër, wat die gevoel van herfs versterk. In natuurlike ekosisteme word die verandering van die seisoen ook sigbaar in verkleuring van blare.

Die aanvangs van herfs word dikwels met ’n tyd van oorgang en afsluiting van die somer geassosieer. Die sagter lig, koel oggende en goudkleurige landskappe van die herfs, wat soos ’n kaleidoskopiese lappieskombers oor die landskap neerdaal, het ’n sterk simboliese betekenis in literatuur en poësie. Veral digters raak liries oor herfs deur dit dikwels te verbind aan temas soos verandering, verganklikheid, herinnering en innerlike herbesinning.

Herfs is ook die natuur se manier om op te ruim. Wanneer die eerste blare begin val, besef ’n mens hoe uniek die ekostelsels van die natuur is wat deur die God met die skepping van die aarde in werking gestel is. Die natuur doen self sy eie opruiming in die Herfs.

Kyk byvoorbeeld na half-bladwisselende bome. Hulle hou nie hul volle blaredrag wat hulle in die somer gehad het nie. Hulle kies as’t ware wat nodig is vir die volgende seisoen. Die res word afgegooi, word deel van die grond en dien as voeding vir insek, plant of dier. Op hierdie wyse maak die natuur sy herfskas skoon sonder dat enigiets verlore gaan.

Daarbenewens is herfs ook ’n tyd van voltooiing.

In Suid-Afrika begin baie somergraangewasse soos mielies en sonneblomme in die herfs ryp word. Boere kyk na lande wat maande lank gegroei het en sien nou die vrug op hul arbeid. Lande wat groen was word nou goud van kleur.

Die herfs sê as’t ware vir ons dat die tyd van groei sy einde bereik het. Dit is vir daardie boere die tyd van die jaar om in te samel, sy pakhuis te ontruim en om plek te maak vir die nuwe oes.

Geen ander seisoen spreek so duidelik soos herfs oor verandering nie. Somer gaan oor volheid en energie. Winter gaan oor koue en rus, die lente oor ’n nuwe begin en Herfs, die najaar, oor oorgang.

Herfs is die tyd wanneer die natuur wys hoe hy sy kas opruim sonder om mistroostig te wees. Die bome laat hul blare val sonder om te protesteer of ontevrede te wees. Die veld word stiller sonder om ’n doodskleed aan te trek. Herfs wys vir ’n mens dat loslaat uit jou kas ook mooi kan wees. Daarom gebruik mense dikwels die beeld van ’n kas wanneer hulle oor herfs praat.

Wanneer die herfs aanbreek, maak baie mense letterlik hul klerekaste oop. Somersklere word uitgehaal. Party word weggepak, sommige word weggegee en ander word weggegooi. Dit is ’n klein ritueeltjie van ordening.

Dieselfde proses vind egter ook in die mens se lewe plaas. Herfs herinner ons daaraan om weer te kyk na verlede jaar se bagasie wat ons saam met ons dra.

Sommige bagasie soos aangename herinneringe bly kosbaar. Hulle word sorgvuldig op hul plek in jou kas teruggehang. Ander brokkies van onthou het hul tyd gehad, en kan laat gaan word. Net soos die boom sy blare laat val, kan ’n mens ook van sekere onaangename insidente in die kas van sy lewe, ontslae raak. Deur die herfskas van jou lewe op te ruim maak jy plek vir hernuwing van jou denke en keuses.

Interessant genoeg gebeur onthou en loslaat dikwels saam. Wanneer ’n mens ’n ou hemp, baadjie of broek uit die kas haal, bring dit dikwels sekere aangename of onaangename herinneringe terug. ’n Vakansie, oorsese reis, ’n ontmoeting of ’n era wat verby is.

Die kledingstuk self is net stof, maar dit dra herinneringe. Herfs gee ’n mens tyd om sy eie kas van herinneringe deur te blaai. Wanneer die natuur met die aanvang van die herfs stadiger raak, kry ’n mens dikwels meer tyd om terug te kyk. Die sagter lig en koeler oggende skep ruimte vir nadenke.

Wanneer ’n mens lank genoeg na die natuur kyk, besef jy dat seisoene ’n soort wysheid dra.
Geen boom probeer vir altyd groen bly nie. Geen somer duur vir ewig nie. Elke seisoen het sy eie nostalgie en fases van groei, ontwikkeling, voleindiging, oorgang en rus Die boom wat sy blare laat val doen dit nie omdat hy doodgaan nie. Hy doen dit omdat hy weet winter kom.

’n Mens probeer soms hierdie ekologiese ritme van die natuur ignoreer, of selfs versteur. Ons is byvoorbeeld geneig om vas te hou aan insidente uit ons verlede wat lankal hul herfs verby gegaan het. Dit is in ’n mens se aard om te wil hê dat die somer in sy lewe vir altyd moet aanhou.

Wanneer ’n kas opgeruim word, gebeur iets merkwaardig. Daar ontstaan ruimte. Rakke wat vol was, raak leeg. So ook hangers wat beset was. Gereed om nuwe kledingstukke van diens te kan wees. In sy geheel voel jou herfskas ligter. Hierdie leegheid is nie verlies nie. Dit is voorbereiding, want elke herfs dra reeds die belofte van ’n volgende lente.

Maart is dus meer as net ’n maand op die kalender. Dit is ’n tyd waarin die natuur self vir die mens ’n eenvoudige les leer. Die natuur hou nie alles vir altyd vas nie. Die natuur sorteer, herrangskik en laat gaan. Die natuur maak haar kas oop, kyk wat nodig is vir die volgende seisoen, en plaas die res terug in die groot kringloop van lewe.

Miskien is dit juis daarom dat herfs so dikwels ’n tyd van besinning word. Wanneer die natuur in die herfs begin opruim, word die mens ook genooi om dieselfde te doen.

———————————————oooOooo—————————————
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 966]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed