
Alleen As Brandwag
Alleen as Brandwag
Ek staan hoog en skeef
op die rantjie met my
sywaartse geboë stamrug kleintyd gekrom
van onder uit die klippe te reik na sonlig en groei
en jarelange stryd teen onsimpatieke elemente
vir oorlewing, want ek het in dorre aarde ontkiem
en ek moes my staal teen onhoudbare
winterkoue, versengende hitte en stormwinde—
Ek het dit alles oorleef en staan nou
as volgroeide boom met my penwortel
diep in moederaarde se vogtigheid geanker
en my blaarsambreel ‘n bastionskadu vir almal—
Ek staan alleen as brandwag op die rantjie
en tuur oor die savannes en bossieveld
waar diere ongehinderd wei—
My stamtakke word kaal afgevreet daarom
die Pierneef sambreelkop, maar ek is so gelukkig
hier is altyd geselskap in my skaduwee—
Janetta – Helena [Babs] ©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Tannie Babs, jy skilder die mooiste woordskilderye!