Jongste aktiwiteit:

Wat is jóú voorgee?

Van Gholf weet ek niks –  boggerol, maar ek hoor altyd hoe mense met hulle voorgee spog. Ek wonder maar net of die voorgee van die voorgee werklik is, of is dit net wat hulle wens dit moet wees? Voorgee is mos ‘pretend’ in Engels?!

Die wyse Shakespeare het gesê die wêreld is die verhoog waarop almal ʼn rol speel. Hoe goed is die rol wat jy op hierdie lewensverhoog speel en hoe kom dit ooreen met wie jy werklik is? Wanneer jy afstap van die verhoog wonder jy wat die gehoor van jou spel dink; was dit jou beste vertolking? Ek hou van misdaadstories, waarvan ‘Who the bleep did I marry’ een is. Mense wat voorgee hulle is die beste ding wat ooit met jou gebeur het, net om later uit te vind hierdie persoon lei ʼn perfekte dubbele lewe of soos die storie van die eerbare polisieman wat sy hele loopbaan opoffer om die moord op te los, die moord wat hyself gepleeg het. Dis dié tipe voorgee skokke in die mensdom waarvoor nie eers ʼn dubbel brandewyn kan help nie. Eish!

Sosiale media help ook met die aanhitsing van hierdie voorgee-sindroom. Mense wat hulleself as so suksesvol, gelukkig en ryk voorstel dat hulle amper nie hulle eie liegstories kan glo nie. Wat erg moet wees op hierdie mense is om aan te hou lieg vir hulleself en vir hulle lesers banket te hou met al die bullshit. Hoe onthou hulle hoe hulle gelyk het op die vorige foto wat ge-edit is? Die konsentrasie op al die plooie, dubbelken en haarkleur en “O hel, was my oë blou of groen op die vorige foto?”

Matriekafskeid! Net om daaraan te dink is om naar te word. Duisende rande word verkwis om vir een aand mooi te lyk? Is dit nie hier waar aktiviste vir ‘menseregte’ moet ingryp nie? Hoeveel moet arm mense nie opdok om met die rykes vergelyk te word nie? Hierdie kind wat vir een aand kan voorgee dat hy of sy uit dieselfde huisomstandighede kom, maar wat van die volgende dag en die dag daarna? Hoe kan skole leerders aanhits om te wees wat hulle nie is nie; om dit wat hulle nie het nie as waarheid voor te gee? Ek sou sowaar net so lekker of lekkerder kon partie in jeans en tekkies as in ʼn ontwerpersrok.

Ek glo dis elke kind se droom om eendag beroemd te wees; hetsy ʼn akteur of prinses of prins – iemand op ʼn wit perd of binne ʼn koets, maar wanneer jy ouer word besef jy onder hoeveel druk hierdie fantasiemense moet wees. Hoe gee jy voor jy’s heeltyd vrolik en vry, maar binne jou skreeu jou hart; ʼn hart wat jy nie meer ken nie. Dis hoekom Greta Garbo altyd een van my groot hero’s sal wees. Sy was hierdie wonderlike aktrise in Hollywood wat op die hoogtepunt van haar loopbaan besef het hoe gatvol sy is vir hierdie voorgee ‘make believe’ wêreld en het haarself met “Los my net alleen” onttrek tot in ʼn kluisenaarbestaan. Viva Greta!

So van ’Viva’ gepraat. Politieke kringe moet net so ʼn helsbestaan wees! Jy moet elke oomblik van jou lewe voorgee dit kannie beter gaan nie en “as julle vir mý stem, sal dit netso goed met julle gaan”. Die ontkenningsvoorgee: “Ek het geen aandeel in die agteruitgang van die paaie, krag- en watertoevoer nie, dis Jan van Riebeeck se skuld. Kry jy net jou 30% slaagsyfer, ons is daar vir die 70% wat jy nodig gaan hê om te oorleef”. Dan klap almal hande; gaan wag buite die stadion vir die taxi’s en busse terwyl die politikus verby ry met tien gewapende lyfwagte en bloulig sirenes.

Maar wat sê die filosowe en navorsers hiervan? Volgens Peter Langland-Hassan is voorgee die bevestiging van leuens; leuens wat jou beter laat inpas by jou eie verwagtings en dié van die wêreld om jou; die aanpassing by jou eie fantasie. Socrates en Plato verwys na die verwarring wat voorgee kan bring wanneer dit jou identiteit en eie waarheid vernietig. Schopenhauer sien die fenomeen as die ‘voorgee van ʼn lewe wat die moeite werd is om te leef, om die beste te maak van die lewe’. Voorgee is die komplekse meganisme waarin emosies, sosiale aanvaarding en identiteit vasgevang word.

Voorgee volgens Carl Jung, is die ontkenning van jouself; jou manier om die donker skaduwee wat jou volg te vermy. Jy probeer perfek wees ten spyte van jou beperkings. Sy raad: aanvaar jouself en dan eers kan jy psigologiese groei toon. As jy nie jouself kan wees nie, word jou beperkings soos angstigheid, skaamte en jaloesie sterker en meer destruktief. Aanvaar jouself, aanvaar jou foute, want jy kan nie iets regmaak wat jy ontken nie.

Die Bybel sê dit sommer net reguit, sonder voorgee: lewe in die waarheid, verwyder die maskers van vals trots en huigelary. God kyk nie na jou uiterlike nie, maar na opregte geloof. Erken jou swakhede en lewe in Sy waarheid. Wees opreg in alles wat jy doen.

Wat is mý voorgee? Ek hou nie van klomp mense bymekaar wat heeltyd yap yap yap sonder om regtig iets te sê nie. Ek hou van alleenwees; sal ʼn grot op ʼn eiland bó ʼn mansion in Sandton verkies – sonder mense!!

“Doemanie, dja djy met djou kamma sed smile” – Adam Small




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Pieter Mostert het ‘n nuwe publikasie gemaak