Jongste aktiwiteit:

Wanneer die kameeldoringboom sy blare laat val …

Pieter kuier by sy vriend, Johan, op sy plaas in die Kalahari. Johan se pa is ’n jaar gelede oorlede en Johan het die plaas geërf waarop hy deesdae voltyds boer. Dit is die begin van Maart en die tekens van herfs is reeds sigbaar in die natuur.

Pieter is bekommerd oor sy vriend wat hom sedert sy pa se dood al meer en meer van die sosiale lewe onttrek en ’n kluisenaars bestaan begin voer. Gevolglik is die doel van Pieter se kuiertjie by Johan om Johan sover te kry om sy oorlede pa se klerekas uit te sorteer, sodat hy vrede kan maak met die feit dat sy geliefde pa nie meer met hom is nie.

Dit is laatmiddag en Johan het so pas hul braaivleis-vuurtjie aangesteek. Hulle sit onder ’n reuse ou kameeldoringboom en gesels oor hul kinderjare waartydens hulle vir ure lank onder hierdie einste kameeldoringboom gespeel het. Die boom het nou al begin om van sy blare af te gooi en oral op die grond lê daar verdroogde kameeldoring peule.

Pieter kyk op na die blou-blou lug bokant hulle. “Herfs in die Kalahari het darem maar ’n nostalgiese bekoring van sy eie. Johan, kan jy nog Toon van den Heever se gedig, In die Hoëveld, onthou?”

“Ja,” antwoord Johan en begin die gedig hardop voordra. “In die hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo, …

“Ja … Ja …,” val Pieter vir Johan in die rede. “Ek dink as Toon van der Heever vandag hier langs ons gesit het, sou hy sy gedig só aangepas het: “In die Kalahari, waar dit oop is en die hemel wyd en blou-blou lug daarbo … ”

Hulle lag heerlik saam, sit dan lank in stilte en staar na die uitgestrekte saggolwende duineveld van die Kalahari. Dan vra Pieter ewe taktvol “Johan, het jy al jou pa se klerekas uitgepak en herrangskik? In die stede maak baie mense letterlik hul klerekaste oop wanneer die herfs aanbreek. Die mense haal hul somersklere uit en bêre dit elders of in tasse. Sommige kledingstukke word vir liefdadigheid weggegee. Dit is ’n klein Herfs-ritueeltjie van ordening, sê hulle.”

“Nee, Pieter, sedert my pa se dood hierdie tyd laas jaar, het ek nog nie die moed gehad om sy klerekas uit te sorteer nie. Daar is soveel herinneringe in daardie kas van hom. Ek raak opnuut hartseer wanneer ek sy kas oopmaak. Miskien kan jy my help om die kas uit te sorteer, Pieter? Jy was immers vir my pa soos ’n eie kind gewees,” sê-vrae Johan.

“Ja, my vriend,” sê Pieter, “ek sal jou met plesier help om dit te doen, maar voordat ons dit doen, kom ons ry eers môre na Buks Appelblaar toe. Ek verlang nogal na die wyse ou siel wat altyd ’n antwoord of ’n storie vir alles het waaraan jy kan dink. Ek wed jou hy het nie ’n storie oor ’n herfskas opruim nie”, sê Pieter terwyl hy nog ’n stomp op die vuur gooi.

“Dit is nou ’n goeie idee, my vriend,” sê Johan met ’n glimlag. “Môre sal ons sien of wysheid sy Boesman gevang het of nie,” skerts Johan. Min het hy besef dat Pieter se voorstel van die kuiertjie by Buks Appelblaar juis daarop gemik is om hom sover te kry om sy pa se klerekas te ontruim; en op die wyse vrede in sy gemoed te vind met die feit dat sy pa nie meer daar is nie. Pieter is egter in sy hart daarvan oortuig dat Buks Appelblaar Johan met een van sy wyse vertellings sal oortuig om daardie takie af te handel.

Die volgende dag vertrek Pieter en Johan na Buks Appelblaar toe in die suide van die Kalahari waar hy en sy mense woon.

Hulle is skoon oorweldig met die hartlike manier waarop Buks hulle met die hand op die hart en met trane van blydskap groet. Vir Pieter omhels hy sommer. Toe Buks hom omhels, kan Pieter nog die reuk van Buks se vuurtjie van die vorige aand aan sy riempieslyf ruik.

“Ai … ai … my groot vriend, my hart het verlang vir jou. Naoea, Hy het jou teruggebring by my. Nou my hart hy spring soos die jong springbok by die dyn se veld,” sê Buks met ’n breë glimlag op sy koperbruin gesig.

Daardie aand sit Pieter en Johan onder die sluier van die volmaan saam met Buks Appelblaar by sy geliefde vuurtjie. Terwyl Buks die kole in die vuur met ’n stok regkrap kyk Pieter en Johan met ’n geheimsinnige glimlag vir mekaar. Buks merk dit op. Asof hy Pieter se gedagtes kan lees vra hy: “Pieter, my groot vriend, watter jakkals dra jy en Johan by julle se kop vanaand? Ek hoor hom, hy huil nie, hy lag soos die hiëna.”

“Buks,” sê Pieter verleë, ken jy ’n klerekas? In die stede maak baie mense hul klerekaste oop wanneer die herfs aanbreek. Dan maak hulle hul herfskaste skoon of pak dit reg vir die winter. Ons praat van die herfs as die najaar. Hoe maak julle mense?”

Buks Appelblaar staar lank na die kole van die vuur wat gloeiend rustig asemhaal soos ’n dikgevrete leeumannetjie wat rustig onder ’n boom lê en slaap. Dit is asof Buks ’n antwoord op Pieter se vraag in die vuur soek. Êrens in die stilte van die nag roep ’n uil na sy maat en die windjie wat nou al begin koel raak, waai liggies oor die duineveld.

Net toe die lang stilte tussen hulle ongemaklik begin raak, sê Buks met ’n glimlag op sy gesig terwyl hy steeds in die vuur staar sonder om op te kyk.
“’n Klerekas, sê jy? Pieter, my vriend …, die duine van die Kalahari het nie klerekaste nie. Die dyn se veld bêre sy goeters anders.”

Buks buig vooroor, tel ’n droë kameeldoringpeul van die grond af op en hou dit tussen sy vingers.
“Pieter, onse Boese’mense, hier by onse Kalahariland, ons het hom ook die herfskas. Net onse Boese’mense, onse herfskas hy staan nie binnekant by die huis soos julle se mense by die dorpe nie. Onse herfskas hy lê onder by die hemel.” Buks wys met sy kierie na die sand rondom hulle.
“Wanneer die warm dae begin terugstaan en die eerste koel asem van die nag langer word, dan weet die dyn se veld dit is die tyd om sy sakke leeg te maak.”

“Kyk daar!” Buks wys met sy kierie na die grond onder een van die kameeldoringbome waar peule, droë gras en afgevalle blare lê. “Wanneer die kameeldoringboom sy blare laat val, weet die woestyn dit is tyd om ligter te reis. Die kameeldoringboom maak sy sak oop en gooi sy ou goed uit. Die wind kom dan en hy vat dit en dra dit rond. Party sade gaan slaap in die sand. Party word kos vir die gemsbok en die springbok. Niks word weggegooi nie. Alles kry net ’n nuwe pad. Dit is hoe die dyn se veld sy kas skoonmaak, Pieter,” sê Buks.

Die wind fluister deur die takke van die groot kameeldoringboom en die maan hang soos ’n groot ronde wit bal bo die duine van die Kalahariwoestyn. Buks gooi die droë kameeldoringpeul wat hy in sy hand het in die vuur waar dit sag kraak onder die hitte van die gloeiende kole. en Dan kyk hy op na Pieter. Pieter het vroeër die middag vlugtig vir Buks vertel van die dilemma waarmee hy sit met Johan en die ontruim van sy pa se klerekas. Pieter glimlag en knik vir Buks.

“Buks,” sê Pieter, “in die stad waar ek woon gooi mense sommer baie goed weg. Ou klere, ou dinge. Party keer ook ou herinneringe.”

Die wyse ou Buks Appelblaar snap onmiddellik waarop Pieter afstuur. “Aha! …” sê hy terwyl hy sy hande saamvou. “Nou verstaan ek die jakkals wat by jou en Johan se kop lag.” Hy draai na Johan toe en kyk hom met deernis reg in die oë. Johan skuif ongemaklik rond, vermy Buks se oë en staar in die vuur wat nou byna net warm as is.

“Dit gaan oor my pa se kas, Buks,” sê hy sag, sonder om op te kyk. “Ek kry nie die moed bymekaar om dit oop te maak en reg te pak nie.”

Buks trek met sy kierie ’n sirkel in die sand, dan sê hy saggies: “Johan, toe my eie pa lank terug geloop het na die groot kamp van die voorvaders, het ek ook sy sak nie oopgemaak nie.”
“Die maan hy het vir baie nagte lank hier by die dyne verby geloop soos jy sien hom daarbo vanaand,” beduie Buks met sy kierie na die maan. “My pa se goeters hulle het net daar gelê. Sy ou veldsak met sy pylpunte. Sy riem. Sy mes. Sy kalbas wat hom die water dra. Sy karos. Allemal syse goeters.”

Buks kyk na Johan met erns reg in die oë. “Ek het gedink as ek dit aanraak, sal my hart weer oopbreek soos ’n droë peul van die kameeldoringboom, maar toe sê my ouma vir my iets.”

Buks bly vir ’n oomblik stil, wat vir Johan soos ’n ewigheid voel. Pieter, wat aandagtig sit en luister na wat Buks vir Johan vertel, sien die ongemak op Johan se gesig en besluit om die stilte van die oomblik te breek.

“Wat het jou Ouma gesê, Buks?” vra Pieter.

“My ouma sy het gesê: “My kind, die kameeldoringboom by die veld hy hou nie aan sy ou blare vas nie. As hy dit doen, sal die nuwe groen nooit kom nie.”

Buks buk vooroor en vee die sirkel wat hy vroeër met sy kierie in die sand getrek het met sy hand uit. Pieter en Johan is nou die ene ore en sit nader aan Buks, so asof hulle bang is hulle mis ’n stukkie van Buks Appelblaar se wysheid.

“Toe maak ek my pa se sak oop,” gaan Buks voort. “Ek het nie alles weggegooi nie. Party goeters het ek gehou. Sy pylpunte. Sy mes. Sy stories … maar party goeters het ek vir die wind gegee, want die mens se hart is soos ’n veldsak. As hy te vol word, kan hy nie meer nuwe dae dra nie.”

Buks kyk na Johan met ’n sagte glimlag op sy gesig. “Wanneer julle môre jou pa se kas oopmaak, Johan,” sê hy, “moenie dink julle gooi sy lewe weg nie. Nee, julle doen net wat die kameeldoringboom in die herfs doen. Julle laat die ou peule val sodat die nuwe sade kan opkom.”

Buks tel weer ’n kameeldoringpeul op en breek dit oop. Die sade val uit sy hand in die sand.
“Luister mooi, my vriende,” sê Buks, “’n mens se lewe bly nie in sy klere nie. Dit bly in die stories van onthou, wat ander mense nog vertel.”

’n Stilte sak oor die drie mans. Ver agter die duine tjank ’n jakkals gevolg deur die koggellag van ’n hiëna.

Pieter kyk na die volmaan wat nou al hoër bokant die duine begin hang. Hy gee ’n diep sug van verligting en sê: “Buks, jy het weer ’n antwoord gehad op ’n vraag wat ons eers nog nie mooi kon verstaan nie.”

Buks lag saggies. “Dit is nie my antwoord nie, Pieter, my groot vriend,” sê hy. “Dit is die dyn se veld se antwoord. Ek luister net. Waar die wind draai, lê die antwoord. Die dyn se veld hy skryf nie met die pen by die pampier nie. Hy skryf hom met die wind by die seisesoene.”

Hulle sit lank in stilte elkeen besig met sy eie gedagtes. Die maan klim hoër en hoër op in die naghemel bokant die Kalahari. Buks staan op en gooi nog ’n stomp op die warm as van die vuur, wat nou weer begin opvlam. “Gaan slaap nou, my vriende,” sê hy. “Môre wag daar die oopmaak van Johan se pa se kas vir julle.”

Dan kyk hy vir Johan en sê: “Môre gaan jy jou pa se kas oopmaak, né, Johan? Nie met hartseer nie, maar soos die duineveld wat sy herfs begin … ”

Die volgende middag, ry Pieter en Johan terug na sy plaas toe. Teen laatmiddag staan hulle voor die ou houtkas in Johan se oorlede pa se kamer. Die venster staan effens oop. ’n Droë Kalahariwindjie beweeg liggies deur die gordyn en bring met dit saam die skerp reuk van kameeldoringpeule wat op die grond val.

Johan staan ’n oomblik net daar. Sy hand rus op die kas se koperhandvatsel; ’n handvatsel wat sy pa duisende kere oopgetrek het. Johan haal diep asem.
“Is jy gereed?” vra Pieter sag. Johan knik, maar hy vat nog ’n paar sekondes voordat hy die kas oopmaak. Die skarniere kraak soos ’n ou herinnering wat lank stil gelê het.

Die bekende reuk van sy pa se tabak kom hulle tegemoet en dit voel asof die reuk van die tabak die kamer omhels. Vir ’n oomblik sê niemand iets nie. Pieter en Johan staan net vir mekaar en kyk. Dan haal Johan sy pa se hoed versigtig van die rak af. Hy draai die hoed in sy hande, kyk daarna, en sit dit dan op sy kop. Met ’n breë glimlag op sy gesig, sê hy: “Jy weet Pieter, Buks Appelblaar was reg … ”

Johan kyk dieper in die kas. Rye hemde, hang netjies soos sy pa dit altyd gehou het. Party is reeds verbleik van die son. Hy haal ’n paar uit en vou dit stadig op. “Party dinge, bly maar by ’n mens en party dinge moet weer die pad vat,” sê hy sag.

Pieter stap na die venster en kyk uit oor die werf. Die goue strale van die laatmiddag son streel sagkens oor die rooi sand. Die wind suis deur die takke van die ou kameeldoringboom en sy droë peule val een vir een grond toe. Die Kalahari het ’n eenvoudige manier om ’n mens iets te leer, dink Pieter. Ons leef in ’n wêreld waarin niks vir ewig voortbestaan nie, hetsy of dit die blare van ’n boom, spore in die sand of ’n mens se lewensdae is.

Agter Pieter vou Johan nog ’n hemp netjies op en lê dit versigtig op die bed neer terwyl hy saggies prewel: “Mooi is die lewe en die dood is ook mooi.” *

Die klerekas van sy se oorlede pa staan nou wawyd oop soos ’n deur waardeur die verlede rustig kan uitstap.

Buite huil die wind soos ’n jakkals wat hartroerend tjank, terwyl die kameeldoringboom sy blare laat val …

————————————————–oooOooo————————————————
©Pieter Mostert
[woordteling = 2444]
Notas:
Naoea = volgens die Boesmans die Hoogste Wese.
*Aangehaal uit die digter N.P. van Wyk Louw in sy gedig, Nog in my laaste woorde.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed