die stem leef voort (Goud)
ek dra my taal met fierheid en met trots,
nie soos ’n fluistering wat skaam wegskram
van kombuistaal tot regop hart se klank
loop sy in my soos bloed deur my are
en kom lê sy warm en seker in my mond
my taal ruik dalk nog na stof en natte reën
wat spat teen ruite van ’n sinkdakhuis
na môrelig wat deur ’n kombuisvenster breek
na eeltehande wat die brood breek en bid
na alles waarin my oorsprong nog lê
hier het ons volk met woord en werk gebou,
sy spore diep oor baie jare neergelê
in skool en kerk, in ploegvoor, in psalm en lied
in elke huis waar Afrikaans nog helder klink
en in die hand wat bly bewaar wat kosbaar is
sy leef nie net in wat die jare agterlaat
maar in die stem wat vandag nog helder klink
in kinders wat haar sonder skaamte verder praat
in elke hart wat steeds sy oorsprong ken
en in die mond wat haar met liefde verder dra
ek dra my taal nie half of huiwerig,
asof sy stil in donker gange moet verdwyn
nee, ek juig oor wat my voorgeslag vermag
oor wat hul vasberade in die land help bou het
want in hul spore leef Die Stem nog voort
©MarleneErasmus
20/04/26
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.