Jongste aktiwiteit:

POTCHEFSTROOM

Soveel slaggate, soveel herinneringe… Die mees bekende, beroemde en berigte name kom hiervandaan. Sou jy dwarsoor die wêreld hierdie dorp langs die Mooirivier se naam noem, sou dit die heelal verlig met glimlagte gedagtig aan stories, baie stories. Oorsprong van die beste geskiedkundiges, ministers, digters, skrywers, sangers, sportmense en… kuiergatte!

Ry jy deur die dorp, veral deur die ‘ou Kerkstraat’, herleef jy die Voortrekkertyd. Ons dorp is die oudste in die ‘ou Transvaal’ en is deur Hendrik Potgieter gestig. MW Pretorius wat President van die ZAR was, se huis is kompleet gelaat met ossewaens, windpomp en die bekende ‘nagpot’ wat in elke slaapkamer te sien is. Sy grafmonument kan tussen dié van konsentrasiekamp slagoffers gesien word. Dan is daar ook die groot wit Hervormde Kerk voor die ou Stadsraadgebou vanwaar Paul Kruger toesprake gelewer het. Die kerk in 1842 gebou, se kerkplein beslaan steeds ʼn hele blok soos daar voorsiening gemaak is vir waens kompleet met juk en os. Buite die kerk hang die grootste kerkklok wat ek ooit gesien het. Kan jy jou indink hoe hierdie gelui mense bymekaar gebring het?

In 1912 word Kenneth McArthur ons eerste Olimpiese atleet om ʼn goue medalje huis toe te bring. Hy’s deur honderde mense ingewag by die prag Hollandse boustyl treinstasie. Wat ʼn eer en voorreg moes dit nie gewees het nie! Sy vrou het oorkant ons in Kockstraat gebly en ek het gereeld vir haar gaan kuier. Dan het sy my met traanoë vertel van hom: hoe hy sy bene op die stoeltjie neergesit het na oefening sodat sy kuitspiere gesmeer kon word. Sy het die stoeltjie vir my gegee en geen geld in die wêreld sal dit by my kan afvry nie! Die stasie het intussen afgebrand, maar die gebrande buitemure vertel steeds onvernietigbare verhale.

Potchefstromers is lojaal en het ʼn geskiedenis deurtrek van families wat besighede kon opbou uit niks en deur geslagte heen kon onderhou. Na ʼn honderd en iets jare steeds sinoniem met die dorp –  Turkstra Bakkery! Ek is opreg jammer vir almal wie se monde nou nie net ‘water’ nie, maar tekens van ʼn spoeg tsunami toon. Sou daar ooit ʼn vleispastei kompetisie oor die aarde gehou word – Turkstra sal as besliste wenner aangewys word! Kan jy dit proe? Johan Claassen was een van ons beste rugby Springbok kapteins. Claassenbroers was vir baie jare die winkel waar jou ma jou aan die begin van elke jaar gevat het vir nuwe skoolskoene, skoolklere en sportdrag. Die bekendste hoenderverspreider in Potch en regoor Suid-Afrika is in ʼn motorhuis in die dorp naby Boys High meer as sestig jaar gelede begin. Die groeiende hoenderbesigheid is oorgedra van geslag na geslag en word as een van die grootste werkverskaffers in die dorp gesien. Die tragiese gebeure die afgelope paar maande het die dorp tot stilstand geruk toe ons moes hoor dat twee van die bestuurders en erfgename van hierdie bekende gerespekteerde familiebesigheid, vermoor is. Al het ons die mense nie persoonlik geken nie, was dit asof jou eie hart deur koeëls getref is.

Die PU vir CHO dateer uit 1869 en het sy ontstaan hoofsaaklik te danke aan die Teologiese skool. “Het Potchefstroom Universiteitskollege voor Christelike Hooger Onderwijs” met die groot naam “Totius” as een van die baanbrekers. Ons wat in die 70’s en 80’s ‘opgegroei’ het se huis-en skoolwaardes was onbreekbaar verbind met Godsdiens en kultuur. Ek onthou hoe ʼn ‘ou’ onderwyser ons by ʼn saalbyeenkoms vertel het hoe hy lank gelede as baie siek seuntjie uit die hospitaal ontslaan is. Hy kon nie self loop nie en ʼn vreemde oom het hom kar toe gedra. Ek onthou die knak in sy stem toe hy sê: “Die oom se naam was Totius”. Totius se huis, oorkant die MW Pretorius museum en so entjie van die Teologiese skool bestaan steeds; die ronde brilletjie op sy oopgeslane Bybel soos dit altyd was.

Studentelewe in Potch. Ek onthou die dreunsang by sportbyeenkomste: “O Pukkie jy, O Pukkie jy…” en die optogte deur die strate met week lank geboude kleurvolle vlotte en rye studente met klingelblikkies. As jy die vorige aand effe te veel gekuier het, het hierdie klank van geld soos die groot klok by die kerk in jou kop gedoef-doef, maar soos die blikkie voller word, het die pyn verdwyn. ‘Droogmaak’ is maar deel van studentwees en so sing Amanda Strydom ook in haar liedjie “Totius sou verstaan”. Teen die einde van die 70’s word Totius se monument opgerig. Ons as skoliere het van oral gekom met baniere waarop dele van sy gedigte was. Die monument is egter so skuins oorkant ʼn drankwinkel staan gemaak. So lag ons toe maar saam met die studente wat dit goed gedink het dat Totius ook dalk dors kan word. Voetspore is reguit na die drankwinkel geverf en ʼn kronkeldronk voetspoor weer terug tot by die monument.

Bourbons! Die lekkerste kuierplek in die geskiedenis van die mens maak sy deure op die Bult oop. As jy nie al op Bourbons se hout tafels met ʼn bier in die hand gedans het nie, was jy sowaar nie ʼn Puk nie. Die Elgrohotel, steeds ook ʼn jarelange familiebesigheid was in dié tyd bekend vir sy disko’s’ en die Impalahotel vir sy sokkie aande. Wat ʼn wonderlike tyd vir studentwees! ‘Die Akker’ eetplek op die Bult bly tot vandag toe ʼn wenner met sy geraamde prente van vergange dae teen die mure.

André P Brink, TT Cloete en ons eie Prof Hans du Plessis het almal van die water van die Mooirivier gedrink. Minister Pik Botha was hier op skool, maar so ook Glenda Kemp, die ontkleedanseres wat met Oupa die slang om haar nek gedans het! Sangers uit Potch, groot name soos Rina Hugo, Johannes Kerkorrel, Bouwer Bosch & Straatligkinders, Pieter Smith, Anna Davel en ons eie Hollandse sangeressie Amira. Karen Zoid het darem ook al ‘headbanging’ lekker hier gekuier: “My sussie bly in Potchefstroom. Die mense daar rook almal boom…”

“Beproef alle dinge; behou die goeie” – Tessalonisense 5:21




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed