Ou Madala en die waterwyser
Ou Madala en die Waterwyser
Die seun se seningrige lyf word groter soos wat hy oor die duine naderkom. Ou Madala skreef sy oë teen die verblindinde Noord-Kaap son. Die draadkar maak ‘n lang ry netjiese spore regoor die sandduin en lê roerloos in die windstiltes van Keimoes. Hier onder die afdak is die verstikkend warm. Dié dat ou Madala skaamteloos kaal bolyf op die riempies sit.
Sy naam is Matroos. Die blou skeepspet sit windskeef op sy kop. Dis al wat hy van sy pa oorhet voordat die groot oseaan hom destyds in Algoabaai gevat het. Sederdien is Ou Madala en Matroos een asem. Ou Madala sug – dis ook al oor die tien jaar terug. Matroos is seker nou al ‘n jongseun van by die veertien jaar!
“Kyk wat het ek gekry Madala!” roep Matroos toe hy binne hoorafstand kom. Hy beduie na iets op die bak van die draadkar. Ou Madala staan op en huiwer op die rand van die afdak. Op die warm sand wil hy nie. Die son sal hom so wragtig kaiings braai!
Dis ‘n witgebrande sleutelbeen van die een of ander groot dier. Matroos versamel beendere van gestorwe diere al van kleins af. Van vroegdag af soek hy met sy draadkar dwarsoor die duine na die goed. Sy kamer lyk al soos ‘n argeologiese museum! Hierdie jaar het hy baie gekry. Dis asof die droogte feller op die diere inwerk…water is skaars…en hier is niemand oor wat kan waterwys nie!
Matroos parkeer sy draadkar in ‘n wye es voor die afdak. Hy gooi water uit die kan en drink groot slukke. Dan kom sit hy op die tamatiekis langs ou Madala. Die stilte pla nie. So deur die jare het hulle één geword met die sandduine rondom Keimoes. Die naaste bure is seker ‘n goeie twintig kilometer van hulle af! Een maal ‘n maand span hulle die donkiekar in en gaan koop lewensmiddele in Keimoes. Op pad terug kuier-kuier hulle by al die bure. Dan daal die stilte soos ‘n vars bui reent neer.
“Die put is amper droog Madala.” Matroos kyk bekommerd na die laaste bietjie water in sy beker. Dit is hy wat met die kruiwa loop en die kan elke aand gaan volmaak. “Ek kry meer modder water as enige iets anders! Ou Madala kruis sy bene lank voor hom uit en sug. “Die Jirre sien, Matroos. Hy stuur die reent op die juiste tyd, nog al die jare.”
Matroos slaan sy oë op na waar ‘n paar kraaie in die verte draai. “Die diere vrek sonder water. Sien die Jirre dan nie dit óók nie?”
Ou Madala antwoord nie. So al asof hy die versugting in Matroos se stem nie gehoor het nie. Toe die son sak en die maan verligting bring, maak ou Madala n eenvoudige aandmaal van rys en boontjies op die vuur. Matroos kry die kruiwa agter die huis en die lëe kan water onder die afdak en stap fluit-fluit put se kant toe.
Later lê hy en kyk na die drogbeelde van sy beendere wat die kersvlam teen die muur gooi. Sal die Jirre hoor as hy bid vir reent sodat die diere nie so vrek nie? Dis nie lekker om so baie beendere in die sand op te tel nie…daar is deesdae net te veel! As ou Madala net moet sien hoeveel diere lê net oor die eerste groot duin…diere met vélle…die beendere wys nog nie eers nie!
Toe die laaste ster laag aan die hemel hang is Matroos op. Hy maak ‘n beker vol sterk moerkoffie en eet ‘n stuk beskuit daarby. Die lug is koel. Vandag laai hy sy grafie in die draadkar. Sy eensame figuur verdwyn agter die duin en sy draadkar maak ‘n netjiese ry nuwe spore.
Vanoggend loop hy anderkant om die duin.
Hier het hy ander dag ‘n nat kol in die sand gewaar. Hy het ‘n paar klippe op mekaar gestapel sodat hy die plek maklik weer kan kry. Vandag gaan hy kyk of die nat kol steeds daar is.
Die son sit al ooghoogte toe hy die klipstapel bereik. Hoopvol kyk hy grondtoe. Dis sowaar steeds nat! Hy sak af op sy hurke en grawe in die natgeid. Dit voel koel tussen sy vingers! Hy gaan kry die grafie van sy draadkar af en gaan sit op sy hurke en grawe ‘n holte in die sand. Hoe dieper Matroos grawe, hoe natter word die sand.
Teen heuphoogte begin helder water syfer. Toe eers gaan sit Matroos langs die gat en kyk verwonderd na die water wat helder opdam. Amper eerbiedig buk hy vooroor en skulp sy hande om die water op te vang. Dit proe soos manna. Hy gaan lê plat op sy rug en troetel die soet vog tussen sy lippe.
Toe eers besef hy dat hy niks saamgebring het om die water mee op te vang nie! Hy skud sy kop oor sy eie onnoselheid. Hy kyk op in die blou. Die son sit nou te hoog om weer terug te gaan en weer terug te kom!
Hy besluit om dieper te grawe. Hy sal ‘n opvangbak grawe. More sal hy ‘n pyp skuins aanlê. Hy het water gevind!
Die klein grafie werk oortyd. Toe die helder water begin uitborrel en Matroos in die opvangbak kan staan, is die son op sy hoogste. Matroos is gedaan gegrawe, maar in sy oë brand daar ‘n nuwe lig. Moedig kom hy op die been, vat die draadkar en begin die pad huistoe stap. As ou Madala darem hierdie prentjie kan sien!
Toe die huis op die horison verskyn wil Matroos amper die duin afhardloop. Tog, hy bedwing sy opgewondenheid. Sy bene protesteer teen die warm sand. Ou Madala sit onder die afdak en bone sorteer. Matroos se keel is droog en hy maak sy beker vol water. Toe hy op die tamatiekissie neersak kyk hy na die modderigheid onderin die beker en glimlag.
“Ou Madala” hy wag. “Ja wat Matroos?” Die ou bene rank seningrig voor hom uit.
“Ek het water gekry.”
Die ou oë knipper Matroos se kant toe. “Wat meen jy nou?”
Matroos draai sodat hy ou Madala in die oë kan kyk. “Ek meen ek het water gekry.”
Toe, asof ‘n damwal wat bars breek die stilte en kom die woorde ‘n sortvloed.
“ Anderdag al het ek ‘n nat kol in die sand gesien. Toe het ek ‘n stapel klippe gepak en gedink ek sal oor ‘n paar dae weer gaan kyk. En toe is die nat kol steeds in die sand! Vandag het ek begin grawe, Madala, en daar is water! Dit borrel helder water uit die grond uit!”
Ou Madala sê eers niks. Hy skreef sy oë in die bloutes in. Sy stilte bou ‘n damwal oor Matroos se stortvloed woorde. Matroos se woorde droog op. Het hy verkeerd gepraat?
Madala breek die stilte. Sy oë is wasig.
“Vamelee was ek mos Keimoes se waterwyser.”
Dis nuus vir Matroos. Hy het altyd gewonder wat ou Madala gedoen het voordat hy homself hier in niemandsland kom wegsteek het.
“Ek ken hierdie duine soos die Jirre vir my ken. Ek het die duine kruis en dwars geloop en oral waar ek nat kolle gesien het, het ek slote beginne grawe. Die mense waarby ons elke maand kuier, hulle het toe huise al by die slote opgesit. Ons het pype aangelê, vlotterkleppe ingesit, en kristalhelder water het vanuit die putte by die huise aangekom. So het ek al langes die watertafel watergewys –
Tot hier. Toe word die water klaar. Net hier het ék huis opgesit. Hier waar die water klaar was.”
Matroos sit verwonderd. “Madala, wil jy vir my sê dat jy vir al die mense op ons pad Keimoes toe water gewys het, maar jy sit sonder water? Waarom het jy nie die laaste put vir jou gevat nie, waarom het jy nie geld gevra nie?”
Ou Madala sug. “Maar Matroos dis mos nie mý water nie! Dis die Jirre se water! Hoe kan ek nou loop en spog as dit altoos die Jirre is wat die water gee? Ek wys maar net waar die water is!”
Matroos lag. “En nou het die Jirre my gewys waar onse water is! Madala – die dooie beendere het my gewys waar lewe is! As ek nie elke dag agter die beendere aangeloop het nie het ek nooit die fontein ontdek nie!”
Matroos se oë blink. “Sal jy my leer hoe om die pype aan te lê en die put te bou, Madala?
Madala dank die Jirre so in sy binnekamer. Sy jarelange gebed is verhoor. Die ou tong klik-klik. “Ja Matroos, ek sal.”
Die Jirre het ‘n nuwe waterwyser aangestel.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir FEBRUARIE 2026 – OOP projek