Jongste aktiwiteit:

Zambië Kuier – 5

Nadat ons gisteraand papsopnat gereën het in ’n opregte Afrika bosveld donderstorm, het ons vir die eerste keer in baie….baie jare ’n ondervinding met ’n donkie beleef. Nie ’n eee-aw donkie nie, maar ’n donkie wat ons van warm water moes voorsien. Ons hele tent was in ’n waas van rook gevul.

Na ’n warm stort en ’n piering melk vir die werfkat, sak ons neer op ons kooi en slaap die slaap van die dooies. Tot vroegoggend toe. Die gekwetter en getjirp van vele voëls dring ons blyplek uit elke hoek binne. Die bos-koor se beste gesange.

Na gisteraand se koningsmaal is dit vreemd, maar ons is al weer so honger soos wolwe. Die dat ons vinnig deur ’n louwarm stort spring en aantrek. Bokka rits ons voordeur oop en rol al die flappe voor die vensters op.

Voor ons stoep is daar ’n hele familie blou apies, boeties, sussies, niggies en newe. Hulle speel jaag-jaag op die grasperk en hol teen die boomstamme en takke uit. Die versoeking om hulle nader te lok, is vir my te groot en ’n pak springmielies uit ons noodvoorraad, is die antwoord.

Dis toe dat ape en eende van die rivierwal af aangehardloop kom in ’n naelloop en kwaak en skreeu om eerste by die lokaas te kom. Ek voel my gedwonge om skeidsregter te speel en die eende af te keer sodat die apies ook iets te ete kan kry. Heel verbaas dat die ape skrikkerig is vir eende.

Na ontbyt ry ons ’n draai die veld in en kom sommer gou op ’n kameelperd vlak teen die pad, af. Terwyl ons verder ry, vlieg ’n valk padlangs voor ons. Ons eie bos-gids. Hier kan mens nie praat van ‘soos die kraai vlieg nie’, nie as hulle padlangs hou nie. Ons sien ’n bok wat ons glad nie ken nie. Sy horings lê heel verkeerd en sy boude is spierwit.

Na al die baie reën, loop die rivier oor die bruggie en ons waag liewer nie kanse op die modderpaaie met Bokka se skedonkie nie. Mens het ’n rêrige viertrek nodig. Die veld is pragtig, vol kosmos en ander veldblomme. Lemmetjie groen rankplante wat teen boomstamme oprank. ’n Skouspel van vlinders in al die reënboog se kleure. G’n mens kan help om foto op foto op foto te neem nie.

Ons moet haas terugdraai, want daar wag ’n twee-uur massering op ons elkeen. Bokka is eerste aan die beurt, terwyl ek my leeswerk opvang. Met sy terugkeer is dit duidelik leesbaar in sy oë: ‘heerlik… heerlik… heerlik, maar gans te kort!’ Vinnig wikkel ek met die voetpaadjie af om ook die lekkerte te gaan beleef.

Ek word na ’n lendelam masseer kateltjie gewys en klim versigtig op. Selfs die egte nagemaakte leer omhulsel is verrinneweer en word met ’n helder gekleurde Afrika doek toegegooi. Dit steek sleg af by enige salon waar ons al voorheen was. Eish…Afrika.

Tog is die uitsig deur die venster sonder ’n ruit, ’n wonderskone tapisserie van die rivier en sy lowergroen oewer. Geen strelende klavier of ghitaarmusiek nie. Net die hoorbare geroep van ’n visarend, gekoer van bosduiwe en gefluit van ’n Piet-my-vrou. Hoeveel salonne kan daarmee meeding?

Betha het die fynste handjies, maar met brute spierkrag en gewone olyfolie, vryf sy die toksiene en ensieme uit elke spier in my liggaam. Totdat my vel gloei van die hitte. Dan pak sy warm klippe al langs my rugstring af wat my stadig verlam en smelt soos sagte klei, terwyl sy saggies oor my kop en gesig streel. Vandaar skuif sy eers na my hande en toe die voete. Vinger-vir-vinger en toon-vir-toon word ek in ’n magiese sensasie weggevoer.

Iewers vêr uit ’n grot hoor ek ’n sagte stem: ‘Madam…madam…we are finished…’ Ek sukkel om uit die beswyming te kom en die jellie-gevoel af te skud. Ek kry darem my oë oop en kan net baie saggies fluister: ‘Thank you so much.’

Sy gee ’n paar skoongeskropte rubber plakkies aan wat ek in die stort moet dra en ’n vars handdoek. Die hemelse geur van die stortseep, maak darem op vir gekraakte teëls, ’n mankoliekige lêwwie en barste in die wasbakkie.

Die tinteling van my vel, toetentaal ontspanne spiere en ’n vredevolle siel, maak dat ek oor die engelgesig Betha ’n wens uitspreek toe ek moet groet. ’n Opregte wens van seën vir haar en veral seën oor haar hande. Die kleine bruin handjies wat ’n moeë liggaam so heerlik verkwik met druk en vryf bewegings.

Ek sweef terug na ons tent chalet, waar Bokka vas aan die slaap lê en saggies spin soos ’n kat. Hy was so verlam deur sy massering dat nie eers die rugbywedstryd op Super-Sport hom kon wakker hou nie.

Skaars het ek hom wakker of die gegrom in die maag en aromas vanuit die eetsaal, dryf ons tot by ons tafel vir aandete. Sonder veel teëstribbeling. Ek bestel ’n bief en noedel gereg en Bokka ’n fillet en mieliepap. Net daar besluit ek dat ek môreoggend vir ontbyt mieliepap en melk sal eet, soos dit ’n Mzungu (blanke) in die bos betaam.

Die donkie was vroeg al gestook. Die stoom van die warm water en die rookwalms van buiteaf kolk onder die rietplafon. Die laaste wat ek onthou van hierdie dag, nadat die lig af is en die stikdonkerte van die bos om ons vou, is die acapella koor van paddas en krieke.

En die tevredenheid en kinderlike dankbaarheid in my hart vir hierdie seëninge. So onverdiend uit die Here se hand.

Word vervolg.




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed