beterweter (Goud)
by uitstek is daar mense wat altyd beter weet
en nie skroom om die sin …laat ék jou vertel…
te gebruik vanaf hul denkbeeldige seepkissies nie
dit klink asof hul alomteenwoordig moet wees
by al wat ‘n gebeurtenis is
want Verteller begin nét praat, met almal aan sy lippe
of Beterweter vat die aas en swem met die storie weg
en die rivier waarin als as die heilige waarheid begin het
word ‘n stormagtige see waarin Beterweter se béter storie
hoogtes bereik waarby niemand kan uitkom nie
en Verteller en gehoor verdwyn
in die vertelling wat in ‘n eenpersoondrama ontaard het
beterweters is oral en hul elkeen glo vas
dat hulle altyd reg (en onbetwisbaar)
dié een moet wees, wat vir ánder vertel…
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.